Misleiding oor Sondag

IC, Worcester

Ek het vandag op julle website afgekom en kan nie genoeg kry van al die inligting daarin nie! Dit is wonderlik om te sien dat daar veel mense oor die hele land is wat terugkeer na die Woord en Vader se oorspronklike bedoeling met aanbidding.

Na vele bid, Bybelstudie en oplees, het ek en my man besef die Sabbat is die ware dag waarop ons moet rus en God aanbid. Ons het dit nou al vir 2 keer gedoen en dit kos aanpassing na al die jare se misleiding oor die Sondag. Dis al meer as ‘n jaar wat ons nie meer Sondae kerk toe gaan nie, omdat ons besef het iets kort, maar tot nou toe nie geweet het wat dit is nie. Hierdie is vir ons baie nuut en vreemd, maar ons harte is opreg op soek na die waarheid. Gelukkig het ons wonderlike bure wat verder as ons op die pad geloop het en bietjie kan help as ons vrae het.

Ek sien julle kom Saterdae bymekaar. Kan ons die adres (en ‘n padkaart as dit moontlik is) en die details kry vir indien ons dalk ‘n keer daar kan besoek aflê? Dit sal wonderlik wees om kontak te maak met nog gelowiges wat die ware weg volg.

‘n Vraag: Presies hoe word die Shabbat gevier? Die Skrif sê mens moenie van jou huis weggaan nie – kan mens dan nêrens heen ry nie?

Kommentaar

Dankie vir jou email en openhartige getuienis. Dis elke keer vir my besonders om te hoor dat nog iemand met opregte hart begin wegdraai van die leuens wat ons van leermeesters geërf het (lees gerus in hierdie verband Jer 16:19) en in alle erns die waarheid begin soek. Die Sabbat of Shabbat is ‘n wonderlike plek om te begin.

Julle is baie welkom om enige tyd by ons te kom inloer. Ek stuur verduideliking hoe om hier uit te kom …

Daar is nie in die Skrif ‘n voorskrif hoe om die Shabbat te vier nie. Ek meen dat ons die vryheid het om dit op enige manier deur te bring wat reg laat geskied aan die beginsels van rus en verkwikking (liggaamlike en geestelike herstel) en dat ons moet waak daarteen om dinge op die Shabbat te doen wat spesifiek deur die Skrif verbied word (soos kosmaak, vuurmaak, werk verrig (beproepswerk of enige uitputtende aktiwiteit) en koop en verkoop. Die voorskrif in Ex 16 dat die volk op die Shabbat nie van hulle huise moes weggaan nie, is myns insiens nie ‘n algemene “reël” vir alle Shabatte nie (want een van die ander voorskrifte van die Woord is dat daar op die Shabbat na die byeenkomste van die gelowiges gegaan moet word), maar was bedoel vir die spesifieke situasie in die woestyn – niemand moes hulle huise verlaat en probeer om manna te gaan optel nie, want hulle sou niks kry nie. Ek meen ry op die Shabbat (binne perke) is in orde – solank dit nie uitputtend is en jou die geleentheid ontneem om te rus nie.