TER WILLE VAN SY NAAM

alternate textDie Torah leesstuk van hierdie week staan bekend as “Wayyikra” en dit handel oor die eerste 5 hoofstukke van die boek Levitikus wat in Hebreeus ook as “Wayyikra” bekend staan. Die woord “Wayyikra” beteken “en Hy het geroep” en die ou rabbi’s het hierdie woord as naam van hierdie boek gekies, omdat daar in die heel eerste vers staan: “En Yahweh het Mosheh geroep en met hom gepraat uit die tent van byeenkoms en (die volgende woorde vir hom) gesê …” In Hebreeus het dit besondere betekenis as jy iemand roep. Om iemand te roep beteken in die heel eerste plek om op sy naam te fokus, sy naam te erken en sy naam te noem. Dit was nie moontlik om in ‘n verhouding met iets of iemand te staan as daar nie eers ‘n “exchange of names” plaasgevind het nie. Die basiese Hebreeuse woord vir “roep” is “qara” en op verreweg die meeste plekke waar hierdie woord gebruik word, is dit om te beskryf dat iemand aan iemand anders of aan iets anders ‘n naam gee. Die woord kom 15 keer in die eerste 4 hoofstukke van die Skrif voor – 13 keer om te beskryf dat daar aan sekere deel van die skepping of aan ‘n stad of aan ‘n mens ‘n naam gegee is (“Elohiem het die lig dag genoem”; “Adam het sy seun Shet genoem”; ens) en een keer – heel aan die einde van hoofstuk 4 – om die heel eerste ding te beskryf wat die eerste geslag mense – die kinders en kleinkinders van Adam – almal SAAM gedoen het: “Toe het hulle die Naam van Yahweh begin aanroep” (Gen 4:26).

Toe Yahweh dus vir Mosheh geroep het (aan die begin van die boek Wayyikra), was dit nie maar net ‘n manier om sy aandag te trek nie. Nee dit was onder andere om aan te dui dat daar ‘n intieme, persoonlike verhouding tussen Hom en Mosheh en tussen Hom en die volk bestaan het en dat hierdie verhouding wedersyds eerbiedig moes word. Yahweh self het Mosheh se mens-wees erken, hom as mens eerbiedig en hom daarom op sy naam geroep. Van sý kant af moes Mosheh (en die volk) leer om Yahweh te eerbiedig en sy Naam bo alles te stel. Daarom word die woord “leYahweh” so dikwels in die boek Wayyikra gebruik (17 keer in hierdie parashah en 58 keer in die hele boek). “leYahweh” kan vertaal word met “tot Yahweh”; “aan Yahweh”; “tot eer van Yahweh”; “ter wille van Yahweh” ensovoorts. In Hebreeus is die “le” voorvoegsel net een letter wat voor die Vader se Naam geskryf word, maar daardie een letter het ‘n magtige betekenis. Dit veronderstel dat daar ‘n aksie uitgevoer word wat uit en uit op Yahweh gefokus is. Daar word aan sy Naam, of tot eer van sy Naam, of ter wille van sy Naam, gegee, gesing, geoffer, gebring, voorberei, geluister, gepraat, gedien, gewag, gejubel, uitgereik, beloftes gemaak, en nog baie ander dinge gedoen.

“leYahweh” is ‘n manier om te sê dat Hy die belangrikste deel van ons bestaan is en dat dit nie in die eerste plek om onsself gaan nie – dit gaan nie eens daaroor of dinge vir ons sin maak en of dit inpas by ons manier van doen nie. Iemand wat deur Yahweh by die naam geroep is, het ‘n begeerte om Hom ook by die Naam te roep en te begin om dinge eenvoudig ter wille van sy Naam te noem. Baie van die dinge in Wayyiekra is moeilik om te verstaan. Vet en bloed wat nie geëet mag word nie; sekere diere wat as onrein beskou moet word; sekere dae wat as afgesonder beskou moet word; vyftig dae wat afgetel moet word vanaf die Week van Ongesuurde Brode tot by die fees van Shavuot (Pinkster = vyftig), en so kan ‘n mens aangaan. Hoekom moet dit gedoen word? Hoekom mag die Torah nie geïgnoreer word nie? Omdat Yahweh gesê het dat dit vir Hom belangrik is. Ter wille van sy Naam. Om ‘n hart vir die Torah te hê en ‘n begeerte om die Torah te gehoorsaam en ‘n ywer om die Torah te bestudeer, beteken alles niks as ‘n mens nog nie geleer het om dinge eenvoudig ter wille van sy Naam te doen nie. Van sy kant af sal Yahweh alles doen wat nodig is om te verseker dat sy Naam nie vergeet word nie en dat sy Naam nie misken word nie. Dit kom onder meer na vore in Yegeskel (Esegiël) 36:22: “So sê die Meester Yahweh: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Yiesraél, maar ter wille van my afgesonderde Naam (“leshem qodshi”) wat julle ontwy het onder die nasies waar julle gekom het.” Wie van ons is bereid om ‘n besluit te neem dat ons nie langer gaan deel wees van die proses waarin Yahweh se Naam onder die nasies ontwy word nie? Om soos Mosheh te kan sê: “Yahweh het my geroep en met my gepraat” is seker die grootste voorreg wat daar is. Die vraag is net: Roep ek na Hom soos wat Mosheh na Hom geroep het en is ek bereid om soos die Mosheh van die Ou Verbond en die Mosheh van die Nuwe Verbond, TER WILLE VAN SY NAAM – die pad van absolute gehoorsaamheid te loop?

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »