SKOENMAKER, HOU JOU BY JOU LEES!

alternate textEk kry gereeld briewe van mense oor baie onderwerpe – somtyds van mense wat ek van g’n Adam af ken nie. En soms gaan dit oor onderwerpe wat nie juis met my uit te waai het nie. En selfs al is die briewe en eposse wat op my rekenaarskerm verskyn, soms belangrik om van kennis te neem, gaan dit dikwels oor ‘n geskil of oor een of ander tema waarby ek nie nou betrokke is nie en ook nie betrokke behoort te wees nie. Ek kry die idee dat mense soms hulle idees en hulle nuutgevonde ontdekkings na my (en na ‘n groot klomp ander mense toe) stuur, uit vrees dat hulle dalk self uitgeskuif kan word en vereensaam (dit wil sê: gemarginaliseer word), omdat daar nie genoeg ander mense is wat hulle idees en ontdekkings saam met hulle deel en waardeer nie. Sonder om dit in soveel woorde te sê, soek hulle eintlik so ‘n bietjie meer gewig (en meer getalle) agter hulle, om steun aan hulle (nuwe) standpunte te verleen. Die probleem is verder dat ‘n mens elke keer in die versoeking kom om pens en pootjies (“boots ‘n all”) by so ‘n dispuut betrokke te raak, wat gewoonlik ‘n tydrowende proses is en meebring dat jy dié dinge afskeep wat werklik nóú in jou eie konteks belangrik is.

Om te illustreer wat ek bedoel, net oor die afgelope week of drie is ek by minstens drie groot epos argumente ingetrek, waarby ek nie gevra het om betrokke te raak nie. Ek verkwalik nie die persone wat hierdie eposse gestuur het nie. Daar mag goeie redes wees waarom hulle my probeer betrek het. Maar ek moes vir myself uitmaak of ek my eie dringende sake eenkant moes skuif om tyd te maak vir wat ook al húlle op die hart gehad het. Die eerste brief het oor die holruggeryde onderwerp gegaan van die kerk wat destyds die politiek nagepraat en goedgepraat het en die Skrif gebruik (of meer korrek: misbruik) het om ‘n stelsel soos “Apartheid” te probeer regverdig. Van die drie, was hierdie een die maklikste – ek het dit nie eens oorweeg om hierdie ou koeie weer uit die sloot te grawe nie. Die tweede brief was om beswaar te maak teen ‘n simbool wat dikwels by groepe gebruik word wat versoening tussen Jode en Christene probeer bewerkstellig – die simbool wat ‘n kombinasie is van die Menorah, die Dawidster en die Vis (hier langsaan uitgebeeld) en wat vermoedelik nie so onskuldig is as wat dit mag voorkom nie. En die derde brief was ‘n skerp aanval op die apostel Shaúl en veral sy brief aan die Galasiërs, waarin die volgende stelling onder meer gemaak word: “The scary reality is that Shaul positioned himself against YaHuWaH and His Torah, thereby siding with hasatan …”. Alhoewel dit nie die eerste keer is dat ek met hierdie standpunt te make kry nie, was die versoeking veral groot om met mag en mening by hierdie korrespondensie betrokke te raak, maar ek het uiteindelik besluit om (vir eers) nie aan hierdie versoeking toe te gee nie.

In Bemiedbar (Numeri) 31:2, wat deel uitmaak van hierdie week se voorgestelde Torah lesing, staan die volgende geskryf: “Neem wraak vir die kinders van Yiesraél op die Miedyaniete; daarna sal jy by jou volksgenote versamel word”. As ‘n mens die Skrif bestudeer, vind jy uit dat die rede waarom Mosheh en die volk Yiesraél moes wraak neem op Miedyaniete, sonder enige twyfel te make gehad het met dit wat in Bemiedbar (Numeri) 25:17-18 beskryf word: “Behandel die Miedyaniete as vyand en verslaan hulle, want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peór …”. Wat word bedoel met “die saak van Peór”? Wat het by Peór gebeur? By Peór het beide die Moaviete en die Miedyaniete die volk van Yiesraél verlei om hulle afgods-orgies by te woon en met hulle vroue seksuele gemeenskap te hê. Dit was só erg dat die stad Peór daarna gereeld Baál-Peór genoem is (“Peór wat aan Baál behoort”). Van die tyd van Balak en Bielám en Bielám se donkie af, was dit die patroon dat die Moaviete die Miedyaniete by hulle stryd teen Yiesraél ingetrek het en hulle as bondgenote ingespan het in ‘n poging om teen Yiesraél te oorleef.

Maar hoekom moes die kinders van Yiesraél net wraak neem op die Miedyaniete en nie ook op die Moaviete nie? Waarom het Yahweh in Devariem (Deuteronomium) 2:9 spesifiek vir Mosheh gesê: “Behandel Moáv nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie”? Daar word baie oor hierdie raaisel bespiegel, maar een Joodse kommentator het dit dalk reg opgesom: “The Midianites interfered in a quarrel that did not concern them.” Die Moaviete het rede gehad om met die Yiesraéliete slaags te raak. Die Yiesraéliete het immers hulle land binnegekom en in hulle grondgebied gebly. Balak was dood beangs vir Yiesraél. Hy het gesien wat hulle aan die Amoriete gedoen het. Hy was bang dat hulle sy land sou stroop en heeltemal sou oorneem. Watter koning sou nie só oor sy land en sy mense gevoel het nie?

Maar die Miedyaniete het nie rede gehad om handgemeen met Yiesraél te raak nie. Hulle het by ‘n saak tussen twee ander partye betrokke geraak wat hulle nie aangegaan het nie en in die proses groot skade aangerig. Bemiedbar (Numeri) 25 beskryf dat in die proses toe die Miedyaniete onder meer hulle vroue met Yiesraélitiese mans laat hoereer het, het ‘n Mieyanitiese vrou met die naam “Kozbi” gemeenskap gehad met ‘n man van Yiesraél met die naam “Ziemri”. Wat egter baie opvallend is, is dat hierdie Kozbi die dogter van ‘n stamhoof van Miedyan was en dat Ziemri die seun van ‘n familiehoof van Yiesraél was. Baie duidelik was dit nie maar net ‘n toevallige groepering nie. Dit sou besliste gevolge hê, want dit het gegaan oor ‘n gesiene en gerespekteerde vrou van een volk wat ‘n gesiene en gerespekteerde man van die ander volk as haar teiken gekies het. En dít terwyl dit ten diepste oor ‘n saak gegaan het wat haar en haar volk nie eintlik aangaan nie. Dit is soos in Mieshleh (Spreuke) 26:17 beskryf word: “Hy wat ‘n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie.” Moenie verbaas wees as hierdie hond wat jy aan die ore probeer gryp, omspring en jou hand raak byt nie!

Dit is natuurlik nie altyd so maklik om te weet wanneer om in te klim en jou opinie te gee en wanneer om terug te staan nie. ‘n Mens mag dalk met groot bravade betrokke raak omdat jy trots en vol van jouself en arrogant en onverstandig is. Maar ‘n mens mag dalk ook terugstaan en passief bly uit vrees vir teenkanting of omdat jy nie van ‘n sekere waarheid hou nie. Wat sê die Skrif vir ons in hierdie verband?

1. Almal van ons wat al ons eie denke oor sekere aspekte van die Woord moes verander en daarna ons standpunt aan ander probeer verduidelik het, weet hoe ‘n tameletjie dit soms kan wees. Die Skrif se aanwysings in hierdie verband is:

Spr 20:3 Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los.
MAAR OOK:
Ps 40:9 Ek het ‘n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. Yahweh, U weet dit.

2. Maak baie seker van jou saak en van jou feite en vra jouself die vraag of die saak waarby jy betrokke wil raak, ‘n wesenlike of ‘n nie-wesenlike saak is.

Spr 26:18-19 Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar (hierdie verse volg direk op v.17, hierbo).

3. Hou in gedagte die gesindheid van Y’shua die Messias wat selfs ten opsigte van ‘n belangrike kwessie soos eensgesindheid, nie bereid was om in ‘n onnodige dispuut betrokke te raak nie.

Luk 9:49-50 En Yahuganan het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die demone uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie. Maar Y’shua sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle.

4. Wees op die uitkyk vir die geringste tekens van afguns, twis-beheptheid, lasteringe, bose agterdog en winsbejag, wat duidelik in die Skrif uitgewys word as gevaarligte waarvoor ‘n mens moet oplet.

1Tim 6:3-5 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van ons Meester, Y’shua die Messias en met die leer wat volgens die ware toewyding is nie, daardie een is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die toewyding winsgewend is.