Het die kerk Israel vervang?

BP, Location Unknown

Ek is nie seker waar om te begin nie – ek het so baie vrae. Ek het grootgeword in die NG kerk – is nog steeds n aktiewe gemeentelid. Ek het onlangs n boek gelees van Joel Richardson (Wanneer n Jood die wereld regeer) – en ek is totaal stomgeslaan… ek is nie seker wat om te maak met die inligting daarin nie. Ek het begin rondkrap op die internet en op jou afgekom, en het gewonder … eindlik weet ek nie wat ek gewonder het nie … ek is net deurmekaar. Die boek gaan oor vervangingsteologie waarmee ons grootgeword het in ons kerke en hoe verkeerd dit is. Ek voel ek moet met iemand praat hieroor want dit is asof my hele fondasie onder my uitgeruk is. As jy enige voorstelle het of verdere boeke wat ek kan lees sal ek dit baie waardeer.

KOMMENTAAR

Dankie vir jou briefie en jou openhatigheid. Ek ken nie die boek waarna jy verwys nie, maar weet beslis van die skade wat die vervangingsteologie in baie van ons lewens aangerig het. Daar is myns insiens selfs nog méér aspekte as net hierdie een, waarin meeste erkende kerke die Woord verlaat of verdraai, of nie heeltemal eerlik met hulleself en hulle gemeentelede is nie. Ek wil voorstel dat jy nog ‘n bietjie rondkyk op ons webblad en miskien terugkom na my met spesifieke temas waaroor jy graag meer sal wil weet. Ek sal probeer om te help waar ek kan. Alhoewel ek nou reeds langer as 20 jaar nie meer aan die NG kerk behoort nie, ken ek die agtergrond en algemene denkwyse van die kerk baie goed.