DIE BETEKENIS VAN DIE 50 DAE

alternate textDaar is ‘n dimensie wat met die aftel van die omer te make het, wat ontsettend belangrik is en wat ons nooit uit die oog uit moet verloor nie.  Die periode van 50 dae wat bekend staan as “the counting of the omer” mag vir baie mense voel soos ‘n oefening in die geloof wat nie baie nut het nie.  Hoekom moet ‘n mens die dae en die weke tussen Pesag en Shavuot aftel?  Het dit enige betekenis om so iets te doen?  Hoe lank neem dit ‘n mens normaalweg om tot by vyftig te tel? Vyftig sekondes, as jy stadig tel.  Hoekom moet dit uitgerek word na 50 dae? Kom ons probeer ‘n bietjie uitvind.

Die oorspronklike beginpunt en eindpunt van die aftelling van die omer staan vir twee van die grootste en mees formidabele gebeurtenisse in die hele Skrif – die Uittog uit Egipte (Pesag) en die Ontvangs van die Torah (Shavuot).  Volgens alle aanduidings het daar vyftig dae (Grieks: “pentecoste hemera”) tussen hierdie twee belangrike dae verloop.  Met al twee hierdie gebeurtenisse het Yahweh sy grootheid en sy krag teenoor sy volk gedemonstreer.  By Egipte en dit wat met die Egiptenare gebeur het, het die volk die sterke hand en die uitgestrekte arm van Yahweh in aksie gesien.  By Sinai en dit wat op en rondom die berg gebeur het, het hulle die ligglans van Yahweh se teenwoordigheid en die impak van sy woorde so intens beleef dat hulle gebewe het van vrees en ontsag.  Toe verloop daar meer as 1200 jaar waarin die twee groot verwysingspunte in die doen en late van die volk en in die boodskap van hulle profete, dieselfde twee gebeurtenisse was:  Die Uittog uit Egipte en die Ontvangs van die Torah.  Na hierdie twee landmerke moes hulle telkens terugkyk en hulle eie optrede daaraan oriënteer. En dit was veral die taak van hulle profete om hulle gereeld daaraan te herinner wat presies met Pesag en met Shavuot gebeur het.  Hoe hulle voorvaders met hulle eie oë die magtige werke van Yahweh gesien het. En hoedat die een geslag na die ander wonderwerk op wonderwerk met hulle eie oë aanskou het. En hoe belangrik dit was om te weet dat hierdie Een wat met hulle ‘n verbond gesluit by Sinai (“Ek sal vir julle ‘n Elohiem wees en julle moet vir ‘n volk wees”), gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde bly en nog steeds wonderwerke in die midde van sy volk wil en kan doen. 

En toe, na afloop van 12 eeue, verskyn daar Een op die toneel wat binne ‘n periode van 33 jaar as ‘n besonderse profeet, die beloofde Messias en die Gesalfde van Yahweh geïdentifiseer word.  Dit het gebeur deur die eenstemmige getuienis van talle mense wie se paaie met Hom gekruis het – sy familie, sy kleiner kring van dissipels, sy groter kring van dissipels, sy latere volgelinge van wie Paulus of Shaúl die voorloper was, asook die skrywers van die evangelies en briewe wat later as die Nuwe Testament bekend gestaan het. En as ons na Y’shua se lewe en boodskap en nalatenskap (“legacy”) kyk, is daar TWEE GROOT GEBEURTENISSE wat uitstaan:  Dit wat rondom die Pesag vóór sy hemelvaart gebeur het en dit wat op die Shavuot ná sy hemelvaart gebeur het. 

