WAAROP IS JY GEFOKUS?

alternate textDie drie gedeeltes wat hierdie week saam gegroepeer word in die leesprogram wat ons volg, is Wayiekkra/Levitikus 25 (met riglyne wat te make het met die Sabbatsjaar en die Jubeljaar), YermeYahu/Jeremia 32 (waarin die profeet die ongewone, profetiese opdrag kry om net voordat die volk in ballingskap geneem word, vir hom ʼn stuk grond te koop, met die belofte van Yahweh dat “daar weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop sal word”) en Lukas 13 wat een van die gedeeltes in die Nuwe Testament is waarin ons Y’shua as profeet ontmoet en waarin Hy uitdruklik verklaar dat Hy Jerusalem toe móét gaan omdat Jerusalem by uitnemendheid die plek is waarin Israel nog altyd sy profete doodgemaak het.

fokus01Ons het in die bekende hawestad van Israel, Yafo, op ʼn plek naby die ou hawe afgekom waar daar ʼn groot, onvoltooide staalraamwerk van ʼn fabriek-tipe gebou was wat kunstenaars gebruik het om hulle kunswerke uit te stal. Hier langsaan is ʼn foto wat ek daarvan geneem het. Die kontras in hierdie toneel het my laat dink aan die vraag: Waarop is ek gefokus? Fokus ek op enkele grepe (of skilderye) van die lewe – die dinge wat ek van hou, dit wat mooi vir die oog is, en dit wat maklik mense se aandag sal trek – of kry ek dit reg om op die groter prentjie te fokus – die massiewe struktuur, wat nog nie klaar gebou is nie en ook nie so indrukwekkend vir die oog is nie, maar wat die ophangplek vir die skilderye is en die belofte inhou van iets baie groter en veel meer skouspelagtig as wat nou gesien kan word?

In Wayiekkra 25, met die reëls oor die Sabbatsjaar en die Jubeljaar en die beginsel dat die land moet rus en dat slawe en werkers met respek en menswaardigheid behandel moet word, wil Yahweh sy volk leer om nie net op hulle eie klein wêreldjie te fokus nie. Dit wat ek hier en nou beleef, staan binne die groter konteks van ʼn sewe-jaar siklus (Sabbatsjaar) en ʼn vyftig-jaar siklus (Jubeljaar) en uiteindelik ʼn ewigheid waarin Yahweh sy beloofde koninkryk gaan oprig en waar daar beginsels en waardes sal geld wat ver verhewe is bo dit wat ons nou hier op aarde beleef. Net die blote feit dat ons op die oomblik in ʼn aftel-periode is, waarin ons volgens dieselfde patroon as die Sabbatsjare en die Jubeljare, tel tot by 50, is ook om vir ons daaraan te herinner dat ons altyd ons fokus op die groter prentjie van Yahweh se plan en Yahweh se volmaakte wil vir die mense van hierdie wêreld moet behou. Ons mag nooit so verstrengel en so verknog aan ons enkele, aardse skilderye raak, dat ons die groter bouwerk waarmee Yahweh besig is, uit die oog verloor nie.

In YermeYahu 32 is die tema van die Babiloniese ballingskap so oorheersend, dat meeste mense seker gedink het dis die einde van die pad vir Israel as ʼn volk. Maar op die punt dat hierdie verdoemende boodskap begin insink en almal met ʼn skok besef dat die hele volk uit Israel weggevoer gaan word, ontvang YermeYahu die duidelike opdrag van Yahweh dat hy vir hom ʼn stuk grond in Anatot, in die omgewing van Jerusalem, moet koop. ʼn Mens weet nie of jy moet frons of moet lag oor hierdie opdrag wat YermeYahu ontvang het nie. Maar dis ʼn opdrag wat uiteindelik vir die profeet, en vir die volk ʼn waardevolle les leer. Moenie net fokus op die hier en nou nie. Fokus op wat Yahweh kan doen en wat Hy gesê het Hy sal doen. Hy het dit voorheen al gesê. Maar in hierdie hoofstuk word dit opnuut herhaal: “Geen ding is vir Yahweh te wonderbaar (of: onmoontlik) nie” (vers 17, 27); “Daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word” (vers 15); “Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon” (vers 37); “Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit (hier is die groter prentjie wat hulle moes raaksien) … en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (vers 40); “Ek sal hulle sonder enige twyfel in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel” (vers 41).

