OM VOLUIT TE LEWE

alternate textDie grootste gawe wat elkeen van ons uit die hand van die Almagtige ontvang het, is die geskenk van lewe. Niks anders kan daarmee vergelyk word nie. Om voluit te lewe is ‘n ingeboude begeerte van elke mens en daar is nie ‘n groep mense wat hierdie begeerte en hierdie ideaal beter verstaan en sterker najaag as die nageslag van Avraham nie. Die Hebreeuse uitkyk op die lewe is dat elke mens die kosbare gawe van LEWE uit die hand van die Allerhoogste moet bewaar en moet koester en die beste daarvan moet maak.

Beteken dit dat daar in die Hebreeuse denke nie ‘n verwagting van lewe na die dood is nie? Dat dit met ander woorde nie belangrik is om jou vir die ewigheid voor te berei nie? Nee, hoegenaamd nie. Wat ons moet verstaan is dat die Hebreeuse denke nog altyd baie prakties was en dat die geloof van mense soos Avraham, Yietsgak en Yaákov nie oor abstrakte konsepte gegaan het nie. Wanneer ‘n Hebreër oor die lewe na die dood dink, maak hy dit nooit los van die lewe hier en nou nie. Iemand wat die Skrif se patroon wil volg, is nie in die eerste plek gefokus op die hemel en hoe om daar te kom nie, maar op die lewe hier-en-nou wat ons as geskenk uit Yahweh se hand ontvang het en op die vraag hoe ons die beste van hierdie lewe kan maak. Die sekerste manier hoe ons die beste van hierdie lewe kan maak is om Yahweh se riglyne vir hierdie lewe te volg. Waarom? Omdat ons glo dat daar ‘n opstanding na die dood is en dat ons lewe hier-en-nou gaan bepaal of ons die lewe na die dood gaan smaak.

Die naam van hierdie week se Torah leesstuk is “Wayechi” wat beteken: “En hy het gelewe”. Dit is gebaseer op die eerste vers van die week se parashah, naamlik Gen 47:28 waar ons die volgende woorde aantref: “En Yaákov het sewentien jaar in Mietsrayiem gelewe, sodat die dae van Yaákov, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.” In die oorblywende verse van Gen 47 lees ons dat Yaákov, wat op hierdie stadium saam met sy familie in Egipte gebly het, sy seun Yosef geroep het en hom laat belowe het dat hy hom nie in Egipte sou begrawe nie, maar dat hy en die res van die seuns moes seker maak dat hulle pa op dieselfde plek as hulle oupa, Yietsgak, en hulle oupagrootjie, Avraham, begrawe word.

Waarom was dit vir ons oeroue voorgangers in die geloof so belangrik om saam met hulle vaders begrawe te word? ‘n Mens kan dit nie verstaan as jy nie iets verstaan van die feit dat daar in die Torah op ‘n verborge, maar tog duidelike manier, oor die opstanding uit die dood gepraat word nie. Vir eeue lank het die Sadduseërs met die Fariseërs verskil en gesê dat die Torah geen verwysing na ‘n opstanding of ‘n lewe na die dood bevat nie. En die Fariseërs het nog altyd volgehou dat as ‘n mens mooi kyk, en fyn luister, jy wel talle verwysings na ‘n opstanding uit die dood in die Torah sal vind. So het die Sadduseërs eenmaal na ‘n sekere Rabbi Simai gekom en vir hom gesê hy moet vir hulle uit die Torah bewys dat daar ‘n opstanding uit die dood sal wees. Die Rabbi het vir hulle Shemot (Exodus) 6:4 aangehaal “Ek het my verbond met hulle (Avraham, Yietsgak en Yaákov) opgerig om hulle die land Kenaán te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het.” In hierdie vers, het die Rabbi gesê, word nie die woord “julle” gebruik nie, maar “hulle” – nie minder nie as vier keer, en dit bewys dat Avraham, Yietsgak en Yaákov opgewek sal moet word om die land in besit te neem.

In die tyd van die Nuwe Verbond het Y’shua, die Messias, presies dieselfde argument gebruik om aan te toon dat die Torah wel deeglik bewus was van iets soos ‘n opstanding uit die dood (weer eens teenoor die Sadduseërs wat dit maar net nie kón of wóú glo nie). Y’shua het daarna verwys dat Yahweh vir Mosheh gesê het dat Hy die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov is (Mark 12:26). As hierdie aartsvaders nie uit die dood opgewek gaan word nie, het Y’shua vir die Sadduseërs gesê, beteken dit dat Yahweh ‘n Elohiem van die dooies is. Feite is egter: Hy is NIE ‘n Elohiem van die dooies nie, maar ‘n Elohiem van die lewendes en die Sadduseërs, wat sê dat daar nie ‘n opstanding uit die dood is nie, is besig om ‘n groot dwaling aan te hang.

Wat so besonders is van hierdie parashah waarin daar van die dood en die begrafnis reëlings van Yaákov gepraat word, is die feit dat dit begin met die woorde “En hy het gelewe …” Miskien is dit ‘n vraag wat by elke mens se begrafnis gevra moet word: “Het hy waarlik gelewe?” of “Het sy waarlik gelewe?” Dat ons almal gaan sterf, is ‘n feit (behalwe as ons só geseënd is om te lewe wanneer die Messias weer kom). Die vraag is: Het ons almal al waarlik gelewe en maak die lewe wat ons as gawe uit Yahweh se hand ontvang het, ons daagliks so opgewonde dat dit by ons uitborrel – soos iemand wat ‘n glas of ‘n beker oplig en uitroep “Lechaiyiem!” – “Op die lewe”?

Later in die parashah, waar ons in Genesis 49 lees van die seën waarmee Yaákov, kort voor sy dood, elkeen van sy seuns geseën het, kan ‘n mens sien hoe lyk dit as ‘n mens voluit lewe. Yaákov het (voluit) gelewe (“wayechi”) en dis duidelik dat hy dieselfde vir sy seuns toegewens het – dat hulle ook voluit sou lewe en uit die lewe sou uithaal wat Yahweh vir elkeen van hulle spesiaal eenkant gesit het. Ruven se lewe moes soos die opbruising van waters wees – kragtig, verfrissend, nooit eentonig nie (Gen 49:4). Yehudah sou die karakter en die outoriteit en die sterkte van ‘n leeu uitstraal en die soort gedrag openbaar van ‘n edele wingerdstok (Gen 49:9-11). Soos sy pa, Yaákov, sou Ghad die bendes wat hom aanval aan die hakskene gryp en nie toelaat dat die golwe van die lewe oor hom spoel nie (Gen 49:19). Naftali is so vry soos ‘n wildsbok – nie ‘n soort vryheid wat maak dat hy oor ander mense loop nie, maar ‘n vryheid wat maak dat daar mooi en opbouende woorde uit sy mond uitkom (Gen 49:21). Yosef is soos ‘n jong vrugteboom by ‘n fontein – hy beantwoord aan die doel waarvoor Yahweh hom geskape het, deur vrug te dra en vreugde in ander mense se lewens te bring (Gen 49:22). Benyamien is ‘n wolf wat verskeur, wat in die môre self van sy prooi eet en in die aand vir ander daarvan uitdeel – hy het genoeg om van te lewe en verstaan dat om waarlik te kan lewe, ‘n mens se hand en hart vir ander oop moet wees (Gen 49:27).

Wat ‘n mens opval as jy na hierdie hoofstuk kyk, wat in wese gaan oor ‘n pa se begeerte en gebed dat sy kinders die lewe in sy volheid sal ervaar, is die volgende: Lewe in sy volheid gaan nie in die eerste plek oor wat jy daaruit kan UITHAAL nie, maar oor wat jy INSIT – dit wat jy gee, die manier waarop jy andere se lewens verryk, die blywende uitwerking wat jou optrede en jou gesindheid op andere het en die manier hoe jou liefde vir ander vir HULLE in staat stel om meer uit die lewe te haal. Presies dit is die gesindheid wat die Messias ook deurgaans geopenbaar het, en wat die apostel geïnspireer het om te skryf: “Wandel in liefde, soos die Messias ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan Elohiem tot ‘n lieflike geur” (Efes 5:2).

Iemand het eenmaal gesê: “Until you know what you are willing to die for, you have not yet begun to live”. Een van die grondreëls van die Torah is die woorde “Jy moet Yahweh jou Elohiem liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (Deut 6:5). Dit is net ‘n ander manier om te sê: Niks in hierdie lewe is belangriker en kragtiger as om Yahweh lief te hê nie. Iemand wat Yahweh en sy Woord ken en wat begeer om waarlik (voluit) te lewe, het reeds die sleutel vir die vervulling van hierdie begeerte in sy hand. Laat niks in hierdie lewe vir jou belangriker wees as om Yahweh en sy Woord lief te hê nie. As jy voor ‘n keuse te staan kom en dit voel vir jou dat jy moet kies tussen jou liefde vir Yahweh en enigiets anders wat jy meen jou lewe gaan verryk, kies dan om nie jou liefde vir Yahweh te verloën nie. As jy moet kies tussen lojaliteit aan Yahweh en lojaliteit aan vriende of jou eie ideale, kies dan om aan Yahweh lojaal te bly, maak nie saak teen watter prys nie. As jy moet kies tussen verlustiging in Yahweh en verlustiging in aardse plesier en tydelike genot, maak dan die keuse om jou in Yahweh te verlustig. Hy het jou só gemaak dat hierdie soort keuses op die lange duur ALTYD vir jou die beste sal wees. Hy het jou só gemaak dat elke keuse vir Hom, uiteindelik ‘n keuse vir die LEWE sal wees – die LEWE in oorvloed soos Hy dit reg aan die begin vir ons bedoel het.