Kerklike Belydenisskrifte

MH, Weskaap

Kan jy asb. kommentaar lewer op die volgende belydenis formuleringe: “Ek glo in die drie-enige God,Vader,Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wereld af tot die einde toe.”

“Ek glo ook aan een heilige Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag. ”

Kommentaar

Die begrip “Drie-enige God” is volledig ‘n skepping van die (aanvanklik Roomse) kerk deur die eeue, dit is nie ‘n begrip wat in die Woord voorkom nie. Dit het veral beslag gekry in die derde, vierde en vyfde eeu ná Messias – en daar is konsensus onder ‘n steeds groterwordende aantal Skrifkenners dat dit méér sê as wat die Skrif sê en nie die suiwer en duidelike boodskap weerspieel dat Yahweh EEN is nie. As ons glo dat Yahweh, die enige, unieke en onvergelykbare Elohiem, Skepper van hemel en aarde en Onderhouer van al wat leef, op die vooraf bestemde tyd sy Seun, Y’shua, as volwaardige mens na die aarde gestuur het om die reddingsplan wat Hy as Y’shua se hemelse Vader (en ook Y’shua se Elohiem) aan Hom opgedra het, te voltrek, is ons geloof myns insiens in pas met wat die Woord aan ons beskryf. Niks meer en niks minder nie.

En as ons glo dat hierdie selfde Elohiem, Yahweh, (reg van die begin af, maar op ‘n besondere wyse ná die geboorte, dood, opstanding en verhoging van sy Seun, Y’shua die Messias) van sy eie Gees op mens uitgestort het, of in mense ingeblaas het, om hulle sodoende toe te rus en sterk te maak (omdat hulle nou iets van Homself in hulle het, net soos wat Y’shua ook [van] die Gees van Yahweh in Hom gehad het), is ons geloof gebaseer op die Woord en nie op ‘n leerstuk van die kerk nie. Ons hoef nie van die Gees van Yahweh ‘n afsonderlike Persoon te maak nie, want die Skrif probeer dit nie doen nie, net so min as wat die Skrif probeer te kenne gee dat die mens se gees ‘n afsonderlike persoon is wat losstaande van die mens self, funksioneer.

Ek is maar taamlik skepties vir die woord “kerk”. Dit is nie ‘n goeie vertaling van die woorde wat in die Skrif as beskrywings vir die uitverkorenes van Yahweh gebruik word nie. Boonop is daar goeie rede om te vermoed dat hierdie woord “kerk”, na sy oorsprong, moontlik verband hou met die woorde “circe” en “kirke” wat dui op ‘n sirkel (soos in die son) – ‘n woord wat baie sterk in die sonaanbidding kultus gefunksioneer het en selfs die naam van die dogter van die songodin “Helios” was!

Daarby is “heilig” ook ‘n woord met ‘n bedenklike herkoms (kom van “halo” en “holi” wat ook tot die kader van sonaaanbidding behoort) en ons verkies die woord “afgesonder” wat presies weerspieel wat die Hebreeuse en Griekse woorde in die Skrif probeer weergee. Ons moenie vergeet nie dat toe die Christelike geloof sy moderne beslag gekry het – ongeveer in die vierde en vyfde eeu ná Messias – was die meerderheid van mense wat die Christelike geloof aangeneem het, voorheen sonaanbidders, Konstantyn inkluis – en ons weet watter belangrike rol hý in die vormingsjare van die Christelike geloof gespeel het. Talle woorde en gebruike en tradisies is uit die milieu van sonaanbidding oorgeneem en (soms met geringe aanpassinkies) in die Christelike geloof ingedra – ter wille daarvan om die “nuwe” geloof meer aanvaarbaar vir die jong bekeerlinge te maak. Vir my is dit van die grootste belang dat ons ons geloof, en selfs ons geloofstaal, van hierdie onskriftuurlike elemente sal suiwer – dat ons dieselfde taal as die profete en die apostels, en die Messias self, sal praat en op dieselfde belydenis grondslag sal staan.