‘N RUSPLEK IN SY HUIS

alternate textDie Torah parashah van hierdie week gaan oor die eerste vier hoofstukke van Numerie of Bemiedbar en word ook genoem “Bemiedbar” na aanleiding van die voorkoms van hierdie woord in die eerste vers, Num 1:1 – “Verder het Yahweh met Mosheh gepraat in die woestyn (“bemiedbar”) Sinai, in die tent van byeenkoms, op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Mietsrayiem uitgetrek het, en gesê …”. Let veral op die twee temas wat onmiddellik in hierdie eerste vers aan die orde gestel word: Die woestyn (of die wildernis) en die tent van byeenkoms, wat destyds vir die volk die woonplek of die huis van Yahweh verteenwoordig het. Let ook daarop dat hierdie beskrywing aan ‘n datum gekoppel word en dat hierdie datum min of meer ooreenstem met die tydperk waarin ons op die oomblik is, as ons onsself posisioneer binne die Skriftuurlike jaar: die eerste van die tweede maand – dit wil sê êrens tussen die twee groot feeste, Pesag (eerste maand) en Shavuot (derde maand), in die periode van die aftel van die vyftig dae wat allerweë bekend staan as “counting the omer”.

Ons is dus, kalender-gewys, op ‘n goeie plek om aandag te gee aan die twee temas van die woestyn en die huis van Yahweh. Die vier hoofstukke wat deel uitmaak van hierdie week se parashah gaan tot ‘n groot mate oor die tent van byeenkoms en oor dit wat in en rondom hierdie aanbiddingsplek moes gebeur. Dis veral die Leviete (meer korrek: die Lewiete) wat onder die soeklig geplaas word: Wat hulle verantwoordelikhede was, op watter ouderdom hulle verantwoordelikhede begin het, waarom juis húlle die diens in die aanbiddingsplek moes behartig, en wat die verskil in pligte was tussen die drie hoof afdelings van Lewiete, naamlik Ghershon en Kehat en Merari.

Wanneer ‘n mens oor die Lewiete praat, is dit baie insiggewend om na die naam Lewi en die name van sy drie seuns, Ghershon en Kehat en Merari, te kyk. “Lewi” se naam beteken letterlik “die een wat aangesluit het” of “die een wat aangeheg word”. Lewi het sy naam ontvang toe sy ma, Leáh, by sy geboorte gesê het: “Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns verwek het”. Sy het dit gesê omdat sy geweet het dat Yaákov meer geheg was aan sy ander vrou, Ragel, maar ook omdat sy geweet het dat Ragel (aanvanklik) onvrugbaar was en geen kinders vir Yaákov kon verwek nie. Die stamwoord van die naam “Lewi” is “lawáh” en hierdie woord word onder meer gebruik in Yeshayahu (Jesaja) 56:6-7: “En die uitlanders wat hulle by Yahweh aangesluit (“lawáh”) het, om Hom te dien en om die Naam van Yahweh lief te hê deur sy knegte te wees – elkeen wat die Shabbat hou, sodat hy dit nie ontwy nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my afgesonderde berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal aanvaarbaar wees op my altaar; want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.”

Jesaja 56 is een van die mees betekenisvolle hoofstukke in die hele Skrif en teken vir ons ‘n duidelike prentjie van die plan wat Yahweh van die begin af in plek gestel het om die deur vir buitestaanders oop te maak om by Hom en by sy volk aan te sluit en as’t ware ‘n rusplek in sy huis te vind. Dis opvallend hoe sterk die aanbiddingsplek, of die huis van Yahweh, net soos aan die begin van die boek Numerie, in hierdie hoofstuk van Jesaja beklemtoon word. Veral Jes 56:5: “Ek sal aan hulle (d.w.s. diegene wat van buite af by My aangesluit het) in my huis en binnekant my mure ‘n herinneringsteken en ‘n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.”

Wat is die eintlike verband tussen Numerie 1 tot 4 en Jes 56? Ons sou hierdie vraag ook só kon verwoord: Wat is die eintlike verband tussen Bemiedbar (in die woestyn) en Lawáh (aangesluit by Yahweh)? Die antwoord is voordiehandliggend. As ‘n mens nog nie by Yahweh aangesluit het nie, beteken dit effektiewelik dat jy in die woestyn of in die wildernis is. Wildernis staan teenoor woonplek of huis. As ‘n mens by Yahweh aansluit, kry jy ‘n porsie en ‘n plek in sy huis. Die huis van Yahweh was nog altyd ‘n skuilplek en ‘n tot-rus-kom-plek vir hulle wat voorheen in hulle lewens nog net wildernis en woesteny geken het.

Miskien verstaan ‘n mens die aard van hierdie wildernis beter as jy kyk na die name van die drie seuns van Lewi: Ghershon, Kehat en Merari. Die naam Ghershon beteken iets soos vlugteling en is afgelei van ‘n woord wat die betekenis het van “om verwerp, of verlore of uitgegooi te wees”. Die naam Kehat beteken iets soos vennoot of bondgenoot en is afgelei van ‘n woord wat beteken “om met iemand te verenig deur ‘n formele ooreenkoms aan te gaan” (met die veronderstelling dat jy voorheen NIE sy vennoot of sy bondgenoot was nie). Die naam Merari hou verband met bitterheid en slegte, negatiewe ervarings wat ‘n nasmaak van bitterheid agtergelaat het. Dit is dus nie net die naam van die boek Numerie (Bemiedbar = In die Wildernis) wat die agtergrond skets vir die intense begeerte wat daar van die vroegste tye af was om ‘n plek te kan hê waar jy veilig kan voel en waar jy gekoester kan word en waar jy met Yahweh, die Allerhoogste gemeenskap kan hê nie.

Nee, selfs die name van die Lewiete en die naam van die vernaamste Lewiet, Lewi (aangeheg en aangesluit by Yahweh) beklemtoon die feit dat almal op ‘n stadium SONDER YAHWEH was of is, en dat hulle daarom soos vlugtelinge op hierdie aarde rondswerf, bitterheid en ontbering op ‘n daaglikse basis beleef en smag daarna om in ‘n vennootskap of bondgenootskap met Iemand in te gaan wat ‘n verskil aan hulle lewe kan maak. Selfs die Lewiete, wat beskou kan word as die groep mense wat die nouste aan Yahweh verbind is, is in wese ‘n groep wat by Hom aangesluit het. Selfs Yosef, die lieflingseun van Yaákov, se naam beteken “die een wat bygevoeg is” (Onthou, hy was die seun van Ragel wat aanvanklik nie kon kinders hê nie). Die tafel is reg van die begin af gedek vir mense, nie net Joodse mense nie, nie net “insiders” nie, maar ook uitlanders, vlugtelinge, woestynbewoners, weeskinders, vreemdelinge, basters, verbitterdes, uitgeworpenes, afgeskeidenes, om by Yahweh aan te sluit en die voorregte en die vreugde van deelgenootskap aan sy huis te geniet. “Ek sal aan hulle (d.w.s. diegene wat van buite af by My aangesluit het) in my huis en binnekant my mure ‘n herinneringsteken en ‘n naam (letterlik: “Yad vashem” – die naam van die Holocaust Museum in Jerusalem) gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.” Luister net hoe word hierdie waarheid op ander plekke ook na vore gebring:

Jes 14:1 Want Yahweh sal Hom oor Yaákov ontferm, en Hy sal Yiesraél nog verkies en hulle in hul land laat vestig; en die vreemdeling sal hom by hulle voeg, en hulle sal hul aansluit by die huis van Yaákov.

Jer 50:5 Hulle sal na Tsion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by Yahweh aansluit in ‘n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.

Sag 2:11 En baie nasies sal hulle in daardie dag by Yahweh aansluit, en hulle sal My tot ‘n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat Yahweh van die leërskare my na jou gestuur het.

Ek lees in die “South African Jewish Report” dat iemand met die naam Norman Mailer in 1973 ‘n nuwe engelse woord uitgebring het – die woord “factoid”. Wat is ‘n “factoid”? Die skrywer van die artikel antwoord só: “A factoid is a fact that is actually not a fact, but rather an untruth that has become a fact as a result of repetition.” ‘n Goeie voorbeeld hiervan, sê die skrywer, is die stelling: “Israel’s presence in the West Bank is illegal according to international law.” Ek kan aan talle ander sulke “factoids” dink. Dinge wat mense glo en aan vashou omdat die meerderheid dit glo en as wet van Mede en Perse verkondig. “Factoids” wat duisende der duisende mense die afgelope 2000 jaar in ‘n wildernis van leuens en halwe waarhede laat beland het en laat rondswerf het. Wat is JOU ervaring van hierdie wildernis? Wil jy daar bly? Of het jy die begeerte om by Yahweh aan te sluit en in die rusplek van sy huis in te gaan en die vreugde te smaak van geregtigheid en waarheid soos wat niemand buite die ruimte van hierdie huis dit ooit sal ervaar nie?