Om te eet of nie te eet nie

EK, Western Cape

Kan jy asb vir my, volgens die Woord, aandui wat ‘n mens veronderstel is om in die volgende situasie te doen: ons word genooi vir aande-ete by gelowige vriende (hul is nog in NG kerk) saam met ander gaste en daar sit die gasvrou vir ons vark voor – klaar in jou bord m a w daar was nie ‘n moontlikheid om net van die bykosse te skep nie. Wat verwag die Vader van ons hier? Moet ek dadelik sê ek eet dit nie of moet ek my gasvrou in ag neem, die vark eet en dan daarna, wanneer ons alleen is vir haar verduidelik hoekom ek nie vark eet nie? Dis so moeilik want hierdie is nie ongelowige mense nie, hul verstaan net nog nie! Die kere wanneer ek bv oor die feeste, ens met hul gesels het, het hul dit afgemaak soos hul in die kerk geleer word – geloof/genade is genoeg, ons hoef nie te “doen in gehoorsaamheid” nie.

KOMMENTAAR

Ek moet eerlik bely dat ek nie vir jou ‘n klinkklaar antwoord het nie. Ons almal weet hoe belangrik gehoorsaamheid aan die Woord is. Maar om die mense rondom ons met die krag en die waarheid van die Woord te bereik, is net so belangrik! Hoeveel mense het nie al vir my gesê dat hulle niks met Messiaanse of Torah-verwante groepe te make wil hê nie, omdat hulle liefdeloosheid en ‘n gesindheid van veroordeling daar aangetref het. Almal van ons behoort baie sterk hierteen te waak, ter wille van die eer van ons hemelse Vader! Dus, watter besluit ‘n mens ook al in so ‘n situasie neem, die gesprek agterna (of vooraf) is van wesenlike belang! Dis met daardie gesprek dat jy vir jou vriende op ‘n nederige manier wys dat jy nie dink jy is beter (of “heiliger”) as julle nie, maar dat jou nuutgevonde insig in die Woord jou nie toelaat om varkvleis te eet nie. En dan moet mens, glo ek, seker maak dat mense wat jou in die toekoms vir ete nooi, bewus is daarvan dat daar sekere bestanddele is wat jy nie om geloofsredes nie kan eet nie. Hoop dit help so ‘n bietjie.