Kan ‘n mens Paulus vertrou?

GA, Gauteng

Ek het ‘n vraag en wil graag ‘n eerlike antwoord hê. Daar is ‘n tendens onder Yahweh se mense deur te sê dat Paulus (Shaul) Torahloos was en dat hy heidense afgode erken het. Ek sien dit nie so nie, hy het wel gesê dat hulle afgode baie mooi lyk ens., maar dan het hy gesê sy God soos hy Yahweh sou noem is baie groter en baie sterker as hulle gode. Sou hy hulle afgode veroordeel is ek seker dat hulle hom dadelik sou gedood het. Hy moes met draaie en swaaie die Woord aan hulle verkondig. Nie almal het hom in elk geval geglo nie en hy is gespot en weggejaag, maar daar was tog ‘n paar verlore skape en andere wat geluister het en hom geglo en gevolg het. Dan eers kon hy en die ander gelowiges hierdie persone wat uit die heidense sisteem gekom het leer van Yahweh Yahshua, die Ruach, Torah en nog meer. Ek glo dat Shaul die Torah streng nagekom het. Wat is volgende, gaan hierdie persone dalk volgende sê dat Yahshua ook Torahloos was? Dit is immers Yahshua wat Shaul geroep het om die waarheid te gaan verkondig. Sulke mense moet pasop dat hulle, hulleself nie onder die las van die wet plaas nie. Om die wet of eerder die liefdesinstruksies te volg is nie ’n las nie.

KOMMENTAAR:

Paulus (of Shaúl) kom deesdae erg onder die spervuur en daar is sommiges wat selfs nie bereid is om sy briewe as deel van die oorgelewerde “Skrifte” te aanvaar nie. Ons hoef Shaúl natuurlik nie op ‘n troontjie te plaas nie, maar daar is by my geen twyfel dat hy (en sy geskrifte) oor eeue heen ‘n uitverkore instrument in Yahweh se hand was nie. Die mense wat so fout probeer vind met hierdie apostel, vergeet al te maklik dat elkeen van die skrywers van die ander boeke van die Skrif ook net mense was en ook hulle foute gehad het. Yahweh kan ‘n reguit hou met ‘n krom stok slaan en dit is presies wat Hy oor die afgelope 2000 jaar gedoen het.

Oor die verskillende variasies van die Name van die Vader en die Seun kan ‘n mens seker baie skryf. Ek dink nie dat ‘n mens absolute sekerheid oor die presiese uitspraak van enige van hierdie twee Name kan hê nie (wat uit die aard van die saak nie as verskoning gebruik mag word om die Name te verwerp nie!). Die probleem vir my is dat baie mense dogmaties en selfs eksklusief hieroor raak en uitsprake maak soos “so-en-so is die ENIGSTE korrekte uitspraak” of “as jy nie hierdie SPESIFIEKE Naam gebruik nie, sal jy nie die volle seën van die Vader geniet nie”, ensovoorts. Dit is kleinlik, om die minste te sê. As iemand die Vader graag by sy Naam wil noem, maar verkies om ‘n ander Naam te gebruik as wat ek self verkies, gaan ek my nie daaroor verknies nie. Ek ken egter mense wat elke nou en dan hulle voorkeure t.o.v. die uitspraak van die Naam verander, afhangende van hoe die “wind” daarbuite (oor die internet, ensovoorts) waai en sodoende oneindige verwarring saai. Die Name “Yahweh” en “Y’shua” het oor baie eeue inslag in baie opregte gelowiges se harte gevind en daar is geen rede waarom ‘n mens hierdie Name moet “omruil” vir ander Name wat ook maar in ‘n wolk van onsekerheid gehul is nie.