JY IS WAT JY KIES OM TE WEES

alternate textDie tema van “om te kies” en “keuses te maak” speel ‘n geweldige groot rol in die Skrif en in ons daaglikse lewe.  Om ‘n vaste keuse te maak vir dit wat reg is, verg moed en deursettingsvermoë, maar dit hou terselfdertyd groot beloning in.  Iemand het eenmaal gesê:  “There are always two choices. Two paths to take. One is easy. And its only reward is that it’s easy.” Dit laat mens nogal dink … ons traagheid om die regte keuse te maak is feitlik altyd te wyte aan ons natuurlike vrees dat dinge vir ons te moeilik sal raak en dat ons uit ons gemakstoele sal moet opstaan.  Daarom is die bekende woord wáár:  “It is our choices that show what we truly are, far more than our abilities.” Kom ons hou ‘n slaggie op om die keuses wat ons weet ons moet maak, te systap of om dit gedurig net uit te stel.   Kom ons volg die voorbeeld van Yahushua, Mosheh se regterhand en opvolger, en staan op uit ons “comfort zones” en skep die moed bymekaar om vir die mense rondom ons hierdie duidelike boodskap deur te gee:  “As dit verkeerd is in julle oë om Yahweh te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die magtiges wat julle vaders daar oorkant die Perat gedien het, òf die magtiges van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal Yahweh dien.”  Iemand met die naam William James het meer as ‘n honderd jaar gelede hierdie waar woord uitgespreek: “When you have to make a choice and don’t make it, that is in itself a choice.”

Meeste van ons het reeds die keuse gemaak om Yahweh te dien.  Dit is egter nie die enigste keuse wat daar is om te maak nie.  Ons word nie net opgeroep om “in die algemeen” aan Yahweh se kant te kom staan nie.  Ons word ook opgeroep om by Hom te bly, om sy woorde te gehoorsaam, om nader na Hom toe te kom as ons afgedwaal het, om keuses te maak wat ons lojaliteit aan Hom bevestig, om klein dingetjies af te lê wat ons afstomp om sy stem te hoor, om opofferings te maak wat wys dat ons Hom eerste stel, om standpunte in hierdie wêreld in te neem wat ‘n duidelike refleksie is van hoe Yahweh oor die wêreld voel en dink.

Waarom is keuses so belangrik?  Waarom moet ons keuses maak?  Kan ons enigiets verander deur die keuses wat ons maak?  Is alle dinge nie reeds vooraf bepaal deur die ewige besluite van Yahweh nie?   Alhoewel dit waar is dat Yahweh sekere dinge van die grondlegging van die wêreld af besluit het en sekere aspekte van sy “grondplan” vir hierdie wêreld lank voor ons eie tyd vasgestel het, het Hy dit nie só gedoen dat ek en jy bloot pionne op ‘n groot skaakbord is nie.  Yahweh het aan ons ‘n vrye wil gegee.  Hy stel elkeen van ons nog altyd voor die keuse om Hom lief te hê en Hom te volg.  Hy soek nie mense wat Hom outomaties, soos robotte, volg nie.  Nee, Hy soek mense wat Hom met opoffering en met ‘n prys (vir hulle) volg.  Hy soek mense wat Hom soek en Hom eerste stel en na Hom hunker en na Hom uitreik.  Net soos Hy na hulle uitgereik het.  Net soos Hy na hulle gesoek het en ‘n prys vir hulle betaal het.

Myns insiens is dit juis die belangrikste motivering vir jou en my om gereeld vaste keuses vir Yahweh te maak – omdat Hy in die verlede vaste keuses vir ons gemaak het en nog steeds maak.  Hierdie eienskap van “kies” en “keuse” is ingebou in die fondament van Yahweh se verhouding met sy volk.  In die Woord sê Yahweh oor en oor vir sy volk:  “Ek het jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies”(Devariem 4:37); “Ek het jou uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, my eiendomsvolk te wees” (Devariem 7:6); “Ek het ‘n behae in julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie … ” (Devariem 7:7); “Maar jy, Yiesraél, my kneg, Yaákov, wat Ek uitverkies het, nageslag van Avraham, my vriend” (YeshaYahu 41:8); “Julle is my getuies, sê Yahweh, en my kneg wat Ek uitverkies het” (YeshaYahu 43:10); “Maar luister nou, my kneg Yaákov, en Yiesraél wat Ek uitverkies het!” (YeshaYahu 44:1); “ter wille van Yaákov, my kneg, en Yiesraél, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep” (YeshaYahu 45:4);  “Geseënd is die nasie wat Ek vir My as erfdeel uitgekies het” (Tehielliem 33:12); “Want Ek het Yaákov vir My uitverkies, Yiesraél as my eiendom” (Tehielliem 35:4); “Ek het my kneg Dawied uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem” (Tehielliem 78:70).  Yahweh het ons na sy beeld en na sy aard geskape.  Dit is in sy aard om te kies om mense lief te hê.  Daarom behoort ons ook voortdurend te kies om Hom lief te hê en die mense rondom ons lief te hê.

Die keuse om Yahweh lief te hê is niks minder nie as ‘n keuse vir die LEWE self.
Devariem (Deut) 30:19-20 Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou.  Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,deur Yahweh jou Elohiem lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae …

‘n Keuse vir Yahweh is die keuse om ons harte tot Hom te neig.
Yahushua (Jos) 24:22-23 Daarna sê Yahushua aan die volk: Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself Yahweh gekies het om Hom te dien.  En hulle sê: Ons is getuies.   Verwyder dan nou die vreemde magtiges wat onder julle is, en neig julle hart tot Yahweh …

As ons Yahweh vrees, sal Hy ons leer om reg te kies.
Tehielliem (Ps) 25:12 Wie tog is die man wat Yahweh vrees?  Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies

Ons hoef nie te skarrel om vir ons ‘n toekoms te verseker nie; Yahweh kies ons erfdeel vir ons uit.
Tehielliem (Ps) 47:4 Hy kies ons erfdeel vir ons uit, die trots van Yaákov wat Hy liefhet.

Om op die weg van waarheid te kom, is nie ‘n kwessie van toeval nie, maar van keuse.
Ps 119:30 Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.
Tehielliem (Ps) 119:173 Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies.
Mieshleh (Spr) 1:29 Hulle het die kennis gehaat en die vrees van Yahweh nie verkies nie.

Dit vra ‘n keuse om Yahweh by sy Naam te noem en daardie Naam te  eer.
YeshaYahu (Jes) 45:4 ter wille van Yaákov, my kneg, en Yiesraél, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou ‘n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie.
Jes 65:15 En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as ‘n woord van verwensing laat agterbly, en die Meester Yahweh sal jou ombring.  Maar sy knegte sal Hy noem met ‘n ander naam,

Vreemdelinge word deel van Yahweh se volk deur ‘n keuse wat hulle maak.
YeshaYahu (Jes) 56:4-5 Want so sê Yahweh aan die ontmandes wat my Shabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ‘n herinneringsteken en ‘n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.

“To live is to choose. But to choose well, you must know who you are and what you stand for, where you want to go and why you want to get there …”