Deel van die Torah lesing van hierdie week is Devariem (Deut) 31:6 (“Hy sal jou nie begewe of verlaat nie”) en Devariem (Deut) 31:8 waar dieselfde woorde net so herhaal word. Dieselfde belofte word telkens in die Skrif herhaal – onder meer ook in Ievriem (Hebreërs) 13:5: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Die woord “begewe” is dalk nie meer vandag so algemeen bekend soos in die verlede nie. Daarom wou een klein dogtertjie by haar ma weet: “Hoekom moet ek vir Jannie vergewe wat my pen gesteel het as daar staan ‘Hy sal jou nooit vergewe en jou nooit aflaat nie’”. Daar is ‘n groot verskil tussen AFLAAT en VERLAAT (dink aan die Rooms Katolieke idee van “aflaat” of “kwytskelding”). Net so is daar ook ‘n groot verskil tussen begewe en vergewe. Begewe beteken verlaat, in die steek laat of aan jou eie lot oorlaat. Dis wat Yahweh belowe Hy nooit met diegene sal doen wat aan Hom getrou bly nie. Maar VERGEWE, dit sal Hy doen as ons berou het en dit moet ons ook doen as andere ons te na gekom het.
Een van die treffendste gedeeltes in die Skrif wat hierdie eienskap van Yahweh beklemtoon dat Hy diegene aan wie Hy Hom verbind het, nie sal begewe nie, is YeshaYahu (Jesaja) 49:14-16 “Maar Tsion sê: Yahweh het my verlaat, en Yahweh het my vergeet! Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.” Nêrens in die Skrif word dit duideliker uitgespel hoe ernstig Yahweh daaroor voel as Hy sê “Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie”. Hoe tragies is dit nie dat as ons vandag die vraag moet vra – “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet?” – ons voor die skokkende realiteit te staan kom dat dit nie net teoreties kan gebeur nie, maar in werklikheid reg oor die wêreld op ‘n daaglikse basis gebeur.
In Amerika alleen is daar jaarliks ongeveer 3 miljoen gevalle van verwaarlosing van kinders (“child abuse”) wat aangemeld word en omdat baie van hierdie gevalle meer as een kind insluit, is daar jaarliks ongeveer 6 miljoen kinders wie se lewens daardeur geraak word. Dit beteken in Amerika word daar elke 10 sekondes ‘n verslag van kinderverwaarlosing ingedien en 5 kinders sterf daagliks as gevolg hiervan. Ek kon nie die statistieke vir Suid-Afrika opspoor nie, maar iemand het ‘n paar jaar gelede ‘n opname gemaak van hoeveel kinders daar op een stadium in Suid-Afrika se hospitale was as gevolg van kinderverwaarlosing en met die getal 237 vorendag gekom. Dis net die kinders wat tóé in hospitale was. Dis sluit nie die straatkinders in nie. Dit sluit nie die kinders in weeshuise in nie. Dit sluit nie die kinders in wat in hulle eie huise verwaarloos word en dáár gevange gehou word nie. Dit sluit nie die babas in wat daardie jaar êrens in ‘n donker straathoek of voor iemand se voordeur afgelaai is in die hoop dat iemand anders hulle oor die babas sou ontferm nie.
Hoekom doen mense dit aan hulle eie kinders, vra ‘n mens jouself af. Daar is baie redes soos armoede, drank- en dwelmmisbruik, emosionele probleme en selfs erge sielkundige probleme. Maar ‘n mens wonder of die belangrikste oorsaak nie is omdat die ouers self nooit in hulle eie ouerhuise geleer het wat dinge soos liefde en lojaliteit en verbintenis en onselfsugtigheid beteken nie. En omdat hulle dit nie in hulle ouerhuise geken het nie, weet hulle nie hoe om dit teenoor hulle eie kinders toe te pas nie. Hoe wens ‘n mens nie dat sulke ouers êrens in hulle lewe ‘n ontmoeting met Yahweh kan hê nie! Ps 27:10 “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar Yahweh sal my aanneem.” Hy is die Een wat absoluut getrou en absoluut lojaal is – wat die naam van ‘n stad en van sy inwoners op sy handpalm graveer en verklaar dat daar nie ‘n sekonde verbygaan dat Hy nie aan hulle dink nie. Die een wie se liefde so sterk soos die dood is en wie se ingewande in beroering kom oor diegene wat aan Hom behoort. Die een wat soos ‘n arend sy vlerke uitsprei oor die kleintjies en met ongeduld daarop wag om guns aan hulle te betoon. Die een wat stadig is om kwaad te word en vinnig om goed te doen en barmhartig te wees. So kan ‘n mens aangaan, maar kom ons bepaal ons meer spesifiek by wat die Skrif bedoel as dit sê dat Hy ons nie sal begewe (“rafah”) of verlaat (“azaf”) nie.
(1) Deut 4:31 Want Yahweh jou Elohiem is ‘n barmhartige El; Hy sal jou nie verlaat (“rafah”) en jou nie in die vernietiging stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.
Hy sal sy deel van die verbond nie vergeet nie.
(2) Deut 31:8 En dit is Yahweh wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe (“rafah”) of verlaat (“azaf”) nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie.
Hy sal voor jou uittrek en altyd met jou wees.
(3) Jos 1:5 Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Mosheh gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe (“rafah”) en jou nie verlaat (“azaf”) nie.
Hy sal jou laat oorwin en met jou teëstanders afreken.
(4) Ps 38:21-22 Verlaat (“azaf”) my nie, o Yahweh! My Elohiem, wees nie ver van my af nie! Maak tog gou om my te help, Yahweh, my verlossing!
Hy sal nooit ver weg wees nie en gou wees om te help.
(5) 1 Kron 28:20 En Dawied het aan sy seun Shelomoh gesê: Wees sterk en vol moed, en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want Yahweh Elohiem, my Elohiem, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe (“rafah”) en jou nie verlaat (“azaf”) nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van Yahweh voltooi het.
Hy sal jou toerus om jou dienswerk te doen.
(6) 1 Kon 6:12-13 Wat hierdie huis betref, wat jy besig is om te bou – as jy wandel in my insettinge en my verordeninge uitvoer en al my gebooie onderhou om daarin te wandel, dan sal Ek my woord wat Ek aan jou vader Dawied gesê het, aan jou vervul; dan sal Ek onder die kinders van Yiesraél woon en my volk Yiesraél nie verlaat (“azaf”) nie.
Hy sal onder jou en jou medegelowiges woon.
(7) 1 Kon 8:57-58 Mag Yahweh onse Elohiem met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat (“azaf”) en ons nie verwerp nie – deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge wat Hy ons vaders beveel het, te onderhou.
Hy sal jou hart na Hom toe neig.
(8) Ps 138:6-8 Want Yahweh is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte. As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my. Yahweh sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, Yahweh, is tot in ewigheid: laat nie vaar (“rafah”) die werke van u hande nie!
Hy sal jou bewaar in elke vorm van benoudheid.
(9) Neh 9:19 het U in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat (“azaf”) in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie.
Hy sal die pad verlig waarop jy moet gaan.
(10) Ps 16:10-11 Want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee (“azaf”) nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.
Hy sal jou siel nie aan die doderyk oorgee nie, maar in die plek daarvan bied Hy aan: lewe, versadiging, vreugde en lieflikhede vir ewig.