TOE YAHWEH INGEGRYP HET

alternate textHierdie week se Torah leesstuk kom uit Shemot (Ex) 13:17 tot 17:16. Die Hebreeuse naam vir hierdie leesstuk of parashah is “beshalach” wat beteken: “Toe hy gestuur het” of “Toe hy laat gaan het” of “Toe hy laat trek het”. Dit verwys na daardie groot oomblik in die geskiedenis van die volk van Israel toe Farao uiteindelik die volk laat gaan het – toe hy hulle letterlik die woestyn in gestuur het. Hierdie beslissende oomblik in die Israeliese geskiedenis word in die eerste twee verse van hierdie week se parashah uitgespel: “Toe Farao die volk laat trek het, het Elohiem hulle nie op die pad na die land van die Pelieshtyne gelei nie, alhoewel dit nader was … (maar) die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn …” (Ex 13:17-18). Kom ons kyk net weer na die naam van hierdie parashah: “beshalach”. Hierdie woord bestaan eintlik uit twee woorde: “be” wat normaalweg “in” beteken en “shalag” wat normaalweg “stuur” beteken. Die vraag is waarom “be” in hierdie vers met “toe” vertaal word en nie met “in” nie. Nog ‘n vraag is waarom “be” saam met ‘n werkwoord gebruik word en nie saam met ‘n selfstandige naamwoord (Eng. “noun”) soos ‘n mens sou verwag nie. Ons sê tog normaalweg “in die huis” of “in die winkel” of “in die kas” of “in die swembad”. Die antwoord hierop het te make met die feit dat Hebreeus so ‘n dinamiese taal is en geen probleem daarmee het om ‘n voorsetsel soos “in” saam met ‘n werkwoord te gebruik nie. Daarom sou ‘n mens Ex 13:17-18 hierbo (en wat daarop volg) as volg kon verstaan en vertolk: “Midde-in die gebeurtenis waarin Farao die volk laat trek het, het Elohiem ‘n reeks gebeurtenisse laat plaasvind wat ‘n onuitwisbare merk op die verdere geskiedenis van hierdie volk sou laat …”

Wat is hierdie gebeurtenisse? Die interessante van die “Beshalach” leesstuk is dat dit sommige van die mees uitsonderlike gebeurtenisse bevat wat in die annale van die geskiedenis van Israel opgeteken is. Die wonderbaarlike deurtog deur die Rooisee; die vernietiging van die leer van die Egiptenare; die bitter water van Marah wat soet gemaak word; die ontdekking van ‘n oase met die naam Elim of Eliem, met sy 70 palmbome en 12 fonteine, die water wat uit die rots te voorskyn gebring word; die manna en die kwartels wat soggens en saans as voedsel voorsien word; die dubbele porsie manna wat elke week op die dag voor die Shabbat voorsien word en die Amalekiete wat verslaan word terwyl Mosheh se arms deur Aharon en Gur ondersteun word.

Daar is baie van ons wat ook kan getuig dat ons eintlike geloofspad met ‘n “beshalach” begin het: Toe iets of iemand wat die rol van ‘n Farao in ons lewens gespeel het, ons laat gaan het of ons weg gestuur het. Ons mag dalk self die besluit geneem het om te gaan of te trek of te skuif. Maar ten diepste kom dit daarop neer dat ons “gestuur” is of “laat gaan” is omdat ons dit nie langer onder daardie juk kon uithou nie. Of dalk omdat diegene wat in daardie sisteem vasgevang was, dit nie langer met ons kon uithou nie. So het baie van ons ons ewe skielik op ‘n vreemde, nuwe plek in ons lewens bevind – losgeskeur van dit wat ons voorheen vasgehou en verslaaf het, maar ook losgeskeur van dit wat vir ons gerief en sekuriteit gebring het. Dit het my opnuut getref dat “Elim”, die naam wat ons as ‘n groep hier in Vishoek 15 jaar gelede vir onsself gekies het, voorkom in die Torah leesstuk wat as “beshalach” bekend staan. In die gebeurtenis waarin ‘n handjievol gelowiges meer as 15 jaar gelede deur die kerklike sisteem hier in die Suide van Suid-Afrika “weggestuur” en “laat gaan” is, het Elohiem ‘n reeks gebeurtenisse laat plaasvind wat ‘n onuitwisbare merk sou laat – nie net op die lewens van hulle wat weggestuur is nie, maar ook op die lewens van talle ander wat hulle getuienis sou hoor en by hulle geloofspad sou aansluit. In die “Beshalach” parashah is daar iets profeties wat ‘n mens onwillekeurig herinner aan dit wat vandag in ons eie land (en ook in ander lande) plaasvind …

