Hierdie week se Torah leesstuk staan bekend as “Ki Tisa”. Letterlik moet dit vertaal word as “wanneer jy opneem” of “wanneer jy optel” en dit verwys na die opdrag dat die volk getel moes word en dat elkeen wat getel word, ‘n halwe shekel moes bydra wat vir die plek van samekoms gebruik sou word. Hierdie leesstuk begin dus met twee temas wat tot vandag toe ‘n groot rol in ons almal se lewens speel. Die tema van tel en die tema van geld. Almal van ons tel elke dag – of dit nou minute of kilometers of kalorieë of kleinkinders is – dis moeilik om vir jouself ‘n lewe voor te stel waarin jy nooit tel nie. En wat almal van ons waarskynlik meer gereeld tel as enige iets anders, is geld. Of ons nou baie daarvan het of min, ons moet eenvoudig kort-kort tel om te weet of ons die maand gaan uitkom en of ons iets nuuts vir die huis kan bekostig en of ons vir iemand kan help wie se nood dalk groter as ons eie is.
In ons tyd tel ons uit die aard van die saak nie meer noodwendig dieselfde tipe dinge as wat in Mosheh se tyd getel is nie. Ons kan byvoorbeeld nie vandag na die regering toe gaan en vir hulle sê die Skrif sê hulle moet almal wat ouers as 20 is tel en elkeen wat getel is moet 5 sent of 5 rand bydra sodat dit gebruik kan word om die tempelmuur in Jerusalem in stand te hou nie! Kom ons kyk egter of daar nie dinge in hierdie week se Torah porsie is wat ons kan tel en of hierdie telling nie dalk vir ons ‘n boodskap inhou wat ons lewens kan verander nie. Ons weet mos reeds dat getalle en syfers ‘n belangrike rol in die Skrif speel en dat daar tussen die lyne dikwels baie meer staan as wat mens met die eerste oogopslag kan raaksien.
Die eerste aspek wat opvallend is van hierdie week se leesstuk, is die woorde “En Yahweh het met Mosheh gepraat en gesê” wat gereeld gebruik word en (as mens na die Hebreeus kyk) vier keer op presies dieselfde manier gebruik word – in die heel eerste vers (30:11), maar dan ook in 30:17; 30:22 en 31:1. As mens na die Hebreeus kyk bestaan hierdie sin uit vier woorde:
וַיְדַבֵּר יְהוָה אֶל-מֹשֶׁה לֵּאמֹר
Dus, vier keer word presies dieselfde sin gebruik en die sin bestaan uit vier woorde. Kom ons kyk, interessantheidshalwe, na die getal vier in hierdie leesstuk.
Vier keer word die volk ‘n hardnekkige volk genoem: In 32:9; 33:3; 33:5 en 34:9. ‘n Mens dink onwillekeurig aan Stefanus, wat vir sy onwrikbare geloof in die Messias gestenig is en voor sy dood vir die Yehudiem wat hom wou stenig, gesê het: “(Hand 7:51) Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Afgesonderde Gees; net soos julle vaders, so ook julle.” Is hardnekkigheid nie ook iets waarmee ons worstel nie? Waarom gebruik die Skrif dikwels die term “hardnekkig”? Waarom nie hardkoppig nie? Die nek is daardie deel van die liggaam wat die kop aan die lyf verbind. Die nek is die brug tussen weet en doen. Hardnekkigheid is wanneer jy weet wat om te doen, maar nogtans doen jy dit nie. Die beste kop wat daar is, met al die kennis en al die beste idees, en die aantreklikste en mees atletiese en soepel lyf, beteken niks as dit nie aanmekaar verbind word met ‘n nek wat sag is nie – ‘n nek wat nie net die twee verbind nie, maar ‘n nek wat die kop en die lyf ingestel en ingefokus op mekaar maak.
Die goue kalf episode is een van die beste voorbeelde van die hardnekkigheid van die volk. Die volk het reeds die Torah geken dat mens nie ‘n gesnede of gegote beeld in die plek van Yahweh mag stel nie en beslis nie daarvoor mag neerbuig nie. Maar Mosheh kom nie uit nie, Aharon is nie onwillig nie, ‘n mens is nie ‘n klip nie en siedaar – voor jy kon sê “kalf”, sing en dans en speel hulle voor ‘n afgryslike onding wat ‘n gruwel in Yahweh se oë is. Van die goue kalf gepraat, dis opvallend dat toe hierdie wandaad aan die lig kom en Mosheh sy woede nie kon beteuel nie, gee hy opdrag dat die kalf vernietig moet word. Nie net gewoonweg, op een manier nie, maar op vier maniere: Dit moes verbrand word, daarna fyn gemaal word, daarna in water gestrooi word en daarna deur die volk gedrink word! (Shemot 32:20).
