Is dit die moeite werd?

RS, Pretoria

Ek is eintlik bang om te vra, want dit voel so verkeerd, maar miskien moet ek maar reguit vra
waaroor ek wonder eerder as om dit stilletjies te wonder en nooit die antwoord te kry nie……..

Ons wonder of dit als saak maak. As die weg na die ewige lewe is dat jy glo dat die Verlosser vir jou sondes gesterf het, maak dit regtig saak wat die korrekte uitspraak van Sy naam is? Maak dit saak of ek die regte dae feeste vier? Is ons nuwe opdrag nie om vissers van mense te wees en eerder die boodskap van die verlossing na mense te neem en vir ons medemense om te gee as om te poog om die Ou Testamentiese tradisies na te volg en in die proses te ‘vergeet’ van die nuwe opdrag nie. Is dit die moeite werd om van jou vriende en familie vervreem te word (wat ook aan die verlossing deur die Seun glo)?

Vir myself antwoord ek die vraag – dat ek dit als sal en wil doen uit eerbied en respek vir my Vader. Maar gebeur dit ten koste van? Is dit nie die boodskap wat die Seun juis vir die fariseërs gebring het nie, dat hulle te veel fokus om die wette en vergeet van die mense daarbuite wat nie eens weet van die verlossing nie? As ek reg verstaan het die tradisie om nie die Naam van die Vader te gebruik nie reeds ‘n tydperk voor die geboorte van die Seun begin, … sou ons Verlosser nie dan juis dit pertinent vir ons uitgeklaar het nie? Hoekom gebruik die dissipels nie die Naam van die Vader in hulle skrywe nie (of doen hulle?)?

Ek dink ek vra maar net weer vir rigting. Bid asseblief vir ons dat ons by die regte plek sal uitkom en dat ons met volharding hierdie pad sal stap.

Kommentaar

Dankie vir julle email en die openhartigheid om te deel wat op julle harte is. Die vrae wat julle stel raak ‘n hele spektrum van dinge wat alles baie belangrik is vir ons geloofswandel – ook belangrik, doodeenvoudig net vir die gemoedsrus dat ‘n mens nie met ‘n “wildgoose chase” besig is nie.

Meeste van ons aan hierdie kant het ook met dieselfde dinge gestoei en (in sommige gevalle: oor ‘n lang tydperk) by antwoorde probeer uitkom. Ek sal probeer om iets van dit wat oor ‘n tydperk van sewe jaar vir ons uitgekristalliseer het en rustigheid gebring het, met julle te deel.

Miskien moet ‘n mens begin by dit wat ons almal gereeld van kleins af gehoor het en wat julle in die tweede paragraaf as vertrekpunt noem: “As die weg na die ewige lewe is dat jy glo dat die Verlosser vir jou sondes gesterf het …” Hier is myns insiens alreeds ‘n probleem – nie by júlle nie, maar in die verdraaide en selektiewe manier hoe ons almal in die verlede hierdie boodskap gehoor het en dus ook geglo het. Dis min of meer híér waar die halwe waarhede en onwaarhede wat ons geloof in die verlede binnegedring het, begin. Almal wat hulleself met die Christendom vereenselwig, glo dat die Verlosser vir hulle sondes gesterf het. Volgens die Skrif is daar egter nie ‘n manier dat al hierdie mense die ewige lewe sal ontvang nie.

Daar is sover ek weet drie mense wat vir Y’shua gevra wat hulle moet doen om die ewige lewe te verkry: die ryk jongman (Matt 19); die wetgeleerde (Luk 10) en die owerste (moontlik dieselfde persoon as die ryk jongman – Luk 18) en vir al drie het die Meester gesê: Onderhou die gebooie. Vir Nakdimon (Nikodemus – Joh 3) het hy gesê om te glo in die Seun en weergebore te kan word en die koninkryk te kan beërwe, moet ‘n mens die waarheid doen en na die lig toe kom (vers 21). Daar is talle ander gedeeltes in die Nuwe Verbond (om nie eens van die Ou Verbond te praat nie) waar dieselfde boodskap oor en oor na vore kom: slegs hulle wat die Woord / woorde van Yahweh hou, wat gehoorsaamheid najaag, wat die wil van die Vader doen, ensovoorts, sal die ewige lewe of die koninkryk van Yahweh beërwe (Matt 5:17-19; Matt 7:21; Matt 12:50; Luk 6:47; Luk 11:28; Joh 13:17; Joh 14:15; Joh 14:24; Joh 15:10; Jak 1:25; 1 Joh 5:3; 2 Joh 1:6; Openbaring 22:14 – Ou Afrikaanse vertaling, Scriptures of Woord en Getuienis – verkeerd vertaal in Nuwe Afrikaanse Vertaling).

Sewe keer in Openbaring word dit herhaal: Hulle wat aan die einde sal oorwin, is hulle wat sal vashou aan die Woord / Gebod van Yahweh EN die getuienis van Y’shua (1:2; 1:9; 6:9; 12:17; 14:12; 15:2-3 en 20:4). Shaul (Paulus) lê baie klem op die feit dat ons net uit guns gered sal word en nie deur verdienste nie (wat natuurlik heeltemal WAAR is en veral gemik was op diegene in sy tyd wat op die blote uiterlike onderhouding van die Torah staatgemaak het), maar verklaar uitdruklik dat sy boodskap in geen opsig afwyk van die boodskap van die Messias nie. Vandag probeer teoloë vir ons wysmaak dat Shaul se boodskap ‘n “opgradering” van die Messias se boodskap was en dat hy sy rug op die Torah gedraai het. ‘n Mens kan nogal hierdie subtiele leuen verstaan as jy ag slaan op die waarskuwing van Kefa (Petrus) in 2 Pet 3:14-18, oor “ongeleerde en onvaste mense” wat as gevolg van die “delusion of lawlessness” (The Scriptures) die Skrifte (en by name Shaul se geskrifte) verdraai tot hulle eie verderf. Die woord “Torah” beteken in werklikheid “lering” en kom van ‘n werkwoord wat beteken: “to flow as water”. Enige een wat die leringe van die Almagtige verontagsaam, sal begin wegkwyn as gevolg van ‘n tekort aan die verkwikkende en lewe-gewende water wat net van ons hemelse Vader af kom. Shaul was nie so dom om dit te doen nie (daarom haal hy talle kere in sy briewe gedeeltes uit die Torah aan en beklemtoon dikwels dat hy nooit sy rug op die wet en die profete gedraai het nie, bv. Hand 24:14; 26:22) en ons sal ‘n groot fout maak as ons dit doen.

Dis ‘n lang aanloop, maar ek dink dit sal lig werp op sommige van julle vrae. Wat die Vader en die Seun se Name betref, ek dink nie ons moet hare kloof oor moontlike verkeerde uitspraak nie, maar dat ons moet waak teen die moontlike vervalsing en verandering en verarming daarvan, is seker. Die Jode het reeds in die Messias se tyd die gebruik gehad om die Vader se Naam te vermy en plaasvervangende name te gebruik, maar dis taamlik seker dat die Messias nie hierdie gebruik gevolg het nie. Dis moeilik om te weet watter Naam of titel Hy of sy dissipels in elke geval gebruik het, omdat die Griekse teks wat ons tot ons beskikking het, eers omtrent 300 jaar, of meer, ná die aardse bediening van die Messias, geskryf is en deurgaans die Griekse “theos” gebruik om na die Vader te verwys. Wat ons wel weet, is dat die Messias beslis die Vader se Naam gebruik het (bv. die drie aanhalings uit Deuteronomium tydens sy versoeking in die woestyn bevat elkeen die Naam van die Vader, so ook talle van sy ander aanhalings uit die Ou Verbond; en die manier waarop die skare en die Messias self die profesie van Ps 118:26 (Geseënd is Hy wat sal kom in die Naam van Yahweh…) by herhaling aangehaal het (Matt 21:9; Matt 23:39; Mark 11:9; Luk 13:35; Luk 19:38 en Joh 12:13). Dit sou geen sin maak as “ander” naam in hierdie gevalle gebruik is nie. Die grootste bewys dat Y’shua wel die Vader se Naam gebruik het, vind ons egter kort voor sy teregstelling, toe Y’shua teenoor die hoëpriester iets gesê het en laasgenoemde sy kleed geskeur het en uitgeroep het: Wat het ons nog meer getuies nodig! (vgl. Matt 26:65; Mark 14:63) Joodse geskrifte verduidelik wanneer ‘n hoëpriester sy kleed sal skeur tydens ‘n verhoor: Slegs wanneer die beskuldigde letterlik die Naam van die Allerhoogste uitspreek!! Dit het vir die hoëpriester die knoop deurgehaak – en ten diepste is dit die rede (of die valse grond) waarom die Messias tereggestel is: omdat Hy “gelaster” het deur die Allerhoogste se Naam uit te spreek!

Ek dink die grootste probleem met meeste van hierdie dinge is dat ons terugdeins daarvoor omdat dit so direk indruis teen die bekende en die aanvaarde en die gebruiklike. Dit kan net reggestel word “ten koste van …”, soos julle nou ook uitgevind het. Daar is hoë “koste” oftewel ‘n “prys” daaraan verbonde. Y’shua het juis vir sy volgelinge gesê hulle moet die koste bereken. Daar is “koste” daaraan verbonde om Hom werklik te volg en dus met ander (selfs jou eie familie) in botsing te kom. Maar is hierdie koste op te weeg teen wat dit ‘n mens gaan “kos” as jy die ewige lewe misloop? En is dit te vergelyk met die “beloning”, die “seën”, en die “shalom” wat die Woord belowe aan diegene wat voorheen nie geweet het nie, maar toe hulle eers die skat in die saailand ontdek, het hulle met blydskap gegaan, alles verkoop wat hulle gehad het en die saailand gekoop (Matt 13:44)?

Ek dink julle doen die regte ding om die Skrif eers te bestudeer en te bid dat die Vader sy wil aan julle sal openbaar. Sy wil is nooit teenoor of anders as die Skrif nie. Die mense rondom julle mag dit goed bedoel, maar hulle sal nie noodwendig help dat julle die Skrif reg hoor nie. Ek glo dat die Vader júlle voorberei om ander te help om die Skrif reg te hoor. Hy soek “geoefende” vissers van

mense wat ander mense, soos in ‘n net, by Hom, en by sy Woord, versamel, nie “triggerhappy” hengelaars wat “halwe waarhede” vir aas gebruik nie. Op die oomblik wil Hy vir julle liefde en ‘n dieper kennis van sy Woord leer wat juis sal maak dat julle self nie verstrengel raak nie, maar ook ander kan help om meer van die waarheid te ontdek wat ‘n mens waarlik vrymaak.