Die Shabbat Ete

NVZ, Namibia

Ons begin eerskomende Vrydagaand om die eerste Shabbat-ete te hou, maar ek sal graag wil hoor hoe julle dit doen, want ek weet nie regtig wat en hoe nie, maar net dat ons dit wel wil doen!

Vandag, terwyl ek besig is met my studie rondom die ‘wet’, kom ek by Kol 2 uit, en ek het in jou studies gesien hoe jy vers 16 verduidelik, maar sal graag wil hoor van verse 20 en 21 (ek sal dit vreeslik waardeer!). Kan jy asb Rom 7 verduidelik? Dis vir my baie belangrik om dit reg te verstaan, want dis die Skrif waarmee die Vader my geroep het, en ek wil nie hê dat ek iets moet mis nie (soos in jou geval, met die tweede helfte van Hand 22:16 nie! Dalk is daar is wat jy daarin lees, wat ek nog mis,…asseblief!

Was Josua (wat die volk deur die Jordaan gelei het), en Josua (die hoëpriester), se regte name dan ook Y’shua?

KOMMENTAAR:

Net eers ‘n kort antwoord. As jy nie te haastig is nie, wil ek so bietjie later vir jou ‘n antwoord stuur oor Kol 2 en Rom 7. Bly om te hoor dat julle reeds volstoom wil begin om die Shabbat te hou. Onthou net, eerskomende Vrydagaand is reeds die begin van Yom Kippur en Lev 23:32 bepaal duidelik dat dit ‘n dag is waarop ons ons moet verootmoedig (letterlik: ons siele moet neerbuig). Dit is duidelik (onder meer in Skrifgedeeltes soos Ps 35:13) dat die bedoeling is dat hierdie ‘n vasdag is – ‘n dag waarop ons ons moet onthou van kos en water, asook ander aktiwiteite wat ons onverdeelde fokus op Yahweh mag belemmer. Miskien moet julle dus julle Shabbat-ete laat oorstaan tot volgende Vrydagaand. Ek vertrou dat daar ‘n goeie rede is waarom Yahweh bepaal het dat juis hierdie een dag in die jaar as vasdag ingeruim moet word.

Wat die viering van die Shabbat en die feeste in die algemeen betref. Die belangrikste is myns insiens DAT ons hierdie dae hou (vanuit ‘n begeerte om Yahweh te gehoorsaam en te behaag), nie soseer HOE ons dit hou nie. Daar is geen Skriftuurlike voorskrif oor hoe die Shabbat-ete ingeruim behoort te word nie, behalwe dat die werk hieraan verbonde vóór die Shabbat behoort te geskied. Kerse, gevlegde brode en ander Joodse tradisies kan gevolg word, maar is geensins ‘n vereiste nie. Verder gee die Skrif nie ‘n ellelange lys van moets en moenies vir die Shabbat en die feeste nie, behalwe dat daar nie op die Shabbat (ook nie op die sewe “jaarlikse” Shabbatte – sien Lev 23) gewerk en handel gedryf moet word. Ook dat die gelowiges op hierdie dae bymekaar moet kom en hulle in Yahweh moet verlustig. En die belangrikste: dat daar op hierdie dae GERUS sal word. Binne hierdie breë raamwerk het ons gevind dat die Shabbat ‘n wonderlike en ‘n verkwikkende instelling is wat ons na gees, siel en liggaam opbou en versterk. Ons steur ons nie meer aan mense wat ons probeer wysmaak dat die onderhouding van die Shabbat ‘n “juk” is wat ‘n mens op jou eie skouers laai nie.

Jy is reg oor die naam van Joshua. Dit is duidelik dat albei die “Joshua’s” in die Skrif sterk voorlopers en tipes van die Messias was. Hulle name word in die meeste gevalle weergegee as “Yahushua” maar dis duidelik dat Yahushua en Y’shua as wisselvorme gebruik is, op dieselfde manier uitgespreek is, en presies dieselfde betekenis het (“die Verlossing van Yahweh”). As ‘n mens ZegarYah (Sagaria) 6 mooi lees, dan vind ons hierin ‘n duidelike profetiese heenwysing na wat die Naam van die Messias (na wie daar dikwels in die Ou Verbond as “die Spruit” verwys word – vgl. o.m. Jes 11:1) sou wees. Met verwysing na die hoëpriester Yahushua (of Y’shua) word in vers 12 gesê: “Kyk die man wie se naam is Spruit … en Hy sal die tempel van Yahweh bou”. By my is daar geen twyfel nie dat hierdie ‘n dubbele profesie is wat op Y’shua die hoëpriester in Sagaria se tyd, sowel as Y’shua die Messias betrekking het!!