Op die Pesag vóór sy hemelvaart, is Y’shua tereggestel (op dieselfde dag toe baie ander hulle Pesaglammers geslag het) nadat Y’shua vroeër valslik van lastering beskuldig is. Drie dae later, op die dag wanneer die aftelling tot by Shavuot normaalweg begin, is Y’shua uit die dood uit opgewek en het Hy lewend voor talle mense verskyn – eers aan die mense naaste aan Hom en later aan andere ook, en nog later aan “meer as 500 broers tegelyk” ( 1 Kor 15:6).  Dit alles het in die periode van die aftelling van die omer gebeur.  Op die Shavuot ná Y’shua se hemelvaart, die 50ste dag van die aftelling, het ‘n groot skare in Jerusalem vir die fees opgedaag. Dit was een van die mees merkwaardigste Shavuot byeenkomste waarvan ons weet.  Daar was buitengewone tekens wat plaasgevind het (‘n geweldige rukwind, tonge soos van vuur en mense wat skielik in tale begin praat het wat voorheen vir hulle onbekend was) en nadat Kefa (Petrus) ‘n boodskap gebring het met Y’shua se opstanding as die hooftema, het ongeveer 3000 mense tot inkeer gekom en hulle in die Naam van Y’shua laat doop – waarskynlik in die mikva’s (rituele baddens) wat nie ver van die tempel as was nie. 

Kom ons keer terug na die vraag watter betekenis dit vir ons het om die dae en die weke tussen Pesag en Shavuot af te tel.  Nie net in Mosheh se tyd nie maar ook in die tyd van die Een wat meer eer waardig geag is as Mosheh (Heb 3:3) was hierdie ‘n tyd waarin Yahweh sy groot krag en sy magtige arm aan sy mense en aan die wêreld gedemonstreer het.  Nie alleen aan die begin en aan die einde nie, maar ook gedurende die periode van 50 dae, kon die groot werke van Yahweh duidelik gesien word – dink aan die “brood uit die hemel uit” (manna) in Mosheh se tyd en die Een wat homself bekend gestel as “die brood uit die hemel uit” (Joh 6:41) wat voor die oë van sy volgelinge gedurende die 50 dae vóór Shavuot na die hemel toe opgevaar het.  So, wat help dit ons om die 50 dae af te tel?  Dit help ons om te onthou dat Yahweh gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is.  Dat Hy in staat is om vandag nog steeds met sy sterke hand en sy uitgestrekte arm in te gryp in ons lewens.  Dat die tyd van wonderwerke nie verby is nie.  Dat daar geen einde en geen perke aan sy almag is nie. 

Vandag is dit die 21ste dag.  Wat is die betekenis van hierdie dag?  Dit lê ingebed tussen die eerste dag en die 50ste dag.  Dit lê iewers tussen die wonderwerke van Een wat jou kan bevry van slawerny (Egipte) en Een wat jou (soos ons verlede week gesien het) op die Berg (Sinai) sy teenWOORDigheid kan wys en sy WOORDe kan openbaar.  En op dieselfde manier lê hierdie dag iewers tussen die wonderwerk van die Opstanding uit die dood en die Uitstorting van Yahweh se Gees.  As hierdie soort wonderwerke aan die begin en aan die einde kon gebeur, kan dit êrens in die middel ook gebeur.  En as dit gedurende die 50 dae kan gebeur, kan dit na afloop van die 50 dae ook gebeur.  Die 50 dae is net ‘n gedeelte – ongeveer een sewende – van die hele jaar.  Maar dit gee die toon aan vir die res van die jaar.  Dit lê ‘n patroon neer van lewe met die oog op die sterk hand van Yahweh.  Dit is bedoel om ons geloof en ons verwagting in Yahweh sterk en onwankelbaar te maak. Soos wat Hy na afloop van daardie eerste 50 dae aangehou het om wonderwerke in die midde van sy volk te doen (soos water wat uit ‘n rots vloei, Aharon se staf wat bloeisels voortbring, Bielám se donkie wat met hom praat, die Jordaan se water wat ‘n pad vir die volk maak om deur te beweeg en Jerigo se mure wat soos ‘n kaarthuis inmekaar tuimel), só word ons met die aftel van elke dag daaraan herinner dat ons Elohiem vandag nog steeds wonderwerke kan doen.  En soos wat Yahweh na afloop van die Shavuot in Handelinge aangehou het om wonderwerke in die lewens van sy Seun se volgelinge te doen (soos die verlamde man wat in die tempel genees is, Tabita wat uit die dood opgewek is, Kefa wat wonderbaarlik vrygekom het nadat hy in boeie in ‘n tronk was, en nog baie meer tasbare en onbetwisbare wonderwerke wat in Handelinge beskryf word), net so help elke dag wat ons hierdie tyd van die jaar aftel, ons om te besef dat die dag van Yahweh se ingryping in ons lewens, nie ‘n dag is waarna ons tevergeefs uitsien of verlang nie. 

In die Torah leesstuk van hierdie week is daar duidelike aanduidings dat hulle wat Yahweh lief het en sy Woord en Torah navolg, kan verwag dat daar wonderwerke in hulle lewens gaan plaasvind.  Lev 26:8 “Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tien duisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard.”  Die twee gedeeltes wat saam met hierdie gedeelte gegroepeer word in die leeslys, is Jer 16:19 – 17:14 en Mat 16:20 – 28.  Persoonlik sou ek Mat 16:19 graag wou insluit, veral omdat dit aansluit by dieselfde tema waaroor ons tot dusver gepraat het.  Jer 16:19 is baie bekend:  “O Yahweh, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërf, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie.” Ons almal ken die laaste deel, maar vergeet soms die eerste deel van hierdie vers:  Dat Yahweh ons sterkte en ons beskutting is en ons toevlug in die dag van benoudheid.  Dis woorde wat ons herinner aan sy magtige arm en sy inherente vermoë om deur wonderwerke uitkoms te gee wanneer ons in benoudheid kom.  Mat 16:19 is net so bekend, en die (toevallige) getal-ooreenkoms is opvallend (vergelyk die 16:19): “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” Die Katolieke Kerk meen hierdie vers gee aan die pous ‘n soort onbehoorlike outoriteit om mense, byna met die klap van ‘n vinger, in die koninkryk in te stoot, of uit die koninkryk uit te sluit.  Die res van die Skrif is egter eenstemmig daaroor:  Die een met die sleutel, die een met die outoriteit, is nie ‘n mens nie, maar Yahweh alleen.  As jy aan sy kant is, dan is Hy aan jou kant en dan het jy dieselfde mag wat 5 mense teen ‘n oormag van 100 het en honderd mense teen ‘n oormag van 10000.  Daar is nie ‘n mens of ‘n getal mense of ‘n mag van hierdie wêreld wat kan bly staan teen die almag van Yahweh nie. 

Ek het na ‘n paar ander voorbeelde van 16:19 in die Skrif gaan kyk en die herhaling van hierdie tema was opvallend:  Job 16:19 “Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes” (Om ‘n getuie of ‘n bondgenoot op die aarde te hê, is in tye van die grootste nood nie altyd veel werd nie, maar om ‘n Getuie in die hemel te hê, maak die wêreld se verskil); 1 Kron 16:19 (lees saam met 20-22) “Toe julle min mense was, min en vreemdelinge daarin, en julle getrek het van nasie tot nasie … het Hy niemand toegelaat om julle te verdruk nie … en gesê: Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie (Wat meer kan ‘n mens in hierdie lewe verlang as dat die Almagtige Hom aan jou kant skaar en vir jou verdrukkers sê: Raak my gesalfdes nie aan nie?);  Mar 16:19 “Nadat die Meester dan met hulle gepraat het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van Elohiem” (Hierdie gebeurtenis, die hoogtepunt van die “middel-periode” van die 50 dae tussen Pesag en Shavuot daardie jaar, is die beste opsomming van die bevoorregte posisie waarin ons as volgelinge van die Messias ons bevind: Ons voorspraak en ons bron van krag is die Een aan die regterhand van Elohiem wat deur Elohiem self met mag en outoriteit beklee is en wat ons uit elke vorm van nood kan verlos. Daar is niks meer wat mens hier op aarde kan begeer nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »