OM UITGESTUUR TE WORD

alternate textDie Torah leesstuk van hierdie week begin met die uitstuur van die 12 verspieders of verkenners wat die land Kanaän moes gaan verken. Hierdie 12 is uitgestuur vanaf die woestyn Paran, naby die hedendaagse Eilat, aan die suide van die land Kanaan. Die twee bekendste lede van hierdie span wat uitgestuur is, was Yahushua, uit die stam van Efrayiem, en Kalev, uit die stam van Yehudah. Hulle was ook die enigste twee wat optimisties was oor die land en sy moontlikhede en wat vir Mosheh en die volk aangemoedig het om die land in besit te neem. Die tweede gedeelte wat ook ingesluit word by hierdie week se leesrooster, is Joshua 2, waar Yahushua self op sy beurt 2 verspieders uitstuur, vanaf Shiettiem, ongeveer 12 km oos van Yerigo, aan die oorkant van die Jordaan. Ons weet nie wie hierdie twee verspieders was nie, maar ons weet dat hulle by Ragav aangekom het wat hulle weggesteek het en uiteindelik gehelp het om te ontsnap sodat die koning van Yerigo hulle nie in die hande kon kry nie, terwyl die verspieders, op hulle beurt, belowe het dat hulle Ragav en haar familie sou spaar wanneer die volk Yerigo sou inneem. Die derde gedeelte is Matteus 10 waar Y’shua sy 12 dissipels uitgestuur het (waarskynlik vanuit Kapernaum in Galilea) en hulle aangesê het om na “die verlore skape van die huis van Israel” te gaan (en NIE na die stede van die Shomeroniete toe nie) en aan hulle die boodskap te bring dat die koninkryk van die hemel naby gekom het.

Die eerste “uitstuur” was vanaf ‘n plek suid van die land van Israel, naby Eilat. Die tweede uitstuur was vanaf ‘n plek regoor die sentrale gedeelte van Israel, naby Yerigo. Die derde uitstuur was vanaf ‘n plek in die noorde van Israel, naby Kapernaum. En toe Y’shua, ná sy opstanding, vir die laaste keer (voor sy hemelvaart) met sy dissipels gepraat het, het Hy na nog ‘n “uitstuur” verwys, in Hand 1:8 “Julle sal krag ontvang wanneer die Afgesonderde Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Yerushalayiem sowel as in die hele Yehudah en Shomeron en tot aan die uiterste van die aarde.” Hierdie keer het die “uitstuur” vanaf Jerusalem plaasgevind – heel moontlik vanuit dieselfde bovertrek waar Y’shua vir die laaste keer die Pesag saam met sy dissipels gehou het en ook dieselfde plek waar hy op die aand ná sy opstanding aan sy verskrikte dissipels verskyn het en onder meer vir hulle gesê het: “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh 20:21). Hand 1 se uitstuur en Joh 20 se uitstuur het net ‘n paar weke uitmekaar uit plaasgevind (in die periode tussen Pesag en Shavuot). Eintlik is dit een en dieselfde uitsending. Albei het in die bovertrek plaasgevind. Albei het gebeur met verskynings van Y’shua, ná sy opstanding. Albei het ‘n baie groter teiken-area gehad as enige van die vorige “uitstuur” gedeeltes in die Skrif. Dit was nie meer die land noord van die Paran woestyn of die land oos van die Jordaan of “slegs die verlore skape van Israel” nie. Nee, hierdie keer het dit begin by Jerusalem en daarvandaan uitgekring na die res van Judea en Shomeron (Samaria) en tot aan die uithoeke van die aarde.

Dis hierdie laaste uitstuur wat daartoe gelei het dat ons, wat vandag hierdie pad loop, die boodskap van die koninkryk van Elohiem gehoor het en dit met groot blydskap aangeneem het. En dis ook hierdie laaste uitstuur wat ons mandaat is en vir ons die opdrag inhou, om die proses voort te sit en die boodskap ook aan ander te bring. Y’shua het dit kort en kragtig, en in geen onduidelike taal nie, aan sy volgelinge, en dus ook aan ons adres, uitgestippel: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. Wat behels hierdie uitstuur? Waarom moet ‘n mens (of mense) uitgestuur word? Wat is die opdrag wat uitgevoer moet word? Wat is die gevare waarvoor ‘n mens moet uitkyk? Wat is die waarde daarvan om uitgestuur te word? Is dit iets wat jy aan die einde as beloning ontvang of is dit iets wat met jou gebeur terwyl jy met jou verkenning besig is? Baie van die antwoorde op hierdie vrae kom na vore in die beskrywing van die drie “uitsendings” onder leiding van Mosheh (by Paran), Yahushua (by Shiettiem) en Y’shua (by Kapernaum). Kom ons kyk na enkele aspekte hiervan.

Die hoogtepunt van Yahushua en Kalev se getuienis teenoor die volk toe die ander 10 verspieders (by hulle terugkoms) aangehou het om negatiewe dinge oor Kanaän te sê, is Num 14:9 “Wees net nie teen Yahweh opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons brood. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en Yahweh is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!” Veral die woorde: “Wees nie vir hulle bevrees nie, want Yahweh is met ons.” As volgelinge van die Messias word ons ook in hierdie wêreld uitgestuur – nie soseer om die land te verken nie, en ook nie net vir ‘n paar dae of ‘n paar weke nie, maar om die pad voor te berei vir die koms van die Koning en om met hierdie sending besig te bly, totdat die Koning kom. Jes 40:3-4 “Die stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van Yahweh; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse Elohiem! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.” Rondom ons is daar ‘n wildernis en daar moet ‘n pad dwarsdeur hierdie wildernis gemaak word. Daar is lae plekke wat opgevul moet word en hoë plekke wat gelyk gemaak moet word. Daar is rotsagtige plekke wat glad gemaak moet word. En die grootste enkele struikelblok is dat ons dalk kan vergeet dat Yahweh met ons is en daarom bevrees word vir wat ons voor ons sien. Kom ons volg hierin die voorbeeld van Yahushua en Kalev wat met alles wat hulle het, vasgehou het aan die wete dat Yahweh met hulle is.

Die hoogtepunt van die tweede uitsending is die woorde van Ragav teenoor die twee verspieders wat by haar gekom het in Jos 2:11 “Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want Yahweh julle Elohiem, Hy is Elohiem in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.” Ons is nie seker wat later met Ragav gebeur het nie. Die Yehudiem het ‘n tradisie wat sê dat sy met Yahushua getrou het en dat nie minder nie as 8 profete uit haar nasate gebore is, onder meer YermeYahu en Yegeskel. Daar is ‘n ander tradisie wat sê dat sy die moeder van Boás was en dat Dawid, en uiteindelik die Messias uit haar nageslag gebore is. In Hebreërs 11 en Jakobus 2 word Ragav se naam onder die geloofshelde van die vroeë tyd genoem – mense wat nie net gesê het hulle glo nie, maar wie se werke hulle geloof bevestig het, al het hulle nie altyd in die openbare oog gekom nie. Hoe dit ook al sy, deur Ragav se woorde kry ons ‘n kykie deur die bril van iemand wat aan die ander kant van die proses van uitsending staan. Hulle kan op een van twee maniere reageer op die boodskap wat ons aan hulle oordra en op die manier waarop ons dit oordra: Hulle kan hulle skouers optrek en sê: Dit wat julle het om aan te bied is niks meer of niks anders as wat ons reeds het nie. OF hulle kan soos Ragav sê: Ons het iets of Iemand by julle gesien wat so groot is dat ons harte gesmelt het en ons weet nou Yahweh julle Elohiem is die enigste Elohiem in die hemel daarbo en op die aarde hieronder!

Die derde uitsending, toe Y’shua sy dissipels twee-twee uitgestuur het met die boodskap dat die koninkryk van die hemel naby gekom het, bevat ‘n hele aantal aspekte waarop ons vandag kan voort borduur. Daar is egter een wat vir my uitstaan: Mat 10:16 “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Kyk Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in. Iemand het hierop die volgende kommentaar gelewer: (Y’shua says:) “I send you, inoffensive and harmless, into a cold, unfriendly, and cruel world. Your innocence will not be a protection.” Daar moes by hulle geen illusies wees nie. Om gestuur te word om die pad vir die Koning gereed te maak, is nie sondagskool piekniek nie. Die proses is nie sonder sy gevare nie en diegene wat uitgestuur word, is weerloos en broos en kwesbaar. Jy kan seerkry in die proses. Jy kan aangeval word. Jy kan baie sterk teenkanting verwag. Maar jy het ‘n sekere soort outoriteit ontvang van die Een wat jy gestuur het. ‘n Outoriteit om genesing, en vrede en die boodskap van verlossing en vergifnis deur die Messias aan mense oor te dra. En as mense jou met hulle woorde of dade uitmekaar uit probeer skeur – onthou: Jy het die Gees van Yahweh binne-in jou wat jou in daardie uur sal bystaan. Voor die mense van hierdie wêreld moet julle versigtig wees soos slange, voor Yahweh moet julle opreg wees soos duiwe. Versigtig soos slange, in die sin dat ons niemand enige rede moet gee om ‘n vinger na ons te wys nie en opreg soos duiwe, in die sin dat selfs ons diepste motiewe (wat slegs deur Yahweh voluit gesien kan word) suiwer, onselfsugtig en gerig op sy koninkryk moet wees.

Die eerste drie uitsendings was grootliks eksklusief – dit was hoofsaaklik gemik op die Beloofde Land, Kanaän en die huis van Israel. Shomeron (Samaria) was voorlopig uitgesluit. In Joh 4:9 het die Samaritaanse vrou vir Y’shua gesê: “Die Yehudiem hou geen gemeenskap met die Shomeroniete nie.” Hulle sit nie langs dieselfde vuur nie. Hulle het nie ‘n natuurlike aangetrokkenheid na mekaar nie. Vanaf die vierde uitsending het dit egter alles verander. Y’shua stuur ons nou na mense wat anders as ons is. Want Yahweh het vir óns, en vir Ragav, wat anders as sy mense was, ingetrek en deel gemaak van sy koninkryk. Dis nie so maklik nie, maar Hy maak dit vir ons moontlik. Hy sê vir ons: “Ek is met julle; Ek laat die mense se harte smelt; Ek gee vir julle outoriteit; Ek gee vir julle my Gees.” Moenie vir Shomeron oorslaan nie. Wees net versigtig soos slange, maar belangriker nog: Voor My moet jou opreg soos duiwe wees!