GESEËNDES VAN YAHWEH

alternate textIn die Skrif word daar gereeld verwys na een mens, of ‘n groep mense, in wie se lewe die hand van Yahweh só sigbaar was dat andere dit raakgesien het en daaroor begin praat het. ‘n Mens kan jou die gesprekke voorstel wat hieruit voortgespruit het:

“Het jy gehoor van die Almagtige se planne met Avraham en die beloftes wat hy ontvang het?”
“Het jy gesien op hoe ‘n besonderse manier Yietsgak sy vrou ontmoet het?”
“Het jy gehoor dat Yaákov se twaalf seuns die stamvaders van die twaalf stamme gaan wees?”
“Het jy gesien watter behandeling Yosef in die Egiptiese tronk gekry het?”

In die Torah leesstuk van hierdie week kom Avimeleg, die koning van die Pelieshtyne (Filistyne), na Yietsgak (Isak) toe en sê vir hom:

“Ons het duidelik gesien dat Yahweh met jou is … jy is nou eenmaal die geseënde van Yahweh” (Gen 26:28-29).

Hoe ironies dat daar op hierdie oomblik ‘n militêre aanval op Israel, die nasate van Yietsgak, geloods word en dat die aanvallers die Palestyne is – die nasate van dieselfde Pelieshtyne waarvan ons in Gen 26 lees. Die verskil is net dat die leiers van die Pelieshtyne in Yietsgak se tyd duidelik kon sien dat Yahweh met Yietsgak was en daarom nie kans gesien het om swaarde met hom te kruis nie. Die Pelieshtyne van 2012 sien dit egter nie só nie. Hulle meen dat die Almagtige aan húlle kant is en het die afgelope twee of drie dae gereeld uitsprake gemaak soos “God is with us en will give us the victory” en “We want to kill in the name of God”.

Baie gelowiges weet nie mooi hoe hulle oor die plofbare situasie rondom Israel moet dink nie. Bykans die hele wêreld (insluitend die regering van ons eie land) kies deesdae die kant van die Palestyne en sien Israel as die groot vlieg in die salf wat op sy plek gesit moet word. Boonop, as ‘n mens na Israel kyk en na die leefstyl en die geloof, of die gebrek aan geloof, van baie mense in die Land, kan jy nie anders as om te wonder of Yahweh nog met hulle is nie … of hulle nog steeds die geseëndes van Yahweh is nie.

Die feite is: As ‘n nasie het Israel nie gebly op die pad van geloof wat die aartsvaders soos Avraham, Yietsgak en Yaákov ingeslaan het nie. Die leiers het meer en meer toegewings gemaak en Yahweh se woord eenkant toe geskuif en die inwoners het toegelaat dat die gees en die verleidinge van die res van die wêreld, ook hierdie land, wat Yahweh vir Homself afgesonder het, binnedring en vertroebel. Die vraag is dus: Moet ons nog by hulle staan en onsself aan hulle kant skaar? Is hulle nog die geseëndes van Yahweh?

Daar is in my gemoed geen twyfel nie. Ons móét by hulle staan. Yahweh het oor die eeue heen by hulle gestaan – ondanks hulle ontrou en hulle rebelsheid en hulle hardkoppigheid. Dit op sigself maak hulle nog steeds geseëndes van Yahweh. As dit nie ‘n teken van seën is wanneer die Almagtige só onwrikbaar by jou bly staan, ondanks al die kere dat jy Hom bedroef het en verloën het nie, dan weet ek nie wat dit beteken om ‘n geseënde van Yahweh te wees nie. Deur net na die afgelope 70 jaar te kyk, sien ‘n mens al klaar onmiskenbaar hoe duidelik Yahweh hierdie volkie geseën en bewaar het: Die feit dat Israel as ‘n volk oorleef het, ten spyte van die ses miljoen wat in die tweede WO vermoor is. Die omstandighede wat daartoe gelei het dat Israel in 1948 weer hulle land terug gekry het en as ‘n volk erken is. Die manier waarop Israel kort daarna die Arabiere verslaan het toe hulle nog ‘n skaars ‘n weermag op die been kon bring en baie minder soldate as die Arabiere gehad het. Die statistieke wat aantoon dat die land Israel se bevolking sedert onafhanklikheid van 800 000 tot 8 miljoen gegroei het. Die klinkende oorwinning oor die gekombineerde magte van Sirië, Jordanië en Egipte tydens die Sesdaagse oorlog in 1967. Die Yom Kippur oorlog in 1973 wat deur Egipte en Sirië doelbewus op die dag van Yom Kippur begin is en drie weke later met Israel as oorwinnaars geëindig het.

Dikwels het die nie so goed gegaan met hierdie volkie nie. Soms het hulle die onderspit gedelf in hulle onderonsies met hulle vyande. Net soos wat dit in die tyd van die aartsvaders en die rigters en die konings ook gebeur het. Maar Yahweh het dit as sy voorneme verklaar om hulle te seën en dis nie te moeilik om raak te sien dat Hy tot vandag bly by hierdie voorneme van Hom nie. Die merkwaardige is dat die Skrif aandui dat selfs hulle wat aanvanklik nie déél van Israel was nie, by hierdie volk kan aansluit en kan deel in die seëninge wat die Vader vir hulle bestem het. Hoe kan dit gebeur? Hoe word ‘n mens ‘n geseënde van Yahweh?

1.Deur Yahweh te soek terwyl Hy te vinde is en te roep terwyl Hy naby is.
Jes 55:5-6 Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van Yahweh jou Elohiem en van die Afgesonderde van Yiesraél, omdat Hy jou voortreflik gemaak het. Soek Yahweh terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.

2.Deur sy Shabbatte te hou, te kies wat Hom behaag en vas te hou aan sy verbond.
Jes 56:4-5 Want so sê Yahweh aan die ontmandes wat my Shabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ‘n herinneringsteken en ‘n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.

3.Deur jou te ontferm oor hongeriges, ellendiges, swerflinge, verdruktes en naaktes.
Jes 58:7-8 (As) jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerflinge in die huis inbring … iemand sien wat naak is en hom klee … dan sal jou lig deurbreek soos die daglig en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die grootheid van Yahweh jou agterhoede wees.

4.Deur die ou puinhope en dit wat lank woes gelê het, weer op te rig.
Jes 61:4,9 Hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en … weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag … En hulle nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle ‘n geslag is wat Yahweh geseën het.

5.Deur Yahweh aan sy beloftes te bly herinner en nie daaraan te twyfel nie.
Jes 62:5-6 Want soos ‘n jonkman ‘n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou Elohiem oor jou bly wees. o Yerushalayiem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat voortdurend die hele dag en die hele nag nie sal stilbly nie. Julle wat Yahweh herinner aan sy beloftes – moenie rus nie.

6.Deur jou te bekeer van jou opstandigheid, jou verkeerde weë en jou eie gedagtes.
Jes 65:2,9 Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ‘n opstandige volk wat wandel op ‘n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan … En Ek sal ‘n nakroos uit Yaákov laat voortkom en uit Yehudah die erfbesitter van my berge; en my uitverkorenes sal dit erflik in besit neem en my knegte daar woon.

7.Deur vir die Woord van Yahweh te bewe al word jy verstoot om sy Naam ontwil.
Jes 66:5,12 Hoor die woord van Yahweh, julle wat vir sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil … sal beskaamd staan! So sê Yahweh: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos ‘n rivier en die rykdom van die nasies soos ‘n oorlopende stroom; en julle sal … op die heup gedra word en op die knieë getroetel word.