Eindtyd

HB, Hoopstad

Mag ek jou pla asseblief, ons is ook maar besig met die eindtyd, en wil graag by jou die volgorde vra van hoe dinge gaan gebeur met die einde. Ons beweer nie dit gaan nou enige tyd plaasvind nie, maar wil dit ook maar graag weet.

Kommentaar

Net kortliks soos wat ons dit verstaan (laat weet maar as jy verdere vrae het):

1. Tyd van groot verdrukking – moontlik drie en ‘n half jaar (te midde van verskerpte optrede van Antimessias en groter intensiteit t.o.v. oorloë, aardbewings, ensovoorts). Gelowiges opgeroep om te volhard tot die einde; Yahweh belowe dat Hy hulle sal bewaar (wat ook kan insluit: verlossing uit hierdie wêreld deur die dood).

2. Messias se koms, opstanding van gelowiges, herskepping van gelowiges om onverganklike liggame te ontvang – vereniging van gelowiges met Messias vir altyd.

3. Aanbreek van die “Dag van Yahweh” – ‘n periode (moontlik vanaf Trompettefees of vanaf Yom Kippur tot die aanbreek van Huttefees) waarin Yahweh sy toorn op die aarde uitstort weens sonde, ongeregtigheid en ongehoorsaamheid (nog nie die finale oordeel nie) – gelowiges in die Messias word nie hierdeur geraak nie. Die groot stryd van Openbaring 19 vind moontlik ook in hierdie periode plaas. Satan gebind.

4. Aanbreek van die duisend jaar van vrede, ook genoem die koninkryk van Elohiem, waartydens mense en nasies op die aarde sal lewe en aan Yahweh se volmaakte koninkryk beginsels onderwerp sal word. In hierdie tyd word die tempel in Jerusalem moontlik herbou en ‘n vorm van offerstelsel weer in ere herstel (nie om versoening vir mense se sondes te doen nie, maar om Yahweh daarmee te vereer). Y’shua heers as Koning en Hoëpriester en sy gelowiges (met opstandingsliggame, soos die boodskappers/engele) saam met Hom.

5. Satan word vir ‘n kort tydjie losgelaat in die laaste gedeelte van hierdie periode. Die tweede opstanding vind hierna plaas en die Finale Oordeel word voltrek (gelowiges van die eerste opstanding nie hieraan onderworpe nie).

6. Openbaring van die Nuwe hemel en nuwe aarde – Yahweh se “agste dag” – Openbaring 21.