Die weglating van sommige tekste

SF, Bloemfontein

In die Woord en Getuienis sien ek by heelwat van die teksverwysings haal jul aan, byvoorbeeld in Yah 8:11″oorspronkik nie deel van hierdie boek nie, maar uit ‘n ander (betroubare) bron afkomstig is en later hier ingevoeg.” Na watter betroubare bron verwys jul as jul die aanhaling gebruik. Ek sien dat dit op sommige plekke met die Scriptures verskil..

Kommentaar

Dankie vir jou email. Die bedoeling met die kommentaar oor Yahuganan 7:53-8:11is om aan te dui dat hierdie spesifieke gedeelte nie in die oudste en mees betroubare manuskripte (wat as basis vir die vertaling van die Messiaanse Geskrifte gebruik word) voorkom nie. Daar is ‘n handjievol (jonger) manuskripte wat dit wel bevat, maar daar is redelike konsensus onder kenners op die terrein van bronmanuskripte en teksontwikkeling dat die manuskripte wat dit wel bevat, om een of ander rede deur oorskrywers en/of kerklike beamptes verander is. Bruce Metzger, wat as wêreld outoriteit op hierdie terrein erken word, het oor hierdie gedeelte gesê: “the evidence for the non-Johannine origin of the pericope of the adulteress is overwhelming”. Hou in gedagte dat daar in sommige gevalle letterlik honderde ou manuskripte is, met (meesal geringe) onderlinge verskille, waaruit die vertaler ‘n keuse moet maak as hy/sy die vertaling doen, en ‘n algemene riglyn is: die oudste manuskripte moet as die mees betroubare gereken word. Die vraag is egter waarom iemand so ‘n gebeurtenis soos hierdie uit sy duim sou suig en bloot by die oorspronklike teks sou byvoeg, veral aangesien dit nie ‘n sekere kerklike leerstuk of sienswyse bevorder of beïnvloed nie (daar is ‘n sterk vermoede dat kerklike beamptes aan sekere ander gedeeltes gepeuter het om Skriftuurlike ondersteuning te gee aan sekere standpunte wat die kerk van daardie tyd gehuldig het). Om hierdie rede word daar aanvaar (en ek glo dit met my hele hart) dat hierdie gebeurtenis wel plaasgevind het, soos wat hier berig word en dat iemand anders as Yahuganan dit later hier ingevoeg het om seker te maak dat die rekord hiervan nie verlore gaan nie. Wie of wat hierdie bron is, is egter nie vandag bekend nie.

Hoop hierdie verduideliking bring so bietjie duidelikheid. Ons het probeer om met die vertaling van Woord en Getuienis rekening te hou met die jongste kundigheid oor die oorlewering van ou manuskripte en het nie probeer om ‘n vertaling van ‘n ander vertaling (soos The Scriptures) te maak nie. Soos jy egter sal sien, het ons sterk gesteun op die Ou Afrikaanse Vertaling (1933) wat ‘n uitstekende letterlike vertaling van die ou bronne was, maar waarvan die vertalers nog nie toegang gehad het tot die jongste kundigheid op hierdie terrein nie.