Die eensaamheid van hierdie pad

LM, Springs

Ek het gereeld julle maandelikse berigte gelees wat julle op die webtuiste geplaas het. Ek sien dat julle nie meer plaas nie. Dit was altyd so aangenaam om die inligting te kry wat ons so baie gehelp het met die woord van Jahweh.

Ons is in Springs (Guateng) gevestig en weet nie van ander mense wat dieselfde soos ons dink en die Sabatte onderhou nie. Dit is vreeslik eensaam en partymaal voel dit of almal dink ons is mal.

Sal graag wil hoor van julle en waar ek nog gereelde inligting kan kry.

Kommentaar:

Ons probeer om so elke twee of drie maande ons webblad op te dateer, so hou maar dop, hopelik is daar binnekort weer nuwe artikels wat gelees kan word. Ons is opgewonde oor elke medegelowige in Suid Afrika wat die Naam van Yahweh aanroep en ernstig is daaroor om sy Woord te gehoorsaam. Ons ken nie iemand wat in Springs se omgewing bly nie. Ons stuur egter besonderhede van gelowiges van wie ons weet in Pretoria. Ons ken die gevoel waarvan jy praat, baie goed, en hoor dikwels dat mense agteraf die vreemste dinge oor ons kwytraak. Ons kan ons maar net verbly daarin dat dieselfde gebeur het met die profete, die Messias en die gelowiges wat Hom voluit gevolg het! Daar is minstens drie plekke in die Nuwe Verbond waar die gelowiges as “sekte” uitgekryt is (Hand 24:5; Hand 24:14 en Hand 28:22).

Ons maak opnames (op CD) van elke Shabbat diens en stuur dit elke twee weke aan gelowiges regoor Suid Afrika en Namibië, tesame met notas op skrif wat daarby aansluit. Meeste van hierdie mense gebruik dit om ‘n bietjie meer inhoud aan hulle eie onderhouding van die Shabbat te gee. Laat weet gerus as julle hierin belangstel.