DIE TWEE WOESTYNE

alternate text

Die algemene opvatting is dat ‘n woestyn of ‘n wildernis ‘n slegte plek is om jou te bevind en veral ‘n slegte en uiters moeilike plek om van punt A tot by punt B te kom.  Twee van die woorde wat in Engelse woordeboeke as sinonieme vir “wilderness” aangegee word, is “badlands” en “wasteland”.  ‘n Woestyn is dus ‘n stuk land wat in Engels doodgewoon as “wild”, “bad” en “waste” beskou word en ook só beskryf word.  ‘n Plek wat nie as bruikbaar of begaanbaar of verboubaar gereken word nie en wat vir meeste mense eenvoudig ‘n woeste, verlate, verwaarloosde, onaantreklike en selfs nuttelose plek is.  Dis hoe die Israeliete meeste van die tyd oor die wildernis tussen Egipte en die Beloofde Land gevoel het.  En dis hoe ons dikwels voel as ons van tyd tot tyd in ons lewe ontdek dat ons lewe ‘n wending geneem het, weg van die gemak en die sorgloosheid van ons bekende omstandighede, na ‘n nuwe, onwelkome “plek”, waarin ons elke greintjie energie waaroor ons beskik, nodig het om net maar vorentoe te kan beweeg en ons uiterste bes moet probeer om nie in totale moedeloosheid te verval nie. Jy weet nie hoe jy daar gekom het nie, maar ewe skielik bevind jy jou op onbegaanbare en ongenaakbare terrein.  Wildernis … woestyn … aaklige aarde … liederlike land.  Jy wil daar úít met alles wat jy het, maar hierdie “plek” het ‘n manier om sy kloue in jou in te slaan en nie maklik skiet te gee nie.   

Dis nie toevallig dat die vierde boek van die Torah en die 34ste Torah leesstuk van die jaar, die naam “Bemiedbar” gekry het, wat “In die woestyn” beteken nie.  Maar uit die aard van die saak is dit nie net die 4de Boek en die 34ste Parashah wat oor die woestyn handel nie.  Die woestyn vorm die agtergrond en die breë raamwerk van die grootste gedeelte van die 5 boeke van die Torah.  En Hoshea 2, wat ook deel uitmaak van die voorgestelde leesstuk van hierdie week, sluit aan by die tema van die woestyn.  As ‘n mens mooi lees, is daar twee soorte woestyn wat in Hoshea 2 beskryf word.  Die eerste woestyn-ervaring word beskryf in Hos 2:2-4: “Twis met julle moeder, twis; want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie, en laat sy haar hoerery van haar aangesig verwyder en haar owerspel van haar borste af weg. Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos ‘n woestyn, ja, haar stel soos ‘n dor land en haar van dors laat sterf. En Ek sal My oor haar kinders nie ontferm nie, want hulle is kinders uit hoerery gebore.”  Hierdie woestyn is die dorre en droë wêreld waarin jy jou bevind as jy jou aan geestelike hoerery en afgodediens en sonde oorgegee het. Die emosies van skaamte en verleentheid wat jy dáár beleef is soos die van iemand wat nakend voor ‘n skare mense moet paradeer.  Die geestelike honger en dors is die versmagting van iemand wat in ‘n onherbergsame woestyn omkom van ellende.  En die ergste van alles is dat Yahweh sy ontferming en sy goedgunstigheid van jou onttrek (“lo-rugama”) en dat dit vir jou voel of iemand jou pad met dorings toegemaak het en ‘n muur reg rondom jou gebou het (vers 6). Woorde alleen kan nie die gevoelens van beklemming en benoudheid en beswaardheid beskryf van iemand wat homself in hierdie woestyn gedompel het nie. 

Maar dan is daar ‘n tweede soort woestyn waarvan Hoshea 2 praat.  Hierdie woestyn is ‘n plek waar Yahweh met jou na jou hart praat (vers 14 – as Hy dít doen, beteken dit Hy bereik, versag, vertroos, kalmeer en versterk jou hart).  Verder is dit ‘n plek waar Hy ‘n deur van hoop vir jou oopmaak (vers 15), jou verlore jeug aan jou teruggee (vers 15); jou opnuut weer as sy bruid bevestig (vers 16) en die name van ander magtiges (en ander aardse dinge waarop jy jou vertroue geplaas het) uit jou mond verwyder (vers 17).  Maar dis nie al nie.  In hierdie selfde woestyn gaan Hy ‘n nuwe verbond met jou aan (vers 18).  Kragtens hierdie verbond sal Hy die volgende dinge vir jou doen:  [1] Hy sal jou altyd veilig laat rus (vers 18), [2] Hy sal Hom met jou verloof tot in ewigheid (vers 19), [3] Hy belowe om in ‘n verhouding van geregtigheid, goedertierenheid en ontferming met jou te staan (vers 19), [4] Hy belowe dat jy altyd op sy getrouheid sal kan reken (vers 20), [5] Hy maak dit vir jou moontlik om Hom te ken vir Wie Hy werklik is (vers 20), [6] Hy sal jou gebede verhoor en voel só sterk daaroor dat hy die hemel en die aarde en die koring, mos en olie wat groei op die aarde, by hierdie belofte van verhoorde gebed betrek (vers 21-22), [7] Hy sal die name wat Hy aan ons toegeken het in ons ongehoorsaamheid, die name Lo-Rugama (“nie ontferm”) en Lo-Ammi (“nie my volk”), terug verander na Rugama en Ammi.

Die moeilikheid met baie van ons is dat ons soms heeltemal die “plot” verloor wanneer ons in die eerste woestyn beland.  Die dorheid en die ellende en die benoudheid kry die oorhand oor ons en ons kan dit nie hanteer dat ons Yahweh nie kan sien of kan hoor in hierdie woestyn nie.  Om sonder die Allerhoogste se “rugama” te moet leef is een van die swaarste dinge wat daar is.  Om ‘n pad in die middel van nêrens te probeer vind en jou telkens teen die dorings en die muur rondom jou vas te loop, is ‘n uiters moeisame proses wat sy tol eis en sy littekens op jou agterlaat.  Maar Hoshea se boodskap aan ons is dat ons nie die Een moet vergeet wat voorheen ons skure volgemaak het, ons paaie reguit gemaak het, ons huise bewaar het en ons wonde genees het nie.  Al voel dit nie vir ons so nie – Hy het Hom nie heeltemal van ons onttrek nie. Hy wil weer sy “rugama” op ons uitstort. Hy staan reg om ons weer in te trek in die ruimte van sy volk. Hy kan nie wag om dit wat ons gebreek het, weer te herstel nie.

Eintlik is daar nie twee woestyne nie, maar net één.  Die woestyn is na alles toe nie so ‘n “badland” en ‘n “wasteland” soos wat ons gemeen het nie.  Een van my tydgenote uit universiteitsdae (Barend Vos) het ‘n boek oor die Psalms geskryf waarin hy baie treffend kommentaar lewer op die woorde van Psalm 95:8, “Verhard julle hart nie soos by Merivah, soos op die dag van Massah in die woestyn nie”. Barend skryf hieroor die volgende: “As ons tog maar net wou luister; as ons net ons oë wou oopmaak; as ons nie ons ore gesluit het vir u waarskuwings nie; as ons tog nie die woestyn as ons beloofde land omhels het nie; as ons nie tevrede teruggesit het en ons laat mislei het deur die blink en breedsprakige leiers en hulle goue kalwers nie – dan sou ons nie die bitter water moes drink en deur giftige slange gekonfronteer gewees het nie.”  In dieselfde woestyn waarin die volk die bitter water en die giftige slange moes trotseer, wou Yahweh die dinge doen waaroor Hy in Hoshea 2 praat: na hulle hart praat, ‘n deur van hoop vir hulle oopmaak, ensovoorts.

Die probleem is egter dat hulle die woestyn as hulle beloofde land omhels het.  Natuurlik eers nadat hulle in ongehoorsaamheid hulle rug op Yahweh gedraai het, nadat hulle toegelaat het dat hulle “blink en breedsprakige leiers” hulle mislei het en nadat hulle tevrede teruggesit het. Wat beteken dit om die woestyn as jou beloofde land te omhels?  Die minste wat dit beteken is dat jy begin dink die sleg en die ellende van die woestyn is maar hoe dit moet wees.  Daar is nie iets beters nie.  Dis maar hoe die beloofde land lyk en jy moet vrede maak daarmee.  Maar wat jy vergeet is dat daar Een is wat vóór die woestyn al met jou gepraat het – wat sy woorde en sy morele kode vir jou gegee het en Homself aan jou bekend gemaak het.  Een wat jou geïnspireer het om Hom te volg en jou wêreld rondom sy woorde in te rig.  Maar toe loop dinge skeef en jy vergeet sy woorde en begin luister na die “blink en breedsprakige leiers” en gaan sit ewe knus op jou gemakstoel waar jy dinge op jóu manier doen en nie langer op sý manier nie.  En jy omhels hierdie woestyn as jou beloofde land. 

Wat Hoshea 2 vir ons sê is dat daar oneindig méér in die woestyn opgesluit lê as wat ons gedink het.  Voordat ons nog nie die stem van Yahweh in die woestyn gehoor het waar Hy na ons hart praat nie en ‘n deur van hoop vir ons oopmaak en ons verlore jeug aan ons teruggee nie, is ons nog baie ver van die beloofde land af!  Voordat ons nog nie fisies teruggedraai het na Yahweh en op sy aanbod van ‘n nuwe verbond gereageer het nie, kan ons nie eers droom van ‘n beloofde land en ‘n verlowing tot in ewigheid nie (‘n verlowing met niemand minder nie as Yahweh, die koning van die heel magtigstes wat daar is – só staan daar in dieselfde Psalm 95 waaroor Barend Vos hierbo geskryf het).  Gaan ek en jy ons woestyn waaroor ons al so baie gemurmureer het, uit moedeloosheid as die beloofde land omhels, of gaan ons ons oë en ons ore en ons harte oopmaak vir die Een wat nie kan wag om hier binne-in die woestyn met ons te praat nie?  Hoshea 2:14 sê dit onbeskryflik en ongelooflik treffend:  “Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart praat.”  Moenie die lokstem van Yahweh met jou eie woorde van moedeloosheid doodpraat nie.  Moenie die kans deur jou vingers laat glip om van die “hoop-lose” kant na die “hoop-volle” kant van die woestyn te beweeg nie.  As jy fyn luister, sal jy selfs die toon van hoopvolheid in die stem van Yahweh hoor as Hy sê: Hoe begeer Ek nie om jou uit die vallei van Agor (letterlik:  die vallei van benoudheid) uit te bring en jou by die deur van hoop te laat ingaan nie!

No tags for this post.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »