Die wet en die Ou Testament

IT, Worcester

Ek het so ‘ bietjie gekyk na wat jy verkondig en wil graag so ‘n paar vrae vra.
1.Waarom is Die Bybel in twee dele verdeel OT en NT ?

2.Hoekom kom julle net sekere OT (Moses) wette na ? In dien God nie die wet afgeskaf het nie, soos jy beweer waarom nie al die wette onderhou nie ?

3.Waarom wil jy die wet onderhou, die sabbat ens ?
4.Wat beteken Handeling 15 ?
5.Wat is die verskil tussen wet en genade ?

Kommentaar

Ek wil graag glo dat mense wat artikels op ons webblad lees, dit nie sal beskou as dinge wat ek verkondig nie, maar as ‘n oproep om weer ‘n slaggie goed te kyk na wat die Skrif verkondig.

1. Die Skrif self tref nie dieselfde onderskeid wat deesdae in kerke en Bybelvertalings gedoen word, tussen Ou Testament en Nuwe Testament nie. Daar word wel na ‘n ou verbond en nuwe verbond verwys, maar dan het dit ongetwyfeld nie dieselfde populêre konnotasie wat ons vandag aantref, nl. dat dit verwys na twee verskillende gedeeltes waaruit die “Bybel” bestaan nie. Die benaminge “Ou Testament” en “Nuwe Testament”, en die manier hoe meeste Christene hierdie begrippe gebruik, is dus ‘n menslike fabrikasie en weerspieel nie die taal en die bedoeling van die Skrif nie. Dit wat die Messias self en iemand soos Paulus as “Skrif” of “Skrifte” beskou het, was in wese dieselfde as dit wat vandag as “Ou Testament” bekendstaan.

2. Daar is ‘n groot aantal van die “Moses-wette” wat om historiese en praktiese redes nie vandag nagekom kan word nie (bv. die seremoniële maatreëls wat vir die inrigting van die tabernakel en die gepaargaande priesterskap gegeld het en die spesifieke regsprosedures wat gegeld het terwyl daar geen ander vorm van regering of regspleging in die woestyn en in die periode voor die rigters en die konings was nie). Die feit dat hierdie wette nie meer geld nie, gee nie vir ons die reg om die baba met die badwater uit te gooi en summier ‘n streep deur die hele lys van insettinge en opdragte te trek waarmee Yahweh sy volmaakte wil aan sy volk bekendgemaak het nie. Sal ons bv. dieselfde doen wanneer sommige van ons eie regering se wette na verloop van tyd, en a.g.v. veranderde omstandighede, ongeldig verklaar word?

3. Ek dink die antwoord op die vraag “Waarom wil jy die wet onderhou?” is taamlik voordiehandliggend. Omdat Yahweh dit beveel het. Omdat Hy self deur sy Gees ‘n begeerte in my hart geplaas het om Hom te gehoorsaam en te eerbiedig. Omdat daar, in die lig van wat Hy vir my gedoen het, geen rede is waarom ek teen sy opdragte moet rebelleer en redes moet soek hoekom ek dit nie wil doen nie. Omdat, as ek moet kies tussen wat Hy oor die Sabbat sê en wat baie kerke oor die Sabbat (en talle ander Skriftuurlike voorskrifte) sê, dan kies ek die pad van die Woord (in sy geheel), nie soos mense en teoloë oor baie jare vir my voorgeskryf het om te glo nie. En ja, omdat ek nie die seën wil misloop wat die Skrif oor en oor koppel aan ‘n pad van gehoorsaamheid aan die woorde van Yahweh nie.

4. Hand 15 beskryf ‘n besluit wat deur die destydse leiers geneem is na aanleiding van die nuwe situasie wat ontstaan het waar nie-Jode tot geloof in die Messias gekom het. In wese kom dit daarop neer dat gelowiges uit die heidendom hulle nie hoef te laat besny nie en nie as jong gelowiges met ‘n magdom van moets en moenies gebombardeer moes word nie. Sekere aspekte van die Torah is egter uitgesonder en reg van die begin af aan hierdie jong gelowiges voorgehou, nie omdat dit die enigste dele van die Torah is wat hulle moes nakom nie, maar bloot omdat daardie aspekte besonder relevant en dringend was teen die agtergrond van waaruit hulle gekom het. Wat die res van die “Moses-wette” betref sou hulle wel met verloop van tyd op datum kom “want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy (oftewel die Torah) elke Shabbat in die sinagoges gelees word” (Hand 15:21).

5. Daar is ‘n groot verskil tussen wet en genade – dit is twee konsepte wat met verskillende aspekte van ons wandel voor die Vader te make het. Wet, oftewel Torah (wat in werklikheid “lering” beteken, afgelei van ‘n Hebreeuse woord wat beteken: “om uit te vloei of uit te stroom soos water”) is die leringe waarmee die Vader, vol van liefde en lankmoedigheid, sy volk begelei. Vir diegene wat hulle daaraan hou, is dit soos ‘n stroom water wat verkwik en skoonwas. Diegene wat hulle nie daaraan hou nie en wat ongehoorsaam en onverskillig is, kwyn stadig maar seker weg en staan skuldig voor Yahweh as die Almagtige. Dit is hier waar “genade” ter sprake kom. Dis wanneer mense wat skuldig staan en eintlik veroordeel moet word, vergifnis en vryspraak ontvang, op grond van Yahweh se onverdiende guns. Dis hoekom Y’shua die Messias (wie se Naam beteken: die redding van Yahweh) gekom het – om hierdie genade te demonstreer en ‘n werklikheid te maak – nie om te kom sê ons kan nou maar Yahweh se leringe eenkant toe skuif, want ons het dit nie meer nodig nie.

Mense en leraars wat probeer om veral Paulus se briewe so te interpreteer asof dit ‘n streep trek deur Y’shua se eie onderhouding van die Torah en sy volgehoue oproep dat sy volgelinge dit ook moet doen, kan gerus nadink oor iets wat ‘n wyse man eenmaal gesê het: “Ons moet vir Paulus lees en verstaan in die lig van wat die Messias geleer het, nie andersom nie.” Paulus het aan gemeentes geskryf waar kwaadwillige mense probeer het om die gelowiges op ‘n dwaalspoor te bring. Om hierdie dwaalleer te bestry het hy dikwels woorde en argumente gebruik wat, as dit uit konteks gehaal word, heeltemal verkeerd verstaan kan word. Die apostel Petrus het self hierteen gewaarsku in sy tweede brief:

2Pe 3:15 En ag die lankmoedigheid van ons Meester as verlossing, soos ons geliefde broer Shaúl (Paulus) ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het,

2Pe 3:16 net soos in al die briewe. Hy praat daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige moeilik is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie ondergang.

2Pe 3:17 Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van wettelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie.

Dit lyk vir my of baie gelowiges vandag nog swig voor die “dwaling van wettelose mense” – en dit omdat hulle deur ongeleerde en onvaste mense mislei is wat onder meer Paulus se briewe verkeerd verstaan en verdraai.

Ek is baie bewus van my eie tekortkominge en die beperkinge en onvolledigheid van hierdie antwoorde, maar ek hoop en bid dat dit ten minste ‘n klein bietjie duidelikheid sal bring.