Hoe behoort ons die feeste te hou?

WB, Worcester

Ons probeer hierdie jaar ekstra hard om die feeste te hou volgens die voorskrif in die Torah. Maar
ons het ‘n meningsverskil oor of ons hierdie week in tente behoort te slaap, en of die sukkoth as
een van die drie feeste wat in Jerusalem gevier moet word, beteken dat die tentslaap net daar
moet gedoen word. Ons wil nie soos Nadav en Avihu iets probeer reg doen, en eintlik droogmaak
deur van die voorskrifte af te wyk nie. Ek wil nie jou tyd opneem nie, maar het sommer gewonder
wat jou siening/interpretasie is.

Kommentaar:

Ek glo werklik julle sal dubbel en dwars beloon word (ook in terme van insig en sekerheid oor die geloofspad van die Skrif) vir die besluit om die feeste voluit te hou. Die belangrikste vir my in hierdie opsig bly nog steeds die blote feit DAT ‘n mens die feeste ernstig opneem, nie soseer HOE ‘n mens dit inkleur nie. Feit bly staan: ons kan dit eenvoudig nie net so hou soos Israel dit in die dae van die tempel en die offers gehou het nie. Omdat die Skrif egter so duidelik daaroor is dat die feeste se waarde en betekenis teruggaan tot by die skepping, maar terselfdertyd ook vooruit strek tot in die toekomstige millennium, en daarná, behoort ons alles in ons vermoë te doen om dit te onderhou en íéts (so veel as moontlik) van die simboliek daarvan te beleef. Die feit dat ons nie meer vandag Jerusalem toe kan gaan vir die feeste nie (selfs al kan ons daar uitkom, wat gaan ons daar maak?) beteken nie dat ons die feeste, en sekere uitvoerbare aspekte van die feeste moet nalaat nie (soos bly in tente tydens Huttefees; vas tydens Yom Kippur; Shofars blaas op Yom Teruah; wegdoen met suurdeeg tydens Ongesuurde Brode; ensovoorts). Daar is genoeg aanduidings in die Skrif dat baie van die belewenisse van Israel rondom die feeste niks met Jerusalem en die tempel in Jerusalem te make gehad het nie. Nadav en Avihu was ongehoorsaam ten opsigte van die diens in die tempel self (“vreemde” vuur in plaas van die vuur wat Yahweh voorgeskryf het) – ek dink nie dis van toepassing op die situasie vandag waar gelowiges besef dat hulle nie meer die feeste op presies dieselfde manier as Israel in die verlede kan hou nie, maar tog die begeerte het om Yahweh te eer deur sy vasgestelde tye op een of manier te hou.