In Lukas 13 bring Y’shua ook die broodnodige perspektief wat die mense van sy dag – en veral die godsdienstige leiers van sy dag – so min van verstaan het. Daar is ʼn groter prentjie, wat met die koninkryk van Elohiem te make het, wat ons nooit uit die oog moet verloor nie – maak nie saak met watter tipe skilderytjie jy op die oomblik in jou lewe besig is nie. Moenie julle blind staar (sê Y’shua) teen die 18 mense wat dood is toe die toring van Sheloag op hulle geval het nie. Dink aan wat met die duisende mense gaan gebeur wat hulle nie bekeer en wat nie die vrug dra waarvoor die tuinier jaar in en jaar uit aan sy vyeboom soek nie. Moenie vasval in jou eie beperkte verstaan van die Shabbat (en kla oor iemand wat op die Shabbat genees word) en in die proses die groter prentjie uit die oog verloor van mense wat dalk al jare lank siek en gebind en verslaaf en gewond is en wat dringend genesing en bevryding nodig het nie. En dink daaraan hoeveel beter so iemand die diepste betekenis van die Shabbat sal verstaan as hy of sy agterna kan sê: Op die dag van die Shabbat het Yahweh my lewe aangeraak en my siekte (of watter ander kwaal daar ook al mag wees) weggeneem en vir my iets van sy Groot Rus kon leer!

Y’shua maak dit duidelik vir sy hoorders dat die poort na die ewige lewe ʼn nou poort is en dat nie baie daardeur sal ingaan nie. Die feit dat daar in hierdie wêreld so baie mense is wat op die verkeerde tipe dinge fokus en as gevolg hiervan die belangrikste gebeurtenis van almal, naamlik die koninkryk van die hemel gaan misloop, word weereens deur Y’shua onderstreep, wanneer Hy sê dat die Eienaar van die huis op ʼn stadium die deur van sy huis sal sluit. Mense sal aan die buitekant van die deur staan en klop, maar die Eienaar sal antwoord: “Ek ken julle nie”. Die mense aan die buitekant sal allerlei redes opnoem waarom hulle meen dat die Eienaar die deur vir hulle moet oopmaak, soos dat hulle saam met Hom geëet het en Hom naby aan hulle toegelaat het, en selfs gelyk het asof hulle saamstem met sy leringe, maar Hy sal vir hulle sê: “Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!”

Tot vandag toe dink baie mense dat as hulle hulle net assosieer met Y’shua en in die geselskap bly van mense wat hulle met Hom assosieer, en deelneem aan besprekings oor Y’shua, sal hulle loshande in die koninkryk van die hemel instap. Ek is bevrees dat sommige mense so behep is met Y’shua (of met Jesus, of met die regte vorm van sy Naam, of wat ook al met Hom te doen het) dat hulle nooit gaan sit en luister het na wat hierdie uitmuntende Profeet werklik geleer het nie. Hier het ons werklik ʼn Profeet wat weer die fokus van mense wou terugbring by Yahweh die Allerhoogste, en by sy woorde wat vir ewig bly staan. ʼn Profeet wat nie (soos baie sogenaamde profete vandag) sê wat mense graag wil hoor en wat hulle goed laat voel oor hulleself nie, maar wat doen wat ʼn profeet veronderstel is om te doen: om voor (Grieks: “pro”) die mense, maar ook namens (Grieks: “pro”) Yahweh te praat (Grieks: “phemi” – waarvan die tweede deel van die woord “pro-feet” afgelei is). ʼn Profeet wat net vír en ná die mens praat, en nie namens Yahweh nie, sal nie onwelkom wees in Jerusalem nie. Maar ʼn profeet wat soos Y’shua verkondig en demonstreer dat die lewe nie net uit ʼn paar gewilde en bekoorlike skilderye bestaan nie en dat wat mense voor hulle oë kan sien, nie die enigste realiteit is nie, se kanse is goed om, soos sovele ander profete voor Hom, nie Jerusalem te oorleef nie. Nie net Jerusalem as ʼn fisiese stad nie, maar veral Jerusalem as ʼn simboliese stad waarin godsdienstige leiers en godsdienstige stelsels die septer swaai en die geestelike klimaat bepaal. Y’shua het stelling ingeneem teenoor enige geestelike klimaat waarin Yahweh se woorde verdraai en afgewater word en Yahweh se geregtigheid nie vol-uit erken word nie. Uiteindelik is Hy daarvoor doodgemaak. Maar sy dood en latere opstanding het vir ons kom wys hoe belangrik dit is dat ons fokus soos sy fokus moet wees. En hoeveel beter dit is om na die groter gebou te bly kyk, eerder as die aantreklike skilderye wat jou aandag aftrek van dit wat werklik saak maak in hierdie lewe.