BEWAAK JOU HART!

alternate textTwee weke gelede het ons oor die tema van die mens se hart en gees gepraat en gesien hoe ‘n belangrike plek dit inneem binne die breë boodskap van die Skrif. Ons het gesien dat hart en siel dikwels na die dieselfde aspek (of aspekte) van ons mens-wees verwys: die aspekte van ons denke en gedagtes, ons wil en ons begeertes, asook ons emosies en ons gemoed. Ons het ook gesien dat Psalm 51:10 aandui dat ‘n rein hart en ‘n vaste gees nie van mekaar losgemaak kan word nie. Trouens, hart en gees word dikwels as wissel-woorde of sinonieme in die Skrif gebruik, soos mens kan sien in verse soos Deut 2:30 (hy het sy gees verhard en sy hart verstok); Ps 34:18 (Yahweh is naby dié wat gebroke is van hart en verslae van gees); Ps 78:8 (‘n geslag met ‘n onvaste hart en ‘n ontroue gees); Ps 143:4 (my gees versmag en my hart verstyf); Spr 15:13 (by verdriet van die hart is die gees neerslagtig); Eseg 18:31 (Ek sal vir julle ’n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee) en Dan 5:20 (sy hart het hom verhef en sy gees het hom oormoedig gemaak). Wat ons dink en wat ons sê en wat ons doen en wie ons uiteindelik is, het sy oorsprong hier binne-in ons – by daardie plek of daardie bron of daardie fakulteit wat in die Skrif, meeste van die kere, as DIE MENSE SE HART beskryf word. Daarom is dit vir ons so belangrik om nie net ons eie harte te ondersoek en te ken nie, maar ook om dit te bewaak en te bewaar, soos wat Spreuke 4:23 ons oproep om te doen: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”

In die wêreld daarbuite, heeltemal los van die Skrif, maar ook heeltemal los van die hart as ‘n fisiese orgaan, word die wesenlike rol van die hart binne die mens se bestaan hier op aarde, dikwels op treffende maniere uitgebeeld. Daar kom stellings oor die hart voor in bekende boeke en in die uitsprake van bekende persoonlikhede, wat ‘n mens nogal laat dink: Soos dat die hart dinge kan sien wat die oog nie kan sien nie (“And now here is my secret, a very simple secret: It is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye” – The Little Prince). Of dat die klank van woorde as minder belangrik geag word as die begeertes van die menslike hart (“Prayer is not asking. It is a longing of the soul. It is daily admission of one’s weakness. It is better in prayer to have a heart without words than words without a heart – Mahatma Gandhi). Of dat daar onontginde skatte in die dieptes van die mens se hart opgesluit lê (“The heart of man is very much like the sea, it has its storms, it has its tides and in its depths it has its pearls too” – Vincent van Gogh). Of dat die hart dikwels die stryd tussen die hart en die verstand wen (“When the heart speaks, the mind finds it indecent to object” – The Unbearable Lightness of Being). Of dat ware rykdom iets is wat nie in bankrekenings gesien kan word nie, maar in mense se harte (“You are not rich until you have a rich heart” – Roy Bennett). Of dat swaarkry en wonde, op die lange duur, goed kan wees vir die hart (“Pleasures may turn a heart to stone, riches may make it callous, but sorrows cannot break it. Hearts live by being wounded” – Oscar Wilde). En dan is daar die bekende gebed van Augustinus waarna ons al dikwels verwys het en wat vir my die kroon span oor alles wat enige mens oor die hart kan sê: “You have made us for yourself, O Master (Yahweh), and our heart is restless until it finds its rest in you.”

In sommige van die films wat oor die afgelope dekade of wat gemaak is, word daar van die mens se hart gepraat op ‘n manier wat baie sterk herinner aan die manier waarop Bybelskrywers 1000’de jare gelede ook oor die mens se hart gepraat het. Die mens se hart kan moeg word en eensaam wees en in die dieptes van volslae moedeloosheid wegsink. Jou hart kan jeuk en uitskree en seer wees en uitlek. Jy kan jou eie hart uitbring en op jou mou dra of jy kan dit opkrop en toe pleister in jou binneste. Jou hart kan donker en onvoorspelbaar en ongenaakbaar wees, of dit kan die mooiste en kosbare deel van jou hele voorkoms wees. Hier is net drie voorbeelde uit drie redelike bekende films:

(1) “Sometimes my heart was sinking so fast with anger, desolation and weariness, I was afraid it would sink to the very bottom of the Pacific and I would not be able to lift it back up” – Piscine, alias Pi Patel, in die rolprent, “Life of Pi”; (2) “Somewhere, far down, there was an itch in his heart, but he made it a point not to scratch it. He was afraid of what might come leaking out” – Die hoofkarakter, Liesel, se beskrywing van Alex Steiner, pa van haar vriend, Rudi Steiner in “The Book Thief”; (3) “Perhaps it is good to have a beautiful mind, but an even greater gift is to discover a beautiful heart” – verwysend na die briljante brein van John Nash, gespeel deur Russell Crowe, in die film, “A Beautiful Mind”.

Boeke en films alleen is egter nie voldoende om vir ons te help om ons eie harte te leer ken nie, en is veral nie die beste plek om as gelowiges te gaan uitvind hoe ons ons harte kan bewaar en bewaak nie. Yahweh het ons immers vir Homself gemaak en ons harte sal onrustig bly in ons, totdat dit rus vind in Hom! (weer eens Augustinus). Hierdie waarheid word oor en oor in die Skrif beklemtoon: Om van die hardheid in ons harte (en in ons nekke) ontslae te raak, is dit nodig dat die voorhuid van ons harte besny moet word (Deut 10:16); ware vervulling in hierdie lewe is wanneer jou hart met die woorde van Yahweh vervul is (Deut 11:13-18); as ‘n mens nie bereid is om jou met jou hele hart tot Yahweh te bekeer nie, kan jy nie verwag dat Hy Hom na jou toe moet keer (of moet draai) wanneer jy in nood is nie (1 Sam 7:3). Behalwe dat die Woord vereis dat ons ons met ons hele hart tot Yahweh bekeer, vereis dit ook dat ons Hom met hele hart sal soek (Deut 4:29); Hom met ons hele hart sal liefhê (Deut 6:5); Yahweh met ons hele hart sal dien (Deut 10:12); sy gebooie met ons hele hart sal onderhou (Deut 26:16); met ons hele hart na Hom sal luister (Deut 30:2); met ons hele hart aan Hom getrou sal wees (1 Kon 2:4); met ons hele hart voor sy aangesig sal wandel (1 Kon 8:23); dat ons Hom met ons hele hart sal loof (Ps 9:1) en met ons hele hart na Hom toe sal terugkeer wanneer ons van sy weë afgewyk het (Jer 24:7).

Boeke en films en skrywers en digters en “life coaches” wat nie met Yahweh en sy Woord rekening hou nie, verstaan nie die diepste nood van die mens se hart soos wat die Skrif dit verstaan nie. Iemand wat nie die barmhartige Elohiem van die Woord ken nie (die Een in wie se hart daar groot ruimte en voortdurende goedheid is), kan nie met outoriteit praat oor ware goedgunstigheid nie (Ex 34:6 “Yahweh, Yahweh, barmhartige en goedgunstige El, stadig om kwaad te word en groot van goedertierenheid en trou”). So iemand verstaan nie die nuanses van barmhartigheid soos ons dit aantref by ons hemelse Vader alleen nie, onder andere die afwend van toorn (Deut 13:17), die omvang van sy vergifnis (1 Kon 8:50), die kapasiteit om stadig kwaad te word (Neh 9:17), die ontroering van sy binneste wanneer Hy dink aan hulle wat Hy liefhet (Jes 63:15), die grensloosheid van sy gunsbewyse (Klaag 3:22), die feit dat barmhartigheid vir Hom belangriker as enige offer of enige vorm van aanbidding is (Mat 12:7 en 23:23) en die besondere soort barmhartigheid wat Hy aan ons bewys het deur ons lewend te maak deur die dood van sy eie Seun (Efes 2:4-5).

Wat beteken dit prakties, in die lig van die Woord, om jou hart te bewaak of te bewaar? Dit beteken om elke vorm van ongeregtigheid en ongehoorsaamheid wat daar in jou doen en late, dit wil sê in jou uitleef van die Woord, en in jou patroon van lewe en in jou hantering van mense mag wees, te erken, te bely en uit jou lewe te verwyder (Job 11:13-14). Dit beteken om daadwerklik op te hou met leuens, vleiende lippe en dubbelhartigheid (Ps 12:2). Dit beteken om teenoor jouself te erken dat jou hart jou wel mag mislei, maar dat daar ‘n deel van jou hart is wat oor die vermoë beskik om die waarheid te omhels en dat jy in sulke gevalle jou hart sal glo en nie die bulderende stem van die meerderheid “daarbuite” nie (Ex 23:2 en Ps 15:2). Dit beteken om jou hart te voed en te versorg deur voortdurend te fokus op die bevele en die beloftes en die bemoediging van die Woord, sonder om dit op enige manier volgens jou eie begeertes te verdraai (Ps 19:8 en Jer 15:16). Dit beteken om ‘n keuse te maak ten gunste van die waardes van die Woord en ten koste van die obsessie met ander soort waardes soos materialisme (oordrewe klem op materiële dinge), egoïsme (oordrewe klem op die “self” en jou eie belange), altruïsme (oordrewe klem op die belange van die mense rondom jou, dikwels aangedryf deur die beginsel van “the greatest good for the greatest number”), emosionalisme (oordrewe klem op die emosie as bepalende faktor vir jou optrede) en formalisme (oordrewe klem daarop om dinge formeel en uiterlik “reg” te doen, sonder die inagneming van beginsels soos omgee, liefde en geregtigheid).

Ten slotte, daar is geen hoofstuk in die Skrif wat duideliker en meer prakties oor die bewaring van die hart praat, as Spreuke 23 nie: Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis (v.12); My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug (v.15); Laat jou hart die sondaars nie beny nie (v.17); Rig jou hart reguit op die weg van Yahweh (v.19); My seun, gee my jou hart, en laat jou oë ‘n begeerte hê na my weë (v.26); Waak daarteen dat jou oë vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge praat (v.33). In aansluiting hierby kan ons byvoeg 1 Joh 3:18-19: My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. Want hieraan (dws uit die voorafgaande) weet ons dat ons uit die waarheid is; en sal ons harte ons voor Hom gerusstel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »