TIEN WOORDE VAN AFSONDERING

alternate textDie Torah leesstuk van hierdie week begin met een van die kragtigste en mees kernagtige uitsprake in die hele Torah: “Afgesonder moet julle wees, want Ek, Yahweh julle Elohiem, is afgesonder” (Lev 19:2). Dit herinner ‘n mens baie sterk aan die woorde van die Messias in sy bekende bergrede, toe Hy probeer het om die hart van die Torah aan sy hoorders oor te dra: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is” (Mat 5:48). ‘n Mens het ‘n sterk vermoede dat daar hier effens afgewyk is van die oorspronklike woorde met die vertaling van Hebreeus na Grieks en dat Y’shua eintlik niks anders as Lev 19:2 in gedagte gehad het nie: “Wees julle dan afgesonder, soos julle Vader in die hemel afgesonder is.” Die apostel Kefa, wat Y’shua baie goed geken het, het dieselfde oproep gemaak, later in sy eerste brief: “Maar soos Hy wat julle geroep het, afgesonder is, moet julle ook in jul hele lewenswandel afgesonder word, omdat daar geskryf is: Wees afgesonder, want Ek is afgesonder” (1 Pet 1:15-16).

Die naam van hierdie Torah leesstuk wat by Lev 19:1 begin, is “Kedoshiem” – afgelei van “kodesh” wat “afgesonder” beteken. Die oproep “Wees afgesonder, want Ek, Yahweh, is afgesonder” kom minstens ses keer in die boek Wayyikra (Levitikus) voor, waarvan drie keer in hierdie week se parashah (19:2 – die tweede vers van die parashah – 20:7 – ‘n korter vorm: Wees afgesonder, want Ek is Yahweh, julle Elohiem – en 20:26 – die tweede laaste vers van die parashah). Daar kan geen twyfel wees dat hierdie oproep ‘n uiters belangrike deel van die Torah in sy geheel is nie. Wat ook opvallend is, is dat die parashah begin met die woorde: “Spreek met die hele vergadering van die kinders van Yiesraél …” Niemand is uitgesluit nie. Niemand kan sê dis net sekeres wat afgesonder moet wees nie. Niemand kan hom- of haarself verskoon en ‘n houding inneem van “nie almal van ons kan afgesonderd leef nie”. As jy graag wil sê “Yahweh is my Elohiem”, het jy nie ‘n keuse nie: Jy moet afgesonder wees soos wat Hy afgesonder is.

Ons weet dat die Tien Woorde of die Tien Gebooie ‘n samevatting is van die belangrikste aspekte van die Torah. Die merkwaardige is dat elkeen van die Tien Gebooie, in een of ander gestalte, ook in hierdie relatiewe kort parashah voorkom waarin al die klem geplaas word op die beginsel: “Wees afgesonder, want Yahweh julle Elohiem is afgesonder.” Die openingswoorde van die Tien Gebooie (Ek is Yahweh julle Elohiem) kom ongeveer 18 keer in hierdie parashah voor – hetsy in die vorm “Ek is Yahweh julle Elohiem” of net in die vorm “Ek is Yahweh”. In Lev 19:36 kom dit in dieselfde vorm voor as in Exodus 20: “Ek is Yahweh julle Elohiem wat julle uit Mietsrayiem uitgelei het”. (1) Die eerste gebod (oor vreemde magtiges) word in Lev 19:4 herhaal: “Begeef julle nie tot die afgode nie”. (2) Die tweede gebod (oor beelde), ook in Lev 19:4: “Maak vir julle geen gegote afgode nie.” (3) Die derde gebod (oor Yahweh se Naam) in Lev 19:12: “Julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou Elohiem ontwy nie”. (4) Die vierde gebod (oor die Shabbat) in Lev 19:3: “Elkeen moet my Shabatte hou”. (5) Die vyfde gebod (oor respek vir die ouers) in Lev 19:3: “Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees”. (6) Die sesde gebod (oor moord) in Lev 19:16: “Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie”. (7) Die sewende gebod (oor egskeiding) in Lev 20:10: “En as iemand owerspel doen met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, beslis doodgemaak word”. (8) Die agste gebod (oor diefstal) in Lev 19:11: “Julle mag nie steel nie”. (9) Die negende gebod (oor valse getuienis en valse gerugte) in Lev 19:16: “Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie”. (10) Die tiende gebod (oor liefde tot die naaste) in Lev 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.

Daar is ‘n hele paar aspekte wat hier na vore kom wat vir ons kan help om die Tien Gebooie beter te verstaan. Wanneer Ex 20 na die vyfde gebod verwys, staan daar: Eer jou vader en jou moeder. Wanneer Lev 19 na die vyfde gebod verwys, staan daar: Vrees jou moeder en jou vader. Dit wil sê: “vrees” in plaas van “eer” en “moeder en vader” in plaas van “vader en moeder”. Waarom sou dit wees? Een van die ou rabbi’s het gesê die hemelse Vader het geweet dat seuns normaalweg hulle moeders makliker eer as hulle vaders, omdat moeders die guns van hulle kinders wen met hulle woorde. Daarom word die vaders eerste genoem, waar “eer” ter sprake is. Seuns (en dogters) eer dalk hulle moeders makliker en gouer, maar moet leer om hulle vaders ook te eer. Wanneer dit egter kom by vrees, sê hierdie rabbi, is die seuns geneig om hulle vaders meer te vrees as hulle moeders, want dis hulle vaders wat vir hulle die Torah leer. Daarom word die moeders eerste genoem, waar vrees ter sprake is. Kinders vrees dalk hulle vaders makliker en gouer, maar moet leer om hulle moeders ook te vrees.

Lev 19:3 bevat ‘n redelik onverwagse kombinasie van temas: “Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en my Shabbatte hou. Ek is Yahweh julle Elohiem”. Waarom word die vrees vir moeder en vader gekombineer met die hou van die Shabbat en waarom word hierdie kombinasie opgevolg met die uitspraak “Ek is Yahweh julle Elohiem”? Die verklaring wat hiervoor gegee word is dat Yahweh eintlik ‘n beginsel aan die volk probeer deurgee wat hulle altyd in gedagte moet hou – ook wanneer dit by ander gebooie kom. Ons kan hierdie beginsel, in Yahweh se eie woorde, as volg verwoord: “Alhoewel Ek van julle verwag om julle ouers te vrees, moet julle dit onthou: As hulle van julle verwag om my Shabatte te onteer, moet julle nie na hulle luister nie, want Ek is Yahweh julle Elohiem”. (Let wel: Julle Elohiem – beide jy en jou ouers is daarby ingesluit). Dit geld ook van die ander gebooie. As ouers, of enige ander persoon met gesag, van jou verwag om iets te doen wat direk teen die Torah indruis, moet dit dan nie doen nie, want niemand het daardie persoon of daardie gesag óór jou, as jou Elohiem aangestel nie.

‘n Laaste gedagte, uit Lev 19:17 “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie”. As dit bloot gesê het “Jy mag jou broer nie haat nie” sou iemand kon redeneer dit beteken bloot: Jy mag jou broer nie verag of slaan of openlik verneder of vervloek nie. Maar nou staan daar: “… in jou hart”. Dit beteken dit gaan oor meer as net uiterlike handelinge. Daar mag niks in jou hart – binne-in jou – wees wat jou broer kan skade berokken nie. Wat hierdie verbod so radikaal maak, is dat die Skrif vir ons ‘n goeie aanduiding gee wat ‘n mens alles met jou hart kan doen. Met jou hart neem jy jou voor om met wysheid op te tree (Pred 1:9); met jou hart onderskei jy tussen goed en kwaad (1 Kon 3:9); met jou hart kan jy saam met iemand gaan (2 Kon 5:26); in jou hart dink jy (Gen 27:41); jou hart kan bly wees oor iets of oor iemand (Ps 16:9); met jou hart kan jy huil oor iets of oor iemand (Klaag 2:18); met jou hart spreek jy wense en begeertes uit (Ps 21:2); ‘n mens kan jou hart verhard sodat jy nie meer na iemand kan luister nie (Ex 9:12); jou hart kan gewillig of onwillig wees as jy aan iemand iets gee (Deut 15:10); ‘n gebroke hart is iets wat Yahweh hoog op prys stel (Ps 51:17); ‘n trotse hart is iets wat Yahweh nie duld nie (Deut 8:14); met jou hart kan jy wegdraai van Yahweh af (Deut 29:18); met jou hart bekeer jy jou tot Yahweh (2 Kon 23:25); goeie woorde is iets wat die hart aanraak (Ps 45:1); jou hart kan jou begewe sodat jy nie kan doen wat jy moet doen nie (Gen 42:28); ensovoorts.

Y’shua is die Een wat kom leer het en kom wys het dat gehoorsaamheid aan die Torah alles met die hart te make het. Dit help niks as ‘n mens die regte geluide en die regte bewegings maak, maar jy is nie van harte daarop ingestel om afgesonder te wees soos Yahweh afgesonder is nie. In wese beteken “afgesonder” dat jou hart aan Yahweh alleen behoort – dat jy uitverkoop is aan Hom alleen. En voordat ek kan sê dat ek my broer in my hart nie haat nie, moet ek eers seker maak of my verhouding met my broer en my gesindheid teenoor my broer en my gevoelens teenoor my broer nie soos ‘n groot blokkasie en hindernis tussen my hart en Yahweh kom inskuif het, sodat my hart nie meer die stem van Yahweh kan hoor nie en ek dus nie meer vir Hom afgesonder is nie. Afgesonderdheid is ‘n saak van die hart en enige saak wat my hart aanraak, positief of negatief, gaan bepaal of ek gaan groei of gaan terugval in my afgesonderdheid aan Hom.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »