Die betekenis van VERVUL

LH, Gauteng

Ek het nog nie weer op julle webblaai ingegaan nie, ons het die laaste jaar ‘ Torah ‘ gelees en om die waarheid te sê probeer verstaan. John hoe meer ek in Matityahu lees, hoe meer sien ek dat daar staan dat Messias gekom het om te vervul, maar dan is daar verse wat daar staan Hy het nie gekom om die Torah weg te neem nie, maar om te vervul. Ons verstaan nie so lekker nie. Baie van die dinge wat in die Torah is was gegee aan die volk Yisra’el. Baie van daardie dinge was ‘Joods’ en baie van dit kan ons wat Vader se wil graag wil doen, nie toepas nie. So hoe weet ‘n mens watter gedeeltes van Torah dan nou vervul is en watter nog toegepas moet word?

Shaul sê aan die Profete om nie die heidene te bemoeilik nie, om nie ‘n juk op hulle skouers te plaas nie, want die ‘Joode’ self kon nie voldoen aan die Torah nie.

Dan lees ek ook hoe Messias hulle uitwys as geveinsdes en dat hulle, hulle eie wil doen en nie die wil van Vader nie. Nou ons het probeer om volgens Torah te leef en dit het al hoe meer begin voel of ons Joods word. Ons het selfs begin ‘kosher ‘ eet, totdat die vleis nie vir ons op standard was nie en totdat ons begin vra het, is dit van toepassing op ons.

Ons verstaan nie en sal graag julle raad wou hê, hoe ons Vader se wil kan uitleef en wat van toepassing is op ons. Hoop julle kan ons help, dit is so eensaam as ‘n mens die pad van Vader loop en jy het nie medegelowiges naby nie.

KOMMENTAAR:

Daar is twee opmerkings wat ek graag wil maak. Die woord “vervul” beteken NIE dit wat baie van ons leermeesters ons voorheen geleer het nie. ‘n Mens verstaan dit die beste as jy die woord “vervul” met “doen” vervang. Met ander woorde Messias het nie gekom om die Torah te ontbind (of af te skaf of weg te gooi) nie, maar om dit te DOEN (of uit te voer of daarvolgens te leef).

Die tweede opmerking is dat ons ook die Torah moet vervul (of moet DOEN). Daar word egter ‘n duidelike onderskeid in die Nuwe Verbond getref tussen die manier hoe die Jode die Torah vervul (of vervul het) en hoe die nie-Jode die Torah moet vervul. Dis dieselfde Torah – met dieselfde etiese beginsels en dieselfde verstaan van geregtigheid en dieselfde openbaring van die Vader se plan vir hierdie wêreld. Maar daar word NIE van nie-Jode verwag om dieselfde rituele (soos besnydenis, tsit-tsit, wassinge en ander reinheids bepalings) na te kom nie. Die MORELE ASPEKTE van die Torah geld egter vir Jode en vir nie-Jode wat Yahweh graag wil eer en gehoorsaam. Sekere formele aspekte van die Torah (soos dit wat met die tempel en tabernakel te make het, asook sekere wetlike aspekte wat net in die woestyn gegeld het) kan nie meer vandag nagekom word nie – nie deur Jode nie en ook nie deur nie-Jode nie. Beteken dit die Torah moet nou afgewater word? Nee, beslis nie. Elkeen van die dieper dimensies van die Torah (die beginsels van geregtigheid wat Yahweh self neergelê het en wat dus nooit kan verander nie) geld nog steeds. Die beginsel van rein en onrein kosse geld nog steeds (wat NIE al die Kosher wette insluit wat die Jode later bygevoeg het nie). Die Shabbat geld nog steeds. Die feeste geld nog steeds. Die tien gebooie, en elke ander gebod wat een of ander morele waarde na vore bring, geld nog steeds. Die oorkoepelende beginsel van om Yahweh bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself, geld nog steeds.

Ons hoef nie ons koppe te breek oor die kleiner, tegniese detail van die Torah wat destyds met die oog op die lewe in die woestyn gegee is nie. Maar ons moet Yahweh vra om ons harte oop te maak vir elke enkele beginsel van geregtigheid wat daarin opgesluit lê. Byvoorbeeld, ons moenie probeer om Ex 21:6 op die situasie van vandag oor te dra en ons huishulp se oor met ‘n els deurboor nie. Maar ons moet die beginsel waaroor dit gaan in Ex 21 nog steeds toepas: As daar iemand vir ons werk, moet so ‘n persoon op ‘n gereelde basis van diens vrygestel word, sodat hy/sy ook aan hulle eie sake kan aandag gee.

Hoop hierdie verduideliking help so ‘n bietjie. Maak gerus weer kontak as daar nog steeds verwarring en onsekerheid is.