OORWINNING OOR DIE DUISTERNIS

alternate textDie Torah leesstuk van hierdie week sluit in vier van die belangrikste hoofstukke van Shemot (Exodus): 10,11,12 en 13. Dit is die hoofstukke wat die laaste drie plae en die fisiese uittog uit Egipte beskryf. Die naam van die boek waarby ons nou stilstaan, is alombekend as “Exodus”, wat “Uittog” beteken. Vandag het ons gekom by daardie gedeelte (die enigste gedeelte) van Exodus waar die werklike Uittog of Uitgaan uit Egipte, in detail beskryf word.

Wat was die laaste drie plae? Sprinkane, Duisternis en die Dood van die eersgeborenes. Voordat ons egter daarby uitkom, sal dit goed wees om eers na die eerste twee verse van hierdie week se leesstuk te gaan kyk (die verse waaruit die naam van die leesstuk of parashah geneem word):

Exo 10:1-2 Verder het Yahweh vir Mosheh gesê: Gaan (in) na Farao toe, want Ek het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, en dat jy voor die ore van jou kind en jou kleinkind kan vertel wat Ek Mietsrayiem aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek Yahweh is.

Let op die woorde: “Gaan (in) na Farao toe …” (Heb: “Bo el Par’oh”). Na aanleiding van hierdie woorde, word die vier hoofstukke “Parasha Bo” genoem. Daar is twee aspekte wat opvallend is: (1) Hierdie parashah, wat in werklikheid die “uittog” of “uitgaan” uit Egipte beskryf, begin met die opdrag (aan Mosheh) om “in te gaan” na Farao toe, en (2) die opdrag (aan Mosheh) om na Farao te gaan word nie op die gewone manier geskryf nie en sommige verklaarders meen dat dit meer korrek sal wees om dit met “Kom in na Farao toe” (i.p.v. “gaan in na Farao toe”) te vertaal. Daarom word die naam van hierdie Parashah, in Engels, in die meeste gevalle nie “Go!” of “Go in!” genoem nie, maar “Enter!”. Dus word die prentjie aan die begin van hierdie parashah geskets dat voordat Mosheh (en die volk) moes uitgaan uit Egipte, moes Hy hy eers (saam met Yahweh) ingaan om vir Farao op sy eie turf en aan die binnekant van sy eie leefwêreld te gaan ontmoet. Waarom? Die antwoord kan gesien word in vers 2 hierbo: Sodat Mosheh vir sy kinders en sy kleinkinders presies kan vertel wat in Egipte gebeur het en sodat hulle sonder enige twyfel kan weet dat die Een wat dit alles moontlik gemaak het, se naam Yahweh is.

Wat is dit wat Mosheh daar in die hart van Farao se leefwêreld gesien en beleef het? Miskien het hy ‘n beter idee gekry van wie en wat Farao werklik was en waarvoor hy gestaan het. Miskien moes hy vóór die bevryding en die verlossing uit die hand van Farao, eers verstaan watter magte daar aan die werk was en waarvan die volk nou eintlik bevry sou word. Dit help nogal om te gaan kyk na wat die res van die Skrif oor Farao sê en wat hy verteenwoordig. Yegeskel (Esegiël) 29:3 sê dat Farao die groot draak is wat in die strome (van die Nyl) lê en dat hy aanhoudend sê: “My stroom is myne, en ek het dit vir my gemaak.” Farao is simbolies van Satan en van Satan se selfsugtige ingesteldheid op homself, tot op die punt dat hy dink (een voorgee) hy is Elohiem. In Yegeskel 32 word Farao weer die draak in die groot water genoem, maar hier word sy uiteindelike lot vir ons uitgespel: Yahweh sal sy net oor hom uitsprei; wilde diere sal hom verskeur; Yahweh sal hom uitblus en as gevolg van sy werke, duisternis oor die aarde stuur. Eseg 32:7-8 “En as Ek jou uitblus, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker; Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie. Al die skynende ligte aan die hemel, dit sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land, sê die Meester Yahweh.”

Teen hierdie agtergrond kan ons nou gaan kyk na die laaste drie plae, die plae van Sprinkane, Duisternis en die Dood van die Eersgeborenes. Dis opvallend dat al drie hierdie plae met duisternis of donkerheid te make het. Die agste plaag het veroorsaak dat die oppervlak van die aarde donker geword het (“die sprinkane het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was” – Ex 10:15). Die negende plaag was die plaag van duisternis oor die hele Mietsrayiem (Egipte) en die tiende plaag het in die nag vóór die Uittog plaasgevind. ‘n Mens kry die idee dat die tema van duisternis net mooi in die oorblywende plae na vore gekom het nadat Mosheh ‘n kykie gekry het in die donker kant van Farao en dit waarvoor hy staan. Dit is onmoontlik om te verstaan wat bevryding, oorwinning en verlossing beteken as jy nie verstaan wat die omvang van die duisternis in hierdie wêreld is nie. Hoe kan ‘n mens ‘n konsep soos bevryding na regte waardeer, as jy geen idee het dat jy vóór jou bevryding deur allerlei magte gebind en gevange gehou is nie? Watter soort magte kan dit wees? Kom ons kyk watter soort magte het destyds ‘n rol in Egipte gespeel … veral as daar na die laaste drie plae gekyk word.

Die rede waarom die sprinkane só ‘n groot plaag was, was nie net bloot omdat daar so ‘n groot aantal sprinkane was nie, maar veral omdat die sprinkane alles wat goed was, alles wat noodsaaklik was om van te lewe, opgevreet het. Nie minder nie as vier maal word die woord “agal” in Shemot 10 gebruik. Dis ‘n woord wat verteer, opvreet of verslind beteken. Dis ‘n soort plaag, ‘n soort donkerte wat in ons tyd ook op ‘n groot skaal voorkom en mense gevange hou, dalk sonder dat hulle dit behoorlik besef. Dit gebeur veral op die vlak van ‘n belangstelling of ‘n passie of ‘n ideaal of ‘n lewensbeskouing wat stadig maar seker begin om ‘n mens in sy (sprinkaan-agtige) kloue te kry en nie net jou tyd op te vreet nie, maar ook jou energie, jou balans in die lewe en die veelsydigheid en geskakeerdheid waarmee Yahweh jou geskape het. En voordat jy kom kry, is jou lewe gereduseer tot een of twee troetel-trivialiteite (Eng “pet topics”) wat al jou tyd in beslag neem en wat jou aan die einde van die dag laat wonder waarom jy nie meer net eenvoudige blydskap ken nie. Dit kan ‘n stokperdjie wees, of ‘n sportsoort, of ‘n beroep of ‘n rekenaarspeletjie, of ‘n moderne tipe speelding of tydverdryf, of ‘n verslawing, of iets eenvoudig soos kos of klere of musiek, of iets gekompliseerd soos ‘n dogma of ‘n doktrine of ‘n “waarheid” wat jy meen op die Skrif gebaseer is. Enigiets wat die effek het dat dit vreet aan die rykheid en die volheid en die verskeidenheid wat Yahweh vir ons in hierdie lewe bedoel het. Exodus beteken onder meer ook ‘n uittog uit hierdie soort duisternis, of ons dit nou wil weet of nie!

Die negende plaag van duisternis oor die hele land het ‘n onbeskryflike impak op die mense van die land gehad. Dit word nêrens beter beskryf as in Exod 10:23 nie: “Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank.” Kan jy jou die duisternis in ‘n land of in ‘n streek voorstel wanneer een mens nie meer ‘n ander mens raaksien nie en wanneer elkeen maar net tevrede is om in sy eie plek vasgekluister te bly! Geen poging om die hand uit te reik na iemand wat dit nodig het nie! Geen aanvoeling vir die worstelstryd waarmee mense – selfs mense baie naby jou – besig is nie! Geen begrip daarvoor dat Yahweh ons in gemeenskappe en in groepe en in verhoudings geplaas het nie. ‘n Duisternis wat só oorweldigend is dat jy net vir jouself lewe en niks anders of niemand anders kan raaksien nie. Die Uittog uit Egipte beteken oorwinning en bevryding van so ‘n soort bestaan – hieroor kan daar geen twyfel wees nie!

Die tiende plaag, die klimaks van die proses wat die Almagtige in plek gestel het om die houvas van Farao te verbreek, was die dood van die eersgeborenes. Wat is die betekenis daarvan vir ons vandag? Is daar een of ander unieke betekenis verbonde aan die eersgeborenes? Ja daar is. Die Skrif leer dat die eersgeborenes aan Yahweh behoort. Die beginsel agter hierdie leerstuk is dat alles uit die hand van Yahweh kom. Dit wat ons het en wat ons hier op aarde geniet en waarmee ons ons hier besighou en selfs dit wat ons in die lewe bereik, het ons uit sy hand ontvang. Ons het ons lewens en ons vermoëns en ons middele, selfs ons drome en ons ideale aan Hom te danke. Die vraag is of ons dit erken, of nie. Om te bewys en te illustreer dat ons dit erken, vra die Almagtige dat ons iets van dit wat ons uit sy hand uit ontvang het, aan Hom sal teruggee. Offers, tiendes en eerstelinge, selfs eersgeborenes. Maar as jy natuurlik nie ‘n eersgeborene het nie, kan jy nog steeds jou offers en jou tiendes en die eerstelinge van jou oes en van jou inkomste aan Hom gee. Iemand wat dit nie doen nie en wat geen begeerte het om dit te doen nie, is iemand wat nog in die duisternis van Egipte lewe en wat nodig het om van hierdie binding bevry te word. As jy dit tot nou toe nog nie gedoen het nie, maar graag wil begin om dit te doen, kyk gerus na wat met die eersgeborenes van die Israeliete gebeur het. Hulle het nie gesterf nie. Waarom nie? Omdat die bloed van die Pesaglam aan hulle deurkosyne gesmeer is. Die Skrif sê vir ons dat Y’shua die Pesaglam is wat later geslag sou word en wie se bloed vir ons verlossing en bevryding – ook oorwinning oor die duisternis – sal bring. Om te wys hoe ernstig Yahweh oor offers en eerstelinge is, het Yahweh sy eie, eersgebore Seun opgeoffer om ons uit die ryk van die duisternis uit te ruk en ons voete te laat staan in die ryk van die lig! Nou het ons nog soveel meer rede om ons lof en dank aan Hom te bring en ons offers, in watter vorm ook al, voor sy voete neer te sit!