VREDE SOOS ‘N RIVIER

alternate textDie Torah lesing van hierdie week (Ex 25 -27) gee ‘n beskrywing van die materiaal en die voorskrifte vir die bou van die tabernakel of die tentwoning, wat beskou is as die “woonplek” van Yahweh in die midde van sy volk (Ex 25:8 – Ook moet hulle vir My ‘n afgesonderde plek maak, dat Ek in hulle midde kan woon). Die gedeelte uit die profete wat saam met hierdie Torah-gedeelte gelees kan word, is YeshaYahu (Jesaja) 66. Hierdie hoofstuk begin as volg: “So sê Yahweh: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek (oftewel: “woonplek”) sal wees?” In die boek van Shemot (Exodus) vind ons dus ‘n beperkte, byna beknopte verstaan van die woonplek van die Allerhoogste. Die “woonplek” wat dáár beskryf word, is eintlik maar net ‘n tydelike lokaal om die volk te help verstaan dat Yahweh in hulle midde is en dat aan hulle die voorreg gegun word om nader te kan kom na Hom toe en selfs gemeenskap met Hom te kan beoefen. In die boek van YeshaYahu (Jesaja) is die fokus egter op die grootheid en die alomteenwoordigheid van Yahweh en die besef dat geen enkele woonplek of huis of tempel Hom kan “bevat” nie. Selfs die offers wat mense na Hom toe bring (by die plek wat hulle as sy “woonplek” beskou) is nie werklik hulle offers nie, want Sy hand “het al hierdie dinge gemaak en só het dit ontstaan” (Jes 66:2).

Tog is daar ‘n goue draad wat loop vanaf daardie eerste poging (in die boek van Shemot) om ‘n “woonplek” vir Yahweh te bou, deur die boek YeshaYahu, tot reg aan die einde – tot by daardie tyd waaroor die profete vir eeue lank geprofeteer het en waarvan die boek Openbaring uiteindelik getuig: “Kyk, die tabernakel van Elohiem is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en Elohiem self sal by hulle wees as hulle Elohiem” (Opb 21:3). Waarom word daar reg deur die Skrif soveel klem op Yahweh se woonplek of huis geplaas, en veral op die tentwoning en later die tempel wat met die fynste detail en volgens baie spesifieke voorskrifte gebou moes word? Die saak waaroor dit hier gaan, is in wese een van die mees sentrale temas wat in die groter prentjie van die verhouding tussen Yahweh en sy volk na vore kom – ‘n tema waarby ons nou alreeds ‘n hele paar weke stilgestaan het: Hoe is dit moontlik vir nietige en sondige mense om nader te kom en te bly leef, terwyl hulle voor die aangesig van Yahweh, die Almagtige verskyn? Kortom: Hoe kan ‘n mens met die Allerhoogste in ‘n egte verhouding staan? Jesaja 66 gee ‘n hele paar antwoorde op hierdie vraag, antwoorde wat vir ons as riglyne kan dien:

Die eerste riglyn: Wat Yahweh in die eerste plek soek, is mense wat arm is en verslae van gees en wat bewe vir sy woord, nie mense wat vol van hulleself, met hande vol offers en met monde vol bravade na Hom toe kom nie (Jes 66:2-3). Die sleutel hier is: mense wat bewe vir sy woord – anders sal Yahweh uiteindelik dinge oor hulle laat kom wat hulle REGTIG sal laat bewe en met skrik sal vervul (Jes 66:4)! Baie mense sal uit Jes 66:3 (Wie ‘n bees as offer slag, is soos hy wat ‘n man doodmaak; wie ‘n lam offer, soos hy wat ‘n hond se nek breek…) aflei dat dit nie meer vandag nodig is om die bepalinge van die Torah te onderhou nie, net soos wat hulle dit ook verkeerdelik uit die leringe van Y’shua die Messias aflei. Met so ‘n afleiding wys mense dat hulle nie bewe vir Yahweh se woord nie. Soos daar aan die einde van Jes 66:3 staan: “Hulle verkies hulle eie weë” en weer aan die einde van Jes 66:4: “Hulle verkies nie wat My behaag nie”. Die eerste voorvereiste vir ‘n mens om in ‘n egte verhouding met Yahweh te staan, is om te bewe vir sy Woord en nie toe te gee aan die versoeking om met ‘n donker pen, dik strepe deur sekere gedeeltes van sy Woord te trek nie.

Die tweede riglyn: Om waarlik gemeenskap met Yahweh te kan hê, vra ‘n keuse wat sal maak dat mense ná aan jou, selfs jou “broers”, jou sal verstoot en sal verag, ter wille van sy Naam. “Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat Yahweh roemryk word … maar hulle sal beskaamd staan!” Die ironie is dat hierdie broers wat terselfdertyd ook “haters” is, meen dat Yahweh roemryk word (d.w.s. geëer word) deur hierdie veragtende houding wat hulle inneem teenoor mense wat nie soos hulle glo nie! Het die Messias nie ook presies dieselfde gesê nie? Mat 10:22 “En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”

Die derde riglyn: Om met Yahweh in aanraking te kom, is meer soos ‘n geboorte as wat dit is soos ‘n besoek. Dis waarom ander gedeeltes in die Skrif die terugkeer na Yahweh as ‘n wedergeboorte beskryf. In Jesaja 66 kom hierdie tema ook na vore. “Tsion het weë gekry … sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge” (Jes 66:8, 11). “Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat verwek nie? sê Yahweh” (Jes 66:9). Die implikasies van ‘n geboorte is nuwe lewe, nuwe hoop en ‘n voortdurende, onafgebroke proses waarin ‘n mens die goeie en die minder goeie aanvaar en verwerk. Wat vas staan, is dat die Een wat hierdie geboorte moontlik gemaak het, op geen manier sy hand van sorg en bewaring sal onttrek, nadat hierdie geboorte plaasgevind het nie.

Die vierde riglyn: Die gevolge van so ‘n proses is oneindig méér en groter as die gevolge van ‘n blote besoek. Ongekende vreugde en blydskap (“Wees vrolik saam met haar [Tsion] , baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het … julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees! – vers 10 en 14). Vrede (“shalom”) wat totaal anders is as die dikwels oppervlakkige vrede van hierdie wêreld (“Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos ‘n rivier – vers 12). Rykdom, wat nie in geld terme gemeet word nie (“Die rykdom van die nasies kom na haar toe soos ‘n oorlopende stroom” – vers 12). Intieme, langtermyn versorging, vertroosting en gemeenskap (“Julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word … soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos” – vers 12 en 13).

Die vyfde riglyn: Wanneer individue (soos ons) uit die nasies van die wêreld die keuse maak om nader aan Yahweh te beweeg, vorm dit deel van die Groot Insameling wat volgens die Skrif in die laaste dae gaan plaasvind. “Die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge (d.w.s. tale) versamel; en hulle sal kom en my grootheid sien” (Jes 66:18). Hierdie insameling gee profetiese betekenis aan die hele offer-stelsel, wat ‘n groot deel van die Torah uitmaak – die naam van hierdie week se Torah lesing is juis “Terumah” wat “offerande” beteken en die profeet Jesaja vergelyk die “inkom” van gelowiges uit die heidennasies met die inbring van voedseloffers in ‘n rein voorwerp na die huis van Yahweh (“Hulle sal al julle broers bring uit al die nasies as offergawe aan Yahweh … na my afgesonderde berg, na Yerushalayiem … net soos die kinders van Yiesraél die voedseloffer in ‘n rein voorwerp bring na die huis van Yahweh”). Hy soek nie net mense wat voedseloffers bring (“rein voorwerpe”) nie. Nee, Hy soek mense wat hulleself as voedseloffers gee. Dis die enigste manier waarop daar egte gemeenskap kan plaasvind tussen die een wat die offers bring en die Een wat die offers ontvang.

Die sesde riglyn: Om voor die aangesig van Yahweh te kom, gee ‘n voorsmakie van die nuwe hemel en nuwe aarde waar die teenwoordigheid van Yahweh nie die uitsondering sal wees nie, maar die reël. Hierdie intieme en voortdurende belewenis van die teenwoordigheid van die Allerhoogste is die grootste vorm van beloning waarna enige gelowige kan uitsien. “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, sê Yahweh, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees” (Jes 66:22). Hierdie vers herinner ons daaraan dat alles wat nou so wisselvallig en onbetroubaar en van korte duur is, gaan verander en met ‘n ongekende bestendigheid vervang gaan word.

Die sewende riglyn: Om die Skriftuurlik voorgeskrewe tye van ontmoeting met die Allerhoogste te ignoreer of te verontagsaam, is om jouself te beroof van die geleenthede wat Yahweh self vir sy volgelinge ingestel het om gemeenskap met Hom te kan beoefen. Selfs ná die aanbreek van die nuwe hemel en die nuwe aarde, gaan ontmoetingstye soos die Shabbat en die nuwemaan nog steeds ‘n wesenlike rol speel in ons ontmoeting met die Een wat die tye en die seisoene en die siklusse van die wêreld in sy hande hou. Jes 66:23 “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die Shabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê Yahweh.” Diegene wat hierdie geleenthede afmaak as “outyds” of “Joods”, maak nie erns met die Skrif se boodskap dat hierdie dae tot in die nuwe hemel en die nuwe aarde sal bestaan nie. Diegene, daarteenoor, wat die Shabbatte en die nuwemane hier op aarde soos ‘n kosbare skat bewaar, omdat dit vir Yahweh kosbaar is, kry nou reeds ‘n voorsmakie van iets baie besonders wat direk met die nuwe hemel en aarde te make het.