WAT DIE SEWENDE MAAND VIR ONS BETEKEN

alternate text1 Die sewende maand het ‘n sterk profetiese betekenis en hou verband met die letterlike betekenis van die Hebreeuse woord vir sewe (“sheva”): om te vervul, om te voleindig, om vol te maak, om volmaak te wees. Die bedoeling van die feeste van die sewende maand is om die inwoners van die aarde voor te berei vir daardie Dag wanneer Yahweh die bedeling wat ons nou ken en beleef, gaan voleindig – beide deur die uitstort van sy toorn (oor die ongehoorsames) en die oorvloedige bewys van sy guns (oor hulle wat aan Hom getrou was).
2 Om die betekenis van die sewende maand reg te verstaan, kan dit ons baie help om te kyk na die boek in die Skrif wat aan ons bekend gestel word as ‘n profetiese beskrywing van die eindtyd “Dag van Yahweh” – ‘n boek waarin die getal “sewe”, direk en indirek, ongeveer 70 keer gebruik word: Die boek van Openbaring. Openbaring bevat ook 10 verse wat na die getal “10” verwys en gebruik soms die kombinasie van 10 en 7, byvoorbeeld die dier met die 7 koppe en die 10 horings in Opb 13 (Hierdie kombinasie herinner ‘n mens aan die feit dat Yom Kippur op die 10de dag van die 7de maand plaasvind).
3 Yom Teruah is veral bekend as die dag waarop die shofar/trompet/basuin geblaas word. In Openbaring is daar sprake van 7 basuine wat sekere eindtyd gebeure sal aankondig, terwyl die woord “blaas” of “geblaas” 10 keer in hierdie boek voorkom. Dis nie seker hóé en óf die 7 basuine van Openbaring ooreenstem met die opeenvolgende “dae” van die sewende maand nie. Een manier om dit te verstaan is om die 10 “dae” tot en met Yom Kippur as simboliese “dae” te sien en die 7 basuine wat in Openbaring met die “3 weë” vermeng word, as 10 “strawwe” of “oordele” wat op Yom Kippur, die “Groot Dag van Yahweh” ten einde sal loop. Lev 25:9 onthul dat wanneer dit ‘n Jubeljaar is, “die geklank van die ramshoring” op die Dag van Yom Kippur deur “die hele land” moet weerklink. “Groot stem” of “Groot geluid” (Heb “teruah”) kom 21 (3X7) maal in Openbaring voor.
4 Bogenoemde interpretasie impliseer dat die sewende basuin op die Dag van Yom Kippur geblaas word en basies die aanbreek van die Groot Dag van Yahweh aankondig. Hierdie siening word bevestig deur Opb 10:7 “Wanneer die sewende boodskapper met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van Elohiem vervul, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete. Net so ook Opb 11:15 “Die sewende boodskapper het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryk van die wêreld het die eiendom van ons Meester geword en van sy die Messias, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.
5 Die “Dag van Yahweh” is ‘n deurlopende tema in die boek van Openbaring en kan gesien word in 1:10 (Ek was in die Gees op die dag van Yahweh, en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin); 6:17 (Die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?) en 16:14 (Hulle het bymekaar gekom vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige Elohiem). Dit stem ooreen met die Voor-Messiaanse beskrywing van die Dag van Yahweh, onder meer in Joël 2:1 (Blaas die ramshoring op Tsion, en blaas alarm op my afgesonderde berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van Yahweh kom).
6 Die “3 weë” van Openbaring is ook baie interessant. Die woord “wee” word beide in die Messiaanse en die voor-Messiaanse Skrifte aangetref, dikwels in die formaat “Wee die een wat in sy eie oë wys is” (Jes 5:21). Maar 3 keer in die Voor-Messiaanse Skrifte (net soos die 3 weë van Openbaring) verwys die woord “wee” na die aanbreek van die Dag van Yahweh: In Jer 30:7 (Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Yaákov); Jer 50:27 (Wee hulle, want hulle dag het gekom, die tyd van hulle strafoplegging) en Amos 5:18 (Wee die wat na die dag van Yahweh verlang! Wat sal tog die dag van Yahweh vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie). Ons is sonder twyfel nou in die periode van die jaar waarin ons behoort te fokus op die aanbreek van die Dag van Yahweh!
7 Daar is nog ‘n verdere “bewys” dat die sewende maand se feeste ‘n baie sterk profetiese betekenis het. In Openbaring 11 word daar verwys na 42 maande (11:2), 1260 dae (11:3) en 3½ dae (11:9). Dit blyk dat al 3 hierdie beskrywings wil sê: ‘n periode van 3½ jaar. Sonder om op te veel detail in te gaan oor wáár presies hierdie 3½ jaar in die eindtyd gaan inpas, is daar ‘n sterk moontlikheid dat dit reg voor die aanbreek van die Millennium of die 1000 jaar van vrede sal plaasvind – ‘n moontlikheid wat bevestig word deur die feit dat die sewende maand feeste presies in die helfte van (enige) jaar begin en as ‘n mens van hierdie punt af 3½ jaar byvoeg, dan kom jy by die begin van ‘n nuwe jaar uit, 3½ jaar later – die mees ideale plek vir die Millennium om te begin!