STAMME, TAKKE EN STOKKE

alternate textDie naam van hierdie week se Torah leesstuk is “Tribes” in Engels en “Stamme” in Afrikaans. Dit kom uit die eerste vers van Bemiedbar (Numerie) 30 (in sommige vertalings, die tweede vers) waar ons lees: “En Mosheh het met die hoofde van die stamme van die kinders van Yiesraél gepraat en gesê: Dit is die saak wat Yahweh (met betrekking tot geloftes en ede) beveel het …”. Die Afrikaanse vertaling “stamme” is interessant en eintlik ‘n klein bietjie verwarrend: “Stam” is ook die woord wat vir die hoof gedeelte van ‘n boom gebruik word – die gedeelte waaruit die takke later te voorskyn kom. Die Hebreeuse woord wat in Numerie 30 gebruik word, is “matteh” wat eintlik oorspronklik die betekenis van “tak” of “vertakking” gehad het. Elke stam van Yiesraél is ‘n vertakking wat uit die hoof gedeelte van die boom, die volk Yiesraél, te voorskyn gekom het. As ‘n mens bloot dink in terme van die onderdele waaruit ‘n boom bestaan, is Yehudah en Benyamien en Ruven eintlik nie stamme nie, maar takke!

Daar is twee woorde wat normaalweg in Hebreeus gebruik word om na die 12 stamme van Yiesraél te verwys. Die een is “matteh” wat onder meer in Bemiedbar (Numerie) 30 gebruik word en die ander is “shevet”. Wat is die verskil tussen die twee? Dis baie moeilik om agter te kom presies wat die verskil tussen die twee is, maar dis duidelik dat daar in beide woorde TWEE DIMENSIES opgesluit kan lê: Die dimensie van ‘n tak (wat groen is en aan die stam van die boom verbind is) en die dimensie van ‘n stok of ‘n staf of ‘n septer (wat van die stam van die boom verwyder is en dus nie meer aan die bron verbind is nie). Die feit dat daar twee woorde gebruik word om na die stamme van Yiesraél te verwys, is dalk ‘n aanduiding dat beide hierdie dimensies ‘n rol gespeel het (of ‘n rol behoort te speel) in die lewe van die twaalf stamme van Yiesraél.

Die land van Israel is deesdae wêreldwyd in die kollig. Verlede maand is die lyke van drie Israeli tieners in die Wesbank gevind en Israel het die Palestynse militante vleuel, Gamas, daarvoor verantwoordelik gehou. Vroeër hierdie maand is ‘n Palestynse tiener in Jerusalem gevang en lewendig verbrand. Drie Israeli burgerlikes het verantwoordelikheid vir die daad aanvaar – ‘n daad wat ten sterkste deur eerste minister Benjamin Netnayahu veroordeel is. Te midde van toenemende spanning die afgelope maand het Gamas begin om missiele op Israel af te vuur waarop die Israeli weermag gereageer het en tans is daar ‘n groot militêre aanslag op terroriste teikens in die Gaza strook. Soos gewoonlik, sterf daar ook burgerlikes in die proses en, soos gewoonlik, word Israel wêreldwyd sterk gekritiseer en het ons eie regering ook nie nagelaat om op die Jollie Lorrie te klim wat daarop gemik is om Israel as demonies en harteloos te bestempel nie.

Nie almal is bewus daarvan dat die Yehudiem die afgelope week met die jaarlikse herdenking van “Die Drie Weke” begin het nie. Wat is die Drie Weke? Hierdie periode herdenk die drie weke tussen die inname van Jerusalem en die verwoesting van die tempel in die jaar 69 n.M. Die verwoesting van die tweede tempel (wat die Messias geken en besoek het) het op die negende dag van die maand Av plaasgevind. Die maand Av is die vyfde maand van die Hebreeuse kalender – die maand wat volg op die een waarin ons op die oomblik is. Die algemene verstaan is dat die verwoesting van die eerste tempel, in YermeYahu (Jeremia) se tyd, op presies dieselfde dag, die negende dag van die maand Av, plaasgevind het. Die afsluiting van die drie weke staan tot vandag toe bekend as “Tisha B’av” (“die negende van Av”) en word normaalweg as ‘n vasdag (van sonsondergang tot sonsondergang) gehou. Deur die eeue heen was Israel nog altyd ‘n gesogte teiken onder die nasies van die wêreld en vandag is geen uitsondering nie. Toe die eerste tempel verwoes is, het hulle in Babiloniese ballingskap gegaan – ‘n periode van uiterste swaarkry, uitgelewer aan ‘n vreemde en vyandige nasie – ook ‘n periode wat hulle geleer het om te oorleef met baie min wat in hulle guns getel het en nog minder wat aan hulle kant was.

‘n Stam of ‘n “matteh” is in sy wese ‘n tak, maar ook ‘n stok. Iemand het êrens geskryf: “The stick is a piece of a tree that has paid the price of leaving home but it is also one who has reaped the rewards of leaving home.” As jy na ‘n stok kyk, kan jy skaars glo dat dit eens op ‘n tyd ‘n jong, groen, buigsame takkie was wat die beskerming van ‘n sterk boom geniet het. Met die oorgang van tak na stok het die soepelheid plek gemaak vir onbuigsaamheid en ‘n geneigdheid om te kraak en te breek. Die lewenskragtigheid het plek gemaak vir droogheid en selfs ‘n voorkoms van doodsheid. Die veiligheid en beskerming van die boom het plek gemaak vir blootstelling aan allerlei gevare en elemente wat groot skade kan berokken.

Maar in die proses het daardie jong takkie van vroeër nou sterk geword. Hy word nie meer deur elke wind gebuig en voos gewaai nie. Trouens die wind en die koue en die direkte blootstelling aan die elemente het dit gehard gemaak – ‘n magtige stok om mee rekening te hou. Dit het met Israel gebeur en dit gebeur ook met hulle wat soos ‘n wilde olyfboom tak op die stam van Israel ingeënt word. Soms is daar ballingskap. Soms is daar die vernietiging en die wegneem van dit wat vir ‘n mens kosbaar en onaantasbaar en na aan die hart is. Soms is daar stryd en oorlog en kritiek en verdagmaking. Soms is daar vals beskuldigings en verkleinering en skaamtelose onregverdigheid. Soms is daar tye van droogte en stormwinde en bitter swaarkry. Maar die stok het in baie gevalle ‘n staf en ‘n septer geword en geleer om te midde van al hierdie teenkanting staande te bly, te oorleef en selfs te groei.

‘n Mens kan op verskillende maniere aan Israel verbind wees – jy kan ‘n “matteh” of ‘n “shevet” of ‘n loot wees wat ingeënt is. Maar watter soort tak of vertakking jy ook al is, jy bly verbind – nie net aan die stam van Israel nie, nie net aan Y’shua as die ware Wynstok nie, maar aan die Bron van hierdie stam en aan die Landbouer wat dit alles begin het: Yahweh die unieke en soewereine en onvergelyklike Oorsprong en Onderhouer van al wat lewe. Sommige takke is nog vas aan die boom, en geniet die voordele en die voorregte daarvan. Sommige takke is stokke wat losgesny is en blootgestel is aan die elemente en verlang om weer met die Bron verenig te word. Sommige takke is ingeënt, maar voel nog nie of hulle ten volle behoort nie. Die hunkering na volle deelname en volkome eenheid met die stam en die boom as ‘n geheel, bly knaag en gaan nooit heeltemal weg nie. Wat meer is, as jy ingeënt is, is Israel se lot ook jou lot. As hulle swaarkry, kry jy swaar. As hulle vervolg word, voel jy dit aan jou lyf. As hulle uitgemaak word as die muishond van die wêreld, kies jy húlle kant, nie die wêreld se kant nie. ‘n Tak bly ‘n tak, maak nie saak hóé broos of hóé swak of hóé onherkenbaar hy is nie.

In die Parashah waaroor ons nou praat, het twee stamme – die stam van Ruven en die stam van Ghad – na Mosheh toe gekom en gevra of hulle in die gebied aan die Oostekant van die Jordaan kon bly (die gebied wat vandag Jordanië is) omdat die weiding vir hulle vee aan daardie kant baie gunstig was. Mosheh was aanvanklik kwaad oor hierdie versoek, maar toe Ruven en Ghad hom verseker dat hulle eers saam met die res van die stamme in die land sou ingaan en hulle sou help om hulle vyande te verslaan, en daarná sou teruggaan na die gebied aan die Oostekant van die Jordaan, het Mosheh ingestem. Twee stamme wat ‘n bietjie ánders wou wees as die res. Twee stamme wat ‘n ander koers ingeslaan het as die res. Dis interessant wat Mosheh later in sy seën oor die twaalf stamme, spesifiek oor Ruven en Ghad te sê gehad het. Van Ruven het hy gesê: “Laat Ruven lewe en nie sterf nie, en laat sy manne ‘n aantal wees” (Deut 33:6). Van Ghad het hy gesê: “Geseënd is Hy wat vir