Die Afgesonderde Gees

CB, Namibia

Waarom word daar soms na die “Afgesonderde Gees” verwys ipv die “Heilige Gees”?

Ons Vader en Y’shua is tog een en daarom die GEES van Yahweh kan tog nie iets apart wees nie. Die woord afgesonder sê vir my dit is apart. Of so klink dit vir my.

Het dit iets met die vertaling te doen?

Kommentaar:

Ons verkies om die woord “afgesonderde” in plaas van “heilige” te gebruik, omdat “heilige” een van die baie begrippe is wat ‘n heidense (son-aanbidding) oorsprong het en wat die Rooms Katolieke Kerk oorgeneem, “afgestof” en vir kerklike gebruik ingespan het. Ek het ‘n uittreksel uit die boek van Koster, “The Final Reformation” vir jou aangeheg waarna jy gerus kan kyk. Dr. Koster het uitstekende navorsing op hierdie terrein gedoen en sy bevindinge is baie betroubaar. Die woord wat in die Ou Verbond en Nuwe Verbond met “Heilig” vertaal word, beteken letterlik “afgesonder, set-apart, totaal anders as die normale”. Die basiese gedagte is dat Yahweh “afgesonder” is van al die ander magtiges en vernames in die hemel en op aarde en dat dit wat met Hom geassosieer word en aan Hom behoort, ook as “afgesonder” beskou word en dus duidelik onderskei moet kan word van hulle wat nie aan Hom behoort nie – vgl. Wayyikra (Levitikus) 11:44; 20:7 en 1 Kefa (Petrus) 1:16.

Die Afgesonderde Gees is NIE apart van die Vader en die Seun nie. Trouens die Afgesonderde Gees IS die Gees van Yahweh. Ek glo nie eens dat ons hier van ‘n aparte Persoon, losstaande van die Vader en die Seun moet praat nie. Die begrip “Drie-eenheid” is ‘n mensgemaakte begrip wat beswaarlik die verhouding tussen Yahweh en die Gees wat van Hom af uitgaan, reg uitdruk. Die Gees van Yahweh is egter “afgesonder” omdat Yahweh “afgesonder” is en omdat Hy deur sy Gees mense se harte so verander dat hulle ook nou as “afgesonder” bestempel kan word.

Daar is mense wat verkies om “afgesonder” met “apart” te vertaal en “afgesonderdheid” (heiligheid) met “apartheid” en wat op so ‘n (verdraaide) manier die politieke stelsel van apartheid regverdig en selfs “verhef” omdat dit kwansuis met die wese van die Almagtige ooreenstem. Hierdie beskouing (wat in sekere dele van Suid Afrika baie aanhangers het) probeer losbreek van die tradisionele kerke en gelowe en gebruik selfs die ware Name van die Vader en die Seun, maar hanteer die Skrif op ‘n manier wat ‘n mens se hare laat rys.