Doop en uitreik-aksies

MB, Stellenbosch

Ek het vanoggend vir die Here gevra om tog net vir my te verduidelik hoe die NG kerk by die doop van kindertjies uitgekom het en hoekom hulle dit doen. Ek self het grootgeword in die NG Kerk en is dus ook gedoop as kind, maar het in 1998 net geweet die Here vra van my om my te laat doop en ek het dit toe gedoen! Ek wil graag verstaan hoekom die NG Kerk dan kinders doop as die Bybel net verwys na “bekeer julle en laat julle doop”, waar het dit vandaan gekom en is dit reg of verkeerd? Ek het gistraand ‘n lang gesprek met ‘n vriendin gehad wat baie sterk voel dat die doop van die NG kerk nie Bybels is nie en dat dit nie die gebruik is waarvoor God dit bedoel het nie. Wat sy gese het maak sin en ek weet dit, maar ek wou weet waar die NG kerk daaraan kom en hoekom hulle so sterk daaraan glo, dan verstaan ek dit en het dan ‘n volle prentjie.

Vanoggend lees ek toe 1 Tim 1 en wat ek toe voel die Here vir my daardeur wil se is dat ek nie net enige “fabels moet glo nie”, so ek soek die waarheid.

So, toe google ek NG kerk doop en kry jou artikel wat jy in ek weet nie, ek dink 1999 geskryf het toe jy jou laat doop het en uit die NG Kerk verban is, dankie, dankie, dankie! Nou het ek ‘n agtergrond waar die doop vandaan kom, hoekom die NG kerk dit ingestel het en wat die Bybel daaroor se en dit bevestig alles wat Helani ook gistraand gese het, maar nou het ek die hele prentjie. Jou skrywe al soveel jare gelede was my antwoord om my soeke na die waarheid vandag!

Ek het ‘n volgende vraag: Ek het so bietjie gekyk op julle website – is Elim betrokke by enige uitreik aksies of dissipelskap werk binne of buite die Weskaap, SA of buiteland?

Kommentaar

Dankie vir jou email. Bly dat jy antwoorde op jou vrae gekry het.

Om jou vraag oor uitreik aksies en dissipelskap te probeer beantwoord. Ek dink dit is moontlik om die Skriftuurlike opdrag hieroor na te kom, sonder om by sigbare projekte betrokke te wees. Die afgelope 12 jaar het ek gesien hoe effektief die Skriftuurlike opdrag om getuies te wees en dissipels te maak deur gelowiges uitgevoer word wat geen kursus deurloop het nie, by geen “aksies” betrokke is nie en geen formele uitreike onderneem nie. Al wat gebeur het is dat hulle oë vir sekere waarhede van die Woord oopgegaan het. Hierdie ontdekking van verborge waarhede het ‘n onblusbare vuur in hulle binneste ontketen en ‘n outomatiese begeerte laat ontstaan om, soos Paulus aan Timoteus skryf, letterlik die Woord tydig en ontydig te verkondig. Ons hoor elke week van getuienisse van gelowiges wat op hierdie informele manier die goeie nuus met iemand gedeel het of, aan die ander kant van die muntstuk, mense wat op die mees onverwagse manier denkbaar, by iemand iets gehoor het wat hom of haar aan die dink gesit het en toe by een of ander aspek van die waarheid van die Woord laat uitkom het. Iets is beslis wêreldwyd aan die gebeur – dis nie altyd so sigbaar soos ons in die verlede aan gewoond geraak het nie – maar ek weet sonder enige twyfel dat Yahweh se hand daarin is en dat hierdie ‘n baie kragtige beweging van sy Gees is.