VERDRAAIDE AANBIDDING

alternate textDaar is baie gedeeltes in die Skrif waar ‘n mens lees van skokkende dinge wat deur mense gedoen is – mense na wie meeste van ons van kleins af opgesien het, leiers en profete van die volk Yiesraél, groot figure wat veronderstel was om die toon aan te gee in sake wat met die weë van Yahweh en geloof te make het. In hierdie verband staan die eerste en mees bekende hoëpriester van die volk, Aharon, heel voor in die koor. Wat het Aharon besiel, wonder ‘n mens dikwels, om sonder om te protesteer toe te gee aan die volk se wens om ‘n goue kalf te maak waarvoor die volk kon neerbuig en verklaar: Dit is die een wat ons uit Mietsrayiem uitgelei het? Hoe is dit moontlik dat Aharon so diep kon geval het? En hoe kon die hele volk so dwaas wees om na alles wat hulle uit die hand van Yahweh gesien gebeur het, voor ‘n dooie, lewelose beeld neer te buig en hulle aanbidding op so ‘n gruwelike manier te verdraai en te misvorm?

Hierdie bekende voorval word in Shemot 32 beskryf en vorm deel van die Torah-porsie van hierdie week. Daar is veral een vers wat uitstaan en waaroor ons reg aan die begin uitsluitsel moet kry:

Ex 32:4 En hy (Aharon) het dit (die goue voorwerpe) uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak. Daarna sê hulle: Dit is jou magtiges, o Yiesraél, wat jou uit Mietsrayiem laat optrek het.

Verbeel jou: Dit (hierdie mensgemaakte misbaksel van ‘n goue kalf) is jou magtiges, o Yiesraél …! Belaglik! Maar wag ‘n bietjie, van wanneer af het Yiesraél magtiges? En is dit nie onsinnig om te sê een goue kalf is “magtiges” (meervoud) nie? Hoekom word hier skielik van “jou magtiges” gepraat terwyl dieselfde woord “elohega” meer as 250 keer in die Skrif met “jou Elohiem” of “jou Magtige” vertaal word? Dit is interessant om ‘n bietjie na die verskillende vertalings van hierdie vers te gaan kyk. Die toonaangewende King James Version het dit met “your gods” vertaal en meeste ander vertalings waarna ek gekyk het, het die King James se voorbeeld gevolg. Daar is egter ‘n handjievol, waaronder The Scriptures, wat dit met “your mighty one” (of iets soortgelyks) vertaal het.

Baie mense sal wil weet: Waarom kan die vertalers nie net vertaal soos dit daar staan nie? Die antwoord is nie so eenvoudig nie. Wat daar staan, is “elohega” wat ‘n meervoud is en letterlik as “jou magtiges” vertaal moet word. Die feite is egter dat “elohega” ‘n afgeleide vorm van “elohiem” is en “elohiem” is ‘n Hebreeuse woord met die vorm van ‘n meervoud, maar (in verreweg die meeste van die gevalle) die betekenis van ‘n enkelvoud. As ons konsekwent wil wees, meen ek, sal ons moet toegee: Toe die volk daar voor hulle goue kalf gestaan het, het hulle nie gedink dat hulle ander magtiges aanbid nie. Hulle het selfs nie gedink dat hulle meer as een magtige aanbid nie. Hulle het beslis nie gedink dat hulle die sogenaamde Drie-eenheid (wat volgens die verstaan van baie, tegelykertyd één en meer as een is) aanbid nie! Nee, hulle het gemeen dat hulle Yahweh aanbid – die Een wie se magtige dade hulle in Egipte en in die woestyn gesien het en van wie Mosheh hulle geleer het. Maar nou was Mosheh weg en hulle was ongeduldig en Aharon was deurmekaar. En hierdie sameloop van omstandighede gee aanleiding tot ‘n verdraaide soort aanbidding. ‘n Menslike poging om die ware en enigste Elohiem te aanbid, maar op ‘n manier wat teen Yahweh se wil indruis, wat heel waarskynlik ‘n nabootsing was van die maniere van aanbidding wat hulle in Egipte leer ken het.

Op die punt dat Aharon die goue kalf gemaak het, was Mosheh reeds ‘n geruime tyd op die berg – alleen in die teenwoordigheid van Yahweh, in die proses om elke deeltjie van Torah in sy geheue vas te lê. Die laaste woorde wat hy met die volk gespreek het voor sy vertrek teen die berg uit, was om hulle te herinner aan die verbond wat Yahweh met hulle gesluit het (Ex 24:8). En die laaste woorde wat die volk met hom gespreek het … wie sou dit ooit kon dink … was die volgende: “Alles wat Yahweh gesê het, sal ons doen en daarna luister”!! Was die volk ernstig toe hy hierdie onderneming gemaak het? Ja, beslis! Het hulle daarin geslaag om by hierdie onderneming te bly? Nee, volstrek nie! Voordat die 40 dae om was, het daar ‘n hunkering en ‘n begeerte by hulle kop uitgesteek, wat seker een van die sterkste drange is wat aan die mens bekend is: die hunkering om die Almagtige op jou eie, vindingryke manier te aanbid.

Is dit nie waar van die ganse mensdom nie? Dat mense berge sal versit om die Almagtige (of dit wat hulle in sy plek tot die hoogste posisie in hulle lewe verhef het) op maniere te aanbid en te vereer wat hulle self uitgedink het en wat inpas by hulle leefstyl en hulle denke. Sommiges bou self hulle eie goue kalf of stig self hulle eie godsdiens of geloof of filosofie, soos Aharon. Ander is tevrede om nie weer die wiel te ontwerp nie en val bloot in om saam met die res van die volk voor die goue kalf neer te buig en dieselfde deuntjie te sing as die mense rondom hulle, wat hulle ken en vertrou . ‘n Deuntjie wat iemand op ‘n dag uitgedink het, waarvan mense hou en wat hulle goed laat voel en vir hulle plesier verskaf.

Ex 32:6 En hulle (die volk) het die volgende dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer (aan die goue kalf) en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.

‘n Mens wonder nogal wat met die woord “speel” in hierdie vers bedoel word. Dis dieselfde woord “tsagak” waarvan die naam van Yietsgak afgelei is. Yietsgak, wat sy naam ontvang het, omdat sy ma gelag het, toe die boodskapper van Yahweh bekend gemaak het dat sy en Avraham op gevorderde leeftyd ‘n seun sou hê. So, dit wat die volk gedoen het terwyl hulle aan die goue kalf geoffer het en geëet en gedrink het, hou verband met dit wat jy doen as jy lag. Sommiges sê dit beteken hulle het gesing en gedans. Ander sê hulle het hulle oorgegee aan seksuele wanpraktyke. Dit kan selfs beide wees, en nog ander dinge insluit. Die feit bly egter staan: hulle het gespeel en gelag en dinge gedoen wat aan hulle plesier verskaf – byna soos die “laughing in the spirit” van die destydse “Toronto blessing”. Dalk was hulle heel opreg – met goeie bedoelings en opregte harte. Maar sonder dat hulle dit besef, het hulle gespeel met dit wat in wese hulle kosbaarste besitting was. In ons eie idioom sou ons kon sê: Hulle het gespeel met hulle eie “sick leave”. Hulle manier van aanbid was soos hulle dit in hulle eie harte versin het en nie soos Yahweh aan hulle voorgeskryf het nie. En as Mosheh nie vir die volk ingetree het nie sou Yahweh in sy toorn daardie dag die hele volk voor sy aangesig verteer (“kalah” – Ex 32:10) het, net soos wat die volk later in die beloofde land, onder aanvoering van Yahushua met 12000 mense van Ai gemaak het (Jos 8:24).

Hoe dikwels hoor ‘n mens nie dat iemand sê: “Jy kan die Vader op enige manier dien of aanbid of volg, solank jy dit net met ‘n opregte hart doen!” Die goue kalf episode herinner ons daaraan dat daar niks gevaarliker is as so ‘n standpunt nie. Die Skrif leer ons nie net wie ons moet aanbid nie. Dit leer ons ook hoe ons moet aanbid. Die Skrif leer ons in die eerste plek sy Naam en die betekenis van sy Naam. Dit wil sê, die grootste gedeelte van hulle wat daarop aandring dat dit net die “wie” is wat tel, nie die “hoe” nie, het nie eens moeite gedoen om noukeurig vas te stel WIE hierdie Een werklik is nie. As jy die “hoe” van die Skrif heeltemal weggooi en net aan die “wie” wil vashou, is dit immers van die grootste belang dat jy jou nie met die “wie” misgis nie en ten minste sy Naam ken en die betekenis en die krag van sy Naam.

Waarmee ek nie probeer sê dat dit in orde is om die “hoe” by die agterdeur uit te gooi nie. Dit het ons nou onomwonde met die gebeure by die goue kalf gesien. Yahweh is nie tevrede met ‘n verdraaide vorm van aanbidding nie – al is dit by monde van mense met opregte bedoelings en edele motiewe. Ons kan nie ons eie idees en ons eie ontdekkings saam met waarhede van die Skrif in dieselfde pot gooi, en dit ‘n bietjie saamroer en dink die eindproduk gaan ‘n wenresep wees nie. Miskien in die wêreld se oë, maar nie in Yahweh se oë nie. Hy wil hê dat ons hom sal ken en sal volg en sal aanbid, volgens sy terme, nie volgens ons s’n nie. En hierdie aanbidding, as dit enigsins daarop gemik is om die ware en enigste Elohiem te behaag en te vereer, is nie vir ons eie plesier en volgens ons eie smaak nie. Dit is nie ‘n speletjie nie. Dit vra eerbied en vrees en afgesonderdheid en gehoorsaamheid. Dit vra dat ons die natuurlike menslike drang om nuwe maniere van aanbidding uit te dink en ons aanbidding so aantreklik en so “lekker” as moontlik te maak, sal onderdruk en fyn na die woorde van ons hemelse Vader sal luister. Aanbidding beteken per definisie om nie jouself te behaag nie, maar die Een aan wie jy graag aanbidding wil toebring, bloot omdat Hy groot en aanbiddingswaardig is!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »