BEWAKERS VAN DIE VUUR

alternate textIemand het eenmaal gesê: Religion is not what many people think it is: mute, marginal and mild. It is like fire, it warms but it also burns. And we are the guardians of the flame.

Die tema van vuur verskyn in al drie die leesgedeeltes wat vir hierdie week voorgestel word: Lev 10; 2 Sam 6 en Mat 3. In Lev 10 het Nadav en Avihu vreemde vuur voor die aangesig van Yahweh gebring, waarop Yahweh hulle met vuur uit die hemel verteer het. In 2 Sam 6 het Uzza die ark op ‘n bewegende wa probeer stabiliseer, waarna Yahweh hom met ‘n vorm van vuur getref het en hy gesterf het en in Mat 3:10-12 sê Johannes die Doper: Die byl lê teen die wortel van die bome. “Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat na my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Afgesonderde Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.”

Meeste mense is baie vinnig om veral die twee voorvalle van Nadav en Avihu en van Uzzia uit te sonder as sogenaamde “bewyse” dat die Elohiem van die Ou Testament nie dieselfde een kan wees as die Elohiem van liefde in die Nuwe Testament, wat sy eie Seun vir die sonde van die wêreld gegee het nie. Of dit is dieselfde Elohiem, sê hulle, maar Hy het die reëls en die speelveld verander en daarom is dit nie meer nodig om die ou stel reëls, die Torah, na te kom nie. Maar die vraag is net: Wat maak ons met gedeeltes soos Ps 102:27, Jes 41:4 en Mal 3:6 wat uitdruklik sê dat Yahweh nooit verander nie? En wat maak ons met Johannes wat sê dat Y’shua mense met vuur doop, Korintiërs wat sê dat ons werke deur vuur openbaar gemaak sal word, Hebreërs wat sê dat ons Elohiem ‘n verterende vuur is en Openbaring waarin die woord “vuur” nie minder nie as 21 keer voorkom?

Daar is geen twyfel nie. Die Elohiem wat sy Seun na hierdie wêreld gestuur het en die Elohiem wat sy Torah vir Israel gegee het, is presies dieselfde Elohiem. En Hy het nie een duimbreedte verander nie. Sy liefde vir mense was nog altyd volmaak. Daarom is dit onmoontlik dat dit op enige stadium meer of minder kon geword het. So, hoe moet ‘n mens die episodes van Nadav en Avihu en van Uzzia verstaan? Die sleutelwoord hier is AFGESONDER. Nadav en Avihu het die beginsel van afgesonderdheid verontagsaam. Presies op watter manier, weet ons nie. Maar hulle het binne die ruimte wat Yahweh vir Homself afgesonder het, opgetree op ‘n manier wat gesê het (en ons kan vir Uzzia hierby insluit): Dit maak nie regtig saak nie; ons buig die reëls net so ‘n bietjie; ons gebruik ons eie diskresie; ons vat net ‘n klein stukkie van die afgesonderdheid en trap met ons voete daarop. En die uiteinde was dat hulle nie net hulle vingers verbrand nie, maar sélf totaal verteer word.

Waarom is afgesonderdheid so belangrik? Die tabernakel en die tempel en alles wat daarin was, was die ruimte wat Elohiem vir Homself eenkant gesit het en wat nie deur enige iets van buitekant af besoedel mag word nie. Daar is ‘n sekere gedeelte van die tyd en die mense en die ruimte in hierdie wêreld wat Yahweh vir sy eie teenwoordigheid gereserveer het. Onder die afgesonderde tye tel die sewende dag en die sewende maand en die sewende jaar en die jubeljaar (aan die einde van periodes van sewe maal sewe jaar). Onder die afgesonderde mense tel die hoëpriester (insluitend die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek), die priesters (insluitend die afgesonderde priesterdom wat Y’shua deur sy bloed gekoop het) en die volk Israel (insluitend hulle wat by Israel ingeënt is). Onder die afgesonderde ruimte tel alles wat te make het met die tabernakel en die tempel (insluitend die gelowiges in die Messias wat gereeld in die Skrif as die tempel of die huis van Elohiem beskryf word).

Wanneer dit by Yahweh se afgesonderde tye en plekke kom, verwag Hy van ons die aspek van selfverloëning. Hier (in hierdie tye en plekke) gaan dit oor Yahweh – vergeet van jouself, vergeet van jou eie idees, moenie probeer om te rasionaliseer nie, moenie kortpaaie kies nie, moenie toelaat dat die wêreld daarbuite jou denke besoedel nie. Dis Yahweh wat dit vir Homself afgesonder het – in hierdie area word daar van jou gevra om jouself te verloën en jouself in te perk. Die merkwaardige is dat Yahweh Homself ook “ingeperk” het om vir ons ruimte te maak. Is vergifnis en om af te daal na ons vlak en om te luister na ons noodkrete en om telkens nog ‘n kans te gee en om bemoeienis te maak met ‘n nietige mens, dan nie ‘n vorm van inperking nie? Net soos wat Yahweh ruimte maak vir ons as mense deur ‘n daad van selfbeperking, net so verlang Hy van ons om ruimte te maak vir Hom deur te kies om onsself te beperk wanneer dit kom by dit wat Hy vir Homself afgesonder het. Met so ‘n reëling wil Hy nie ons inisiatief en ons vrye wil onderdruk nie. Hoegenaamd nie. Dis juis Hy wat vir ons inisiatief en ‘n vrye wil en goeie begeertes gegee het. Maar Hy wil hê dat ons hierdie positiewe eienskappe sáám met Hom in sy skepping moet gebruik – nie téén Hom nie.

Die hele Skrif – voor die Messias en na die Messias – is deur en deur die storie van Yahweh se liefde vir ons. Dit gaan oor die onbegryplike liefde van die Skepper vir die mense wat Hy geskep het. Hoeveel keer het ons Hom nie al teleurgestel nie? Hoeveel keer het ons nie al sy liefde in sy gesig teruggegooi nie? Hoeveel keer het ons Hom of sy Seun nie al verloën nie? Maar nog steeds wil Hy hê dat ons met Hom in aanraking moet kom en Hom deel van ons lewens moet maak. Nie omdat Hy ons nodig het nie, maar omdat ons Hom nodig het. As ons werklik begeer dat ons omgewing deur liefde en regverdigheid en respek en integriteit deurdrenk moet word, moet daar oomblikke en plekke in ons lewens wees waar ons die “ek” eenkant toe skuif sodat die waardes en die volheid van die Skepper ook deel van ons bestaan kan word. Hy is die een wat ons gemaak het. Niemand weet beter as Hy wat ons nodig het nie. En Hy het verklaar dat ons dit nodig het om van tyd tot tyd die arrogante “Hier is ek” in ons binnekant stil te maak en die ingeboude verlange van “Waar is U” toelaat om ons gedrag om te swaai sodat Hy sy regmatige plek in ons lewens kan inneem.

Wanneer ons Yahweh se afgesonderde tye en plekke en dinge met ons eie selfgesentreerdheid verontagsaam, beteken dit eintlik dat ons Yahweh se wil met ons eie wil verwar. Dit is dieselfde fout wat met sogenaamde “heilige oorloë” gemaak word. Iets wat bedoel was om afgesonder te wees, soos geloof en ywer en toewyding aan Yahweh, word ingespan vir menslike ideale – as ‘n verskoning om verwoesting te saai en mense dood te maak. Net soos Nadav en Avihu en Uzzia het Christene, Moslems, Boeddhiste en Nazi’s (ja, selfs ook Jode) regdeur die geskiedenis die fatale fout gemaak om te dink dat die afgesonderde of die “heilige” ruimte waarbinne hulle opgetree het, is só allesoorheersend dat dit nie saak maak om van “onheilige” metodes gebruik te maak nie. Hulle het vergeet dat as jy nie reg werk met vuur nie, dan word jy uiteindelik self deur daardie vuur verteer.

Ons wat in die Messias glo, is volgens die woorde van Johannes die Doper met die Gees van Yahweh en met vuur gedoop. Die teenwoordigheid van die Gees van Yahweh in ‘n mens kan jou nie onaangeraak laat nie. Die werklikheid van die geloof in die Messias en die groeiende ontdekking van wat hierdie geloof beteken, is soos ‘n vuur wat in ‘n mens se binneste aangesteek word. Die besef van die grootsheid van Yahweh se liefde en guns en die ervaring van sy teenwoordigheid, en die gemeenskap met sy Seun, is soos die strelende warmte van ‘n kaggelvuur op ‘n koue winterdag. Laat ons altyd onthou dat ‘n vuur op twee maniere kan werk. Dit kan jou warm en knus maak of dit kan jou brand. Kom ons volg in die voetspore van Y’shua wat die Afgesonderde genoem word. Kom ons hou ons besig met dit waarmee Hy Hom besig gehou het en los die dinge wat Hy gelos het. Kom ons leer by Hom oor selfverloëning en opoffering en oor wat dit beteken om Yahweh lief te hê met jou hele hart en siel en verstand. Kom ons leer by Hom oor “nogtans nie my wil nie, maar u wil alleen”. Kom ons aanvaar die verantwoordelikheid om “guardians of the flame” te wees. Om die vuur van suiwering en die vuur van entoesiasme aan te steek waar dit aangesteek moet word. Om nooit bang te wees om op te staan vir die waarheid nie, al is dit ‘n vonk wat ‘n vuur kan veroorsaak. Maar om aan die ander kant te besef dat ons as “guardians of the flame” die afgesonderde tye en dinge en mense moet beskerm, volgens die riglyne wat Yahweh neergelê het en nie volgens ons eie menslike idees nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »