DIE UITDAGING OM OP YAHWEH TE WAG

alternate textDie emosionele effek daarvan om ingeperk te wees, is iets wat meeste van ons seker eers oor ‘n paar maande ten volle sal besef. Die inperking het vir ons nie net ‘n drastiese afname in beweging meegebring nie. Dit het ook vir ons ‘n skielike afsondering en afstand van mense vir wie ons omgee, meegebring. Dit het vir baie van ons ‘n verlies aan inkomste meegebring. Dit het vir ons in ‘n situasie geplaas waar ‘n mens nie meer vrylik die dinge kan doen waarvan jy hou nie. Skielik moet ‘n mens nuwe maniere vind om jou kreatiwiteit en jou vindingrykheid uit te leef. Dit lyk van buite af soos ‘n nuwe avontuur en ‘n heerlike vakansie, maar meeste mense ervaar dit net as ‘n verbrande sensuur en ‘n verpestelike distansie. Sommige sê nou kry mens ten minste kans om by jouself uit te kom. Maar baie mense kom met ‘n skok agter dat dit nie baie opwindend is om meeste van die tyd in jou eie geselskap te wees nie. COVID19 het ons almal se lewens ingrypend verander en dit is nou tyd dat ons vir onsself afvra: Hoe vaar ons emosioneel in hierdie tyd van inperking? Hoe hanteer ons ons nuwe wêreld wat binne ‘n paar maande ‘n totale metamorfose ondergaan het en hoe hanteer ons die emosies wat dit binne-in ons losgemaak het?

Om ’n uitlaatklep te hê wanneer ‘n mens deur ‘n tyd van skommelende emosies gaan, is altyd ‘n goeie ding. ‘n Mens kan sien hoedat mense in die sosiale media ‘n uitlaatklep vind vir die dinge wat hulle in hierdie dae beleef. Ek het die bydraes op ons eie WhatsApp groep die afgelope week baie geniet en kon sien dat dit ook ‘n manier vir baie was om boodskappe en prente en videos met ander te deel wat hulle gehelp het en opgelig het en gekalmeer het en getroos het. Sonder om name uit te sonder, wil ek vanmiddag bloot ‘n paar van hierdie bydraes uitlig, as ‘n poging om elkeen van ons te help om ons eie emosies nie net beter te leer ken nie, maar ook om daardie emosies met die Skrif in verband te bring. Niks kan ‘n mens emosioneel so oplig soos die woorde en die beloftes van Yahweh self, en van mense wat naby aan Yahweh geleef het en oor Hom geskryf het nie. Dit was die profeet Jeremia wat gesê het: “Toe ek u woorde gevind het, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, Yahweh, Elohiem van die leërskare!” (Jer 15:16).

Presies een week gelede het iemand tong in die kies ‘n prent geplaas van ‘n aap in ‘n boom, met sy hande in sy hare, terwyl hy in moedeloosheid so ‘n bietjie van sy emosies deel: Hier sit ek nou al weke in dieselfde boom! Baie van die emosies wat ons in hierdie tyd beleef, het te make daarmee dat ons almal weet dat ons in ‘n wagperiode is, maar dit is soos ‘n ongedefinieerde wag – ons weet nie mooi waarvoor ons wag nie en daar is niemand daarbuite wat met sekerheid kan sê wat vorentoe gaan gebeur nie. In so ‘n tyd kan ons ons harte versterk met die woorde van Ps 130:5-6 Ek wag op Yahweh … en ek hoop op sy woord. My siel wag op Yahweh meer as wagters op die môre. Om op mense te wag, kan met tye erg frustrerend wees. Maar om op Yahweh te wag, is ‘N WAG WAT BETEKENIS HET omdat ‘n mens binne-in hierdie wag vir Hom beter leer ken en die les leer dat jou hulp en redding nie in die eerste plek by mense lê nie, maar by Hom wat onbeperkte mag het – om selfs meer te doen as wat ons ooit kan bid of dink!

Dieselfde dag het iemand ‘n pragtige prent met ‘n donkiekar met twee mense geplaas, waar die een vir die ander sê: Dis beterder dat jy min het ma jy lewe reg, as wat jouse sakke knopstaan vanni sleg! Hierdie stuk eenvoudige wysheid is ‘n aspek wat ons elkeen moet leer ken, en as dit ‘n pandemie vra om dit vir ons te leer, kan dit ONS HARTE binne-in hierdie moeilike tyd TOT BEDARING BRING, sodat ons ware vrede kan ervaar. Die wysheid van die donkiekar is dieselfde soort wysheid wat ons in die Woord ook vind: Liewer ‘n bietjie in die vrees van Yahweh, as ‘n groot skat en onrus daarby (Spr 15:16); Liewer ‘n bietjie met geregtigheid, as ‘n oorvloed van inkomste met onreg (Spr 16:8) en Die arme wat in sy integriteit wandel, is beter as die verkeerde wat twee paaie wil loop en daarby ryk is (Spr 28:6).

Iemand het ‘n video geplaas wat glo ‘n uittreksel of ‘n samevatting is van die laaste woorde wat Steve Jobs uitgespreek het, voor sy dood, sowat 9 jaar gelede. Een van die aanhalings in hierdie video was “If you want to walk fast, walk alone. But if you want to walk far, walk together.” Dit mag dalk nou vir ons voel of ons gedwing word om alleen te loop en of die tyd van “walking together”, vir eers verby is. Maar ons word geroep om die pad saam met mense te loop, al sien ons hulle nie en al kan ons nie aan hulle raak nie. Net soos wat ons geroep word om met Yahweh, en vóór Yahweh te wandel, al sien ons Hom nie en al kan ons nie aan Hom raak nie. ‘n Verhouding wat tot stilstand kom as die aspek van fisiese nabyheid wegval, is ‘n verhouding waaraan ons nog nie hard genoeg gewerk het nie. Ons het mekaar nodig – nóú meer as tevore. As daar een ding is wat ons beslis kan doen, al is ons op die vyfde of vierde nasionale vlak ingeperk, is dit om SAAD VAN VREDE EN EENSGESINDHEID EN SAAMLOOP in die grond te sit. Jak 3:17-18 Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, oop vir oortuiging, vol guns en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

Nog ’n item wat my aandag getrek het, was die een met die titel, Tikvah Challenge, waarin die uitdaging gestel word om drie kosbare gawes uit te lig wat jy uit die Vader se hand ontvang het tydens hierdie tyd van inperking. Die woord “tikvah” word gewoonlik vertaal met “hoop”, maar dit kan ook ‘n “dun draadjie” beteken. Baie van ons voel miskien dat die groot dinge waarop ons gehoop het en waarvoor ons begin werk het aan die begin van hierdie jaar, deur die Coronavirus van ons weggeneem is. Maar wat van die DUN DRAADJIES VAN HOOP wat so tussendeur ons pad begin kruis het? Ons moenie toelaat dat die virus ons vermoë aantas om Yahweh se hand in ons lewens raak te sien nie. Heb 10:23 – Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou!

Daar was ‘n pragtige, emosiebelaaide skildery wat iemand geplaas het met die onderskrif “Be strong” en die Hebreeuse ekwivalent “chazak” prominent op die voorgrond. In die Skrif het die woord “chazak” ‘n baie sterk betekenis, wat insluit “to be courageous and to encourage others”, “to be strong and to strengthen others”; “to prevail and to conquer”. Terwyl dit vir baie van ons voel of ons agter slot en grendel moet sit en baie dinge buitekant die grense van ons eie huise moet ontbeer, kan ons moed skep deur te kyk na dit wat Yahweh besig is om BINNE DIE GRENSE VAN ONS EIE HUIS te doen! Ps 147:13 Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak (“chazak”); Hy het jou kinders binne-in jou geseën!

Die Woord van Yahweh gee vir ons die sleutel waarmee ons die grendels van hierdie pandemie kan losmaak en wys vir ons die waardes waarmee ons as oorwinnaars aan die anderkant van hierdie moeilike pad kan uitkom: waardes soos tevredenheid, eenvoud, integriteit, geduld, onselfsugtigheid, eensgesindheid, hoop en sterkte. Kom ons neem hierdie sleutel en jaag hierdie waardes na!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »