Die naam van die voorgestelde leesstuk van hierdie week (Deut 11:26 – 16:17) is “Re-éh” – afgelei van die woord “ra-áh”, die Hebreeuse woord wat beteken “om te kan sien”. Die eerste drie verse van hierdie lees-eenheid klink só: “Kyk (of “sien”; Engels: “behold”), ek hou julle vandag seën en vloek voor – die seën as julle luister na die gebooie van Yahweh julle Elohiem wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van Yahweh julle Elohiem nie.” Dis vir my een van die skatte van die Torah dat die woord “sien” dikwels op die mees onverwagse plekke opduik, maar as jy die moeite doen om dit te lees binne die konteks waarin dit voorkom, ontdek jy keer op keer: Die woord “sien” is met ‘n REDE daar geplaas, want dit gaan oor ‘n waarheid wat baie mense, oor die geskiedenis heen, NIE GESIEN het nie!
Wie is daar vandag wat nie begeer om seën oor sy of haar lewe te ervaar nie? Wie is daar wat doelbewus ‘n vloek oor hom of haarself sal bring? En tog is daar bitter min mense wat vandag die woorde van Deuteronomium 11:26 – 28 “sien” of ernstig opneem of deel van hulle geloofsbeskouing maak. Sien ons, en glo ons wat swart op wit in hierdie gedeelte staan? As ons ons steur aan die gebooie van Yahweh, sal ons seën ervaar; as ons sy gebooie verwerp, bring ons ‘n vloek oor onsself! Baie mense bewys dat hulle nie sien nie, deur te sê: Maar Y’shua het dan die gebooie vervul – ons hoef dit mos nie meer te doen nie! En só bevestig hulle dat hulle nie net die woordjie “sien” in Deuteronomium 11 gemis het nie, maar ook gemis het wat Y’shua gesê het toe Hy verklaar het dat Hy nie gekom het om die Torah tot niet te maak nie, maar om dit te vervul.
In sy boek “The Road Less Travelled” het Scott Peck ‘n baie waar ding gesê : “Human beings are poor examiners, subject to superstition, bias, prejudice, and a profound tendency to see what they want to see rather than what is really there.” Baie van ons het nog nie die kuns bemeester om te kan sien nie. Ons moet oppas om die aspek van “sien” nie totaal te vergeestelik nie. Ons sê so maklik vir mekaar: So-en-so kan ‘n waarheid nie sien of verstaan nie, want sy of haar oë het nog nie oopgegaan nie. Asof “iemand anders” ons oë vir ons moet oopmaak! Meeste van die kere kan ons nie sien nie, omdat ons, soos Scott Peck gesê het “poor examiners” is en dood eenvoudig deur dinge soos bygelowigheid, vooroordeel en tradisie verblind word. Dis tyd dat ons vars na die Woord kyk en nuut oor die Woord dink! Nie kyk en dink soos wat andere ons geleer het om te kyk en te dink nie. Die Hebreeuse woord vir ‘n aasvoël (Engels: “vulture”) is “ra-áh” – afgelei van dieselfde woord as die woord wat in Deut 11:26 gebruik word: “Om te kan sien”. ‘n Aasvoël of ‘n roofvoël wat nie verder kan sien as wat sy snawel lank is nie, sal nooit kan oorleef nie! Sy hele bestaan is afhanklik daarvan om goed te kan sien. Kom ons neem vandag ‘n besluit dat, wanneer dit by die Woord kom en ons verstaan van die Woord, ons gaan doen wat nodig is om soos ‘n roofvoël die detail en die ware feite te sien en nie langer toe te laat dat mense ons ‘n rat voor die oë draai nie.
Om waarlik en behoorlik te kan sien, is een van die grootste gawes wat ons uit die hand van Yahweh ontvang het. Trouens, in hierdie opsig verlang die Skepper dat ons soos Hy moet wees. Iemand wat nie net sien soos dit op die oppervlakte lyk nie, maar iemand wat kan sien “what is really there”. Toe Hagar, wat later die ma van Ismael (of Yieshmaél) en die “moeder” van Islam sou word, van Avram en Sarai gevlug het, het Yahweh haar gesien en haar opgesoek. Party Christene sal frons hieroor en sê: “Waarom sou Yahweh die moeite doen om selfs net na haar te kyk?” Maar ons vergeet soms dat Yahweh anders sien as wat ons sien. Hy het vir Hagar opgesoek en vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag oorvloediglik vermeerder, sodat dit vanweë die groot aantal nie getel kan word nie. Kyk, jy is swanger en sal ‘n seun verwek, en jy moet hom Yieshmaél noem, want Yahweh het jou in jou ellende verhoor (Gen 16:10-11). En wat is Hagar se reaksie? Sy roep die Naam van Yahweh aan! Hagar, die slavin van Avram en die matriarg van Islam, is een van die eerste persone in die hele Skrif wat die Naam van Yahweh aangeroep het! En sy noem die put in die woestyn waar Yahweh met haar kom praat het “Beër-lagai-roi” – die Put van die Lewende Een wat my (raak)gesien het.
Toe Avraham, in opdrag van Yahweh, sy seun Isak (of Yietsgak) geneem het en van Beër-sheva af (“put van vervulling” – ook bekend as Berseba) drie dae lank in ‘n noordelike rigting gestap het, met die hartverskeurende opdrag dat hy sy seun moes gaan offer, het Yahweh die hele tyd sy oog op Avraham gehou. En toe die kritiese oomblik aanbreek, en Avraham gereed was om, op Yahweh se woord alleen, sy eie seun dood te maak, hoor hy die woorde: “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy Elohiem vrees en jou seun, jou enigste, van My nie weerhou het nie.” In die plek van sy seun offer Avraham ‘n ram wat met sy horings in ‘n bos verstrengel geraak het en noem die plek MoriYah, wat ‘n kombinasie van twee Hebreeuse woorde is: “ra-áh” (om te kan sien) en “Yahweh” (die Een wat die hele tyd sy oog op Avraham gehou het). Die naam MoriYah beteken letterlik “gesien deur Yahweh”, maar dit sou ook vertaal kon word as “voorsien deur Yahweh”. Omdat Yahweh soveel beter en soveel verder en soveel vroeër sien as ons, kan hy letterlik in ons behoeftes “voorsien” – omdat Hy sien “vóór” ons kan sien! Die juweel van hierdie verhaal is dat MoriYah volgens alle aanduidings die plek is wat later as Jerusalem bekend sou staan – die plek waar Yahweh sy Seun in ons plek as offer aangeneem het en “gesien” en “voorsien” het op ‘n manier wat ‘n drastiese en onomkeerbare impak op die geskiedenis van hierdie wêreld sou hê.
Die profete van Israel, en veral die profeet Jesaja, het keer op keer die boodskap verkondig van die onvermoë van die volk om behoorlik te kan sien. As mens bloot oppervlakkig na sommige van hierdie gedeeltes kyk, lyk dit asof die volk nie kon sien nie, omdat Yahweh hulle oë toegesmeer het. Maar die patroon is elke keer dieselfde: Dit begin altyd by die volk wat nie wil luister nie en nie behoorlik kyk wat rondom hulle aangaan nie. En dan is die gevolg hiervan dat Yahweh hulle visie en hulle gehoor afstomp, sodat hulle in hulle eie klein wêreldjie verstrengel raak, totdat dit so benoud om hulle raak dat hulle nie anders kán as om na Yahweh uit te roep nie. Jes 6:10 “Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore toe en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie.” Jes 29:10-18 “Want Yahweh het oor julle uitgegiet ‘n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë … toegebind … (want) hierdie volk kom nader met hulle mond en eer My met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou … (maar) in daardie dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien.” Jes 32:3-4 Dan sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van hulle wat hoor, sal luister; en die hart van die onbedagsames sal leer om te verstaan.” Jes 35:3-5 “Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas … dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.” Jes 42:16 “Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes.” Jes 43:7-9 “Elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer (sal na My toe gebring word) … Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.” Jes 44:18-22 “Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie; en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand nie … jy is my kneg; Ek het jou geformeer … jy sal deur My nie vergeet word nie … Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.” Jes 59:10-20 “Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond … ons is onder die gesondes soos dooie mense … die waarheid word vermis … maar vir hulle wat hulle bekeer van hulle oortreding sal Ek kom as Verlosser, sê Yahweh”.
Die heel eerste woorde wat ‘n gehoor of ‘n vergadering van mense hier op aarde uit die mond van Y’shua gehoor het, was toe Hy ná sy doop en sy versoeking in die woestyn op die Shabbat na ‘n sinagoge toe gegaan het en daar in die openbaar uit die boekrol van Jesaja gelees het – onder andere die woorde van Jesaja 61:1. Lukas 4:18 sê vir ons dat Y’shua die profesie van Jesaja op Homself van toepassing gemaak het en voor al die aanwesiges verklaar het: “Hy het My gestuur om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig”. In sy leringe en sy boodskappe wat hy tydens sy bediening hier op aarde aan mense gebring het, het hy dikwels afgesluit met die woorde: “Wie ore het, laat hom hoor!” – en ons sou hier kon byvoeg: “Wie oë het, laat hom sien!” Dit is die verantwoordelikheid van die een wat ore ontvang het, om te luister – net soos dit die verantwoordelikheid is van die een wat oë ontvang het, om te kyk totdat jy reg sien en reg verstaan. Dis ‘n verantwoordelikheid wat onvervreembaar is. Niemand anders kan in ons eie lyf inklim en daardie verantwoordelikheid oorneem nie. Soms is dit moeilik om op jou eie reg te sien en reg te hoor. Dis altyd raadsaam om jou te skaar by mense wat jy ken en vertrou en wat net so ernstig soos jy is om reg te hoor en raak te sien en behoorlik te verstaan. Maar die boodskap van die Skrif is duidelik: Daar is baie meer wat horende doof en siende blind is, as wat jy dink! Moenie rus voordat jy, met die hulp van die Gees van Yahweh en die voorsiening wat Hy oor jou pad gestuur het, die dinge in jou eie lewe en die dinge in die wêreld rondom jou en die dinge in sy Woord wat Hy wil hê jy moet raaksien, een vir een begin sien en jou lewe stukkie vir stukkie begin verander nie!