Die Vader se Naam

MI, Bellville

Ek stuur vir jou ‘n “teaching” waarin die Naam Yehovah vir die Vader gebruik word. Kan jy vir my sê wat jy daarvan dink?

Kommetaar

Oor die naam, Yehovah, kan ek maar net sê dat ek meen dat dit uiteindelik ook net ‘n intelligente raaiskoot is. Daar is seker meer as 10 verskillende variasies van die Vader se Naam wat ek al gehoor het en sommige van die argumente wat genoem word klink baie oortuigend, maar almal kan nie reg wees nie. Ek bly by “Yahweh” aangesien dit blyk dat hierdie uitspraak alreeds so vroeg as die 4 de eeu voorgekom het (die vroeë kerkvaders Epiphanius en Theodoret het die Griekse variasie hiervan gebruik) en daar min twyfel bestaan oor die verkorte vorm “Yah” wat ook vir die Vader gebruik is. Daar is na my kennis nie enige bewys van ‘n ander uitspraak wat vroeër as dit reeds gebruik is nie. Taal kan beslis verander oor ‘n periode van duisende jare en daarom kan ‘n mens nie bloot vandag se taalreëls neem om te bepaal hoe ‘n woord 4000 jaar gelede uitgespreek is nie. As iemand egter van ‘n ander uitspraak oortuig is, sal ek nie kapsie daarteen maak nie. Sommiges is egter geneig om elke nuwe en aanloklike voorstel te “koop” – net om kort daarna weer ‘n ander standpunt (en ‘n ander variasie van die Naam) te aanvaar. My voorstel sou wees om saam te gaan met die Naam “Yahweh” wat nog steeds deur ‘n baie groot persentasie gelowiges gebruik word en wat in elk geval ook in meeste van die ensiklopedieë, woordeboeke en meer “wetenskaplike” bronne oor die Skrif gebruik word.