Ons het reeds daarop gewys dat die woord “beshalach” die dinamiese aard van ons geloofspad beklemtoon. Die vraag is nie “in” watter plek of “in” watter posisie of “in” watter groep of “in” watter sisteem ons is nie. Die vraag is in watter gebeurtenis of handeling of proses ons is. Hetsy dit ‘n handeling van Yahweh is of ‘n proses waarin onsself is, as gevolg van die werk van Yahweh in ons lewens. ‘n Mens kan dit vergelyk met die moderne term “status” wat deesdae in die sosiale en kommunikasie media gebruik word. Sommige mense sal hulle “status” aandui as “in ‘n vergadering” of “op vakansie” of iets soortgelyks. Op ‘n toepassing soos “WhatsApp” is daar ‘n paar “status” opsies wat vooraf op die program gelaai is, wat ‘n mens sommer vinnig kan kies om vir ander ‘n aanduiding te gee wat in jou lewe aangaan. Opsies soos “at school”; “at the movies”; “at work”; “at the gym” en “in a meeting”. In die groter konteks van ons geloofspad, is die vraag nie of ons hier of daar of op ‘n sekere plek is nie. Nee, die vraag is of ons lewe déél is van Yahweh se werk hier op aarde. Die vraag is of ons die vrugte dra en die bewyse lewer dat Yahweh ingegryp het in ons lewens. Die vraag is watter uitwerking dit op ons lewens gehad het toe daar groot en ingrypende dinge met ons gebeur het. En of daardie uitwerking stadig maar seker oorgewaai het en of dit aangehou het om ‘n impak op ons lewens te hê.

Daar is talle plekke in die Skrif waar die woord “in” saam met ‘n werkwoord gebruik word en net soos Ex 13:17 ons aandag vestig op ‘n gebeurtenis waarin Yahweh in die doen en late van mense ingegryp het. Kom ons kyk na enkele voorbeelde hiervan in die boek van Shemot en die uitdaging wat dit voor ons plaas om nie toe te laat dat hierdie bonatuurlike ingrypings in ons lewens tevergeefs plaasvind en eenvoudig ongemerk by ons verbygaan nie.

Die eerste voorbeeld gaan oor wat met ‘n mens gebeur as jy onverskrokke gehoorsaam is. Ex 3:12 En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Mietsrayiem gelei het (letterlik: in die proses waarin jy die volk uit Mietsrayiem gelei het), sal julle op hierdie berg Elohiem dien. In sy wildste drome het Mosheh nie gedink dat hy die volk uit Mietsrayiem sou moes lei nie. En dat hierdie proses vir hom en sy volk sou leer wat dit beteken om Yahweh te dien en te aanbid nie. Die tragedie is dat Mosheh en die volk later die detail van hierdie ervaring vergeet het en teruggeval het in hulle ou weë.

Die tweede voorbeeld gaan oor Yahweh se geduld met ons en kom ook uit hierdie week se parashah. Ex 16:7 “En môre vroeg, dan sal julle die grootheid van Yahweh sien, omdat Hy julle murmureringe teen Yahweh gehoor het (letterlik: in die proses waarin Yahweh na julle gekerm geluister het) – want wat is ons, dat julle teen ons kerm?” Het ons iets daaruit geleer (en dit in ons harte gebêre) toe Yahweh in die verlede na ons gekerm geluister het en vir ons sy grootheid laat sien het?

Die derde voorbeeld gaan oor die onuitspreeklike groot guns van Yahweh. Ex 33:16 “Want waaraan sou dan bekend word dat ek guns in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? (Letterlik: Is dit nie in die proses waarin U met ons saamtrek nie?) So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.” Wie van ons het nie hierdie proses in die verlede beleef nie? Wat meer kan ‘n mens in die lewe begeer as dat Yahweh met jou saamtrek? En hoe kan ‘n mens sê dat Yahweh met jou saamgetrek het, maar jou lewe toon geen noemenswaardige verandering nie en jou leefstyl verskil nie juis van andere wat glad nie so ‘n belewenis geken het nie?

Die vierde voorbeeld gaan oor wat met ‘n mens gebeur as jy in die teenwoordigheid van Yahweh was. Ex 34:29 “En toe Mosheh van die berg Sinai afdaal – die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Mosheh toe hy van die berg afgedaal het (Letterlik: in die die proses waarin hy van die berg afgedaal het) – het Mosheh nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gepraat het nie.” Meeste van ons het tye in die verlede beleef toe dit vir ons (en ander mense rondom ons) kompleet gevoel en gelyk het of die vel van ons gesig blink omdat Yahweh met ons gepraat het. Ons is dalk nie meer op die berg nie. Ons sukkel soms om die stem van Yahweh te hoor. Maar wat verhinder ons om die tafels van die Getuienis weer op te neem? Wat verhinder ons om die Woord van Yahweh weer oor ons te laat spoel en opnuut die vreugde te ervaar om die woorde van die Almagtige aan te gryp met alles wat ons het?

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »