Onrein kosse in die Skrif

DP, Australia

Jammer ek pla so, ek wil graag weet of daar sekere kosse is wat mens moet eet ensvoorts. My dogter hier in Australia het van julle gehoor toe sy nog in SA was. Ons het gepraat oor koor danse wat sy daar gesien het? Wil ook graag weet is julle sabbat van die Vrydag na son onder?

KOMMENTAAR

Jy kan gerus maar vra! Die Skrif dui aan dat daar sekere soorte diere, voëls en seediere is wat nie geëet mag word nie en dis ons oortuiging dat nie die Skepper, of sy Seun, ooit hierdie verbod opgehef het nie. Mens kan lees hiervan in Lev 11 en Deut 14 (belangrikste hiervan vir ons: enige vorm van vark en enige soort seekos wat nie beide skubbe en vinne het nie). Een van die groot punte van verskil tussen die tradisionele kerke en meeste groepe wat hulle skaar by die Messiaanse beweging (wat in sy suiwerste vorm, ‘n beweging terug na die oorspronklike Woord is), is dat die tradisionele kerke glo Y’shua die Messias het die wet kom vervul (in die sin van: ons hoef dit daarom nie meer te hou nie), terwyl ons tot die oortuiging gekom het Y’shua het beslis die wet kom vervul (in die sin van: hy het dit gedoen en onderhou en nie een aspek daarvan geskrap nie, en daarom behoort ons as sy volgelinge dit ook só te onderhou). Jy is reg, die Sabbat of Shabbat behoort vanaf Vrydagaand sonsondergang gehou te word. Ons het geen probleem met koordanse nie, maar ons is ‘n klein groepie mense en ek dink nie jou dogter het dit by ons gesien nie.