Etikette en Benaminge

JS, Adres Onbekend

Mense vra gereeld vir my wat noem julle julleself as julle nie jode of christene is nie wat is julle Dan? ‘n Ruk terug vra iemand watter rol vervul die menorah in ons geloof end wat is die betekenis daarvan slegs in n paar sinne ASB.

KOMMENTAAR

Snaaks dat mense so graag ‘n etiket soek wat hulle op hulleself of op mense wat anders as hulle dink, kan plak. Persoonlik distansieer ek my van die benaming “christen” omdat dit lankal nie meer ‘n suiwer verwysing na Skrifgetroue volgelinge van die Messias is nie. Die gelowiges in Antiochië is destyds só genoem (nie deur hulleself nie, maar deur andere – Hand 11:26), maar die benaming “christen” het daarna geleidelik sinoniem begin word met ‘n geloofspad wat aansienlik verskil van die geloofspad wat die vroeë volgelinge van die Messias geloop het. Ek gee nie om as iemand my ‘n “Messiaanse gelowige” noem nie. Net so gee ek ook nie om as my geloofspad op een of ander manier met die Torah of met die Hebreeuse wortels van die geloof verbind word nie. Volgens die Skrif beteken die feit dat jy erns maak met die Torah egter nie noodwendig dat jy ‘n Jood is nie. As nie-Jode het ons egter deel gekry aan dieselfde erfenis as die Jode, sodat ons nie meer vreemdelinge en bywoners is nie, maar medeburgers van die afgesonderdes en huisgenote van Elohiem (Efes 2:19).

Die menorah (soos talle ander simbole en bybehore waarvan ‘n mens lees in die Torah) is besonder ryk aan betekenis en kan kleur en diepte en betekenis aan ons geloof verleen sonder om dit as ‘n “verpligting” of “amptelike simbool” van ons geloof te verhef. Ons behoort in gedagte te hou dat simbole soos die menorah eintlik binne die konteks van die tempel (of tabernakel) gebruik is en dus nie wetlik (en soortgelyk as in Mosheh se tyd) in ons eie, moderne tyd (waarin daar nie ‘n tempel is), kan funksioneer nie. As ‘n groep gebruik ons egter die menorah gereeld en dit dien vir ons as ‘n voortdurende herinnering dat slegs Yahweh (deur sy Seun) ware lig in ‘n mens se lewe kan bring.