Miskien is dit één area waar ons gerus meer gereeld kan tel. Miskien moet ons minder geld tel en minder tel hoeveel verskillende geleenthede daar is om geld te maak of hoeveel dae daar oor is voor ons volgende bedrag geld moet inkom. Hier is iets anders wat ons kan tel. Hoekom tel ons nie ‘n slaggie die hoeveelheid pogings wat ons al aangewend het om in lyn te kom met een of ander aspek van die Torah nie? Of die aantal maatreëls wat ons geneem het om te verseker dat ons nie weer terugkeer na ons goue-kalf-jare nie. Miskien is dit ‘n area waar ons regtig ernstig moet begin tel. Een poging is meeste van die tyd nie genoeg nie. Een stappie wég van ‘n oortreding of wég van ‘n slegte gewoonte is nie genoeg nie. Dalk moet ons ook minstens vier pogings aanwend. En selfs dán behoort ons nie op te hou tel nie, want die pad van geloof is mos ‘n proses – een lang, uitgerekte periode van groei – wat eers eindig as ons die dag ons laaste asem uitblaas.
Is daar nog kombinasies van vier wat in hierdie parashah voorkom? Ja daar is, minstens nog drie. Die eerste is die verwysing na Betsalel wat verkies word om die kunstige werk in die Tent van samekoms te verrig. Baie beskou Betsalel as ‘n voorloper en ‘n heenwyser na die Messias. Sy naam beteken “in die skaduwee van Elohiem”. Sommige rabbi’s verstaan dit so dat Betsalel letterlik die voorreg gegun is om naby aan Elohiem en aan die hemelse tabernakel te kom – letterlik in die skaduwee van Elohiem – sodat hy iets kon waarneem van daardie hemelse model en ‘n replika daarvan hier op aarde kon maak wat nie in enige gewone mens se vermoë was nie. Daar word twee besondere dinge van hom gesê: Yahweh het hom by die naam geroep en Yahweh het hom met sy Gees vervul. Wat was die gevolg hiervan? Vier dinge: Hy was vol van wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir elke werk. Niks is onmoontlik vir iemand wat in die skaduwee van Elohiem gekom het en met die Gees van Yahweh vervul is nie.
Kom ons kyk vervolgens na Shemot 31:13. Let op die twee kombinasies in hierdie teksverwysing: 31: 3+1=4 en 13: 1+3=4. In hierdie vers word daar vir die kinders van Yiesraél gesê: “Julle moet beslis my shabbatte (meervoud) hou”. En dan, in die daaropvolgende paar verse, word die woord “Shabbat” (enkelvoud) presies vier maal gebruik. Sonder die Shabbat af, rus op die Shabbat, onderhou die Shabbat en vier die Shabbat. Die woord wat in Woord en Getuienis met “vier (die Shabbat)” vertaal word, is “assah” wat letterlik “doen” beteken. Vir Afrikaanssprekendes is dit dus baie maklik om te verstaan presies hoe ‘n mens die Shabbat moet vier. Jy vier die Shabbat deur tot by vier te tel en die vier dinge van Shemot 31 ernstig op te neem: Sonder die Shabbat af, rus op die Shabbat, onderhou die Shabbat en doen die Shabbat. As ons hierdie vier dinge doen, sal mense hierdie teken beslis raaksien (Shemot 31 verwys pertinent na die Shabbat as ‘n teken) en sal hulle weet dat ons deel van die groep mense is wat Yahweh vir Homself afgesonder het.
Daar is minstens nog een kombinasie van vier wat ook in die “Ki Tisa” parashah voorkom. In hierdie parashah word daar nie minder nie as vier keer daarna verwys dat Yahweh (self) die Naam van Yahweh uitroep. Die alles het gebeur as gevolg van die versoek van Mosheh: “Laat my tog u ligglans sien (Shemot 33:18).” Mosheh het dit gewaag om hierdie woorde uit te spreek direk nadat Yahweh vir hom gesê het: “Ek ken jou by die naam” (Shemot 33:17). Toe hy daarna huiwerig die versoek rig, “Laat my tog u ligglans sien” sê Yahweh onder meer vir hom: “Ek sal voor jou die Naam van Yahweh uitroep”. In die volgende hoofstuk, Shemot 34:5, lees ons hierdie woorde: “En Hy (Yahweh) het die Naam van Yahweh uitgeroep.” En dan in die volgende vers, Shemot 34:6, staan daar dat Yahweh sy eie Naam twee maal uitgeroep het en gesê het: “Yahweh, Yahweh, barmhartige en goedgunstige El …”. Dus, altesaam vier verwysings na Yahweh wat sy eie Naam uitroep. Die Yehudiem beskou Shemot 34:6 en 7 as van besondere belang en wys dikwels daarop dat dit die 13 eienskappe van die Almagtige bevat (barmhartig, goedgunstig, stadig om kwaad te word, groot van goedertierenheid, ensovoorts), maar hulle maak nooit melding daarvan dat hier vier verwysings is na Yahweh wat sy eie naam uitgeroep het nie. En dat dit die logiese gevolg is wanneer die Vader van iemand sê “Ek ken jou by die naam” – dat Hy ook sy Naam aan so ‘n persoon kom openbaar. Die Yehudiem – en sovele ander – kom nie so ver om in te sien dat dit doodgewoon onnatuurlik is om aanspraak daarop te maak dat die Vader jou by die naam ken, en dan botweg te weier om sy Naam aan te roep nadat Hy dit oor en oor, in geen onduidelike terme, deur mense soos Mosheh en Dawid en die Messias aan ons kom openbaar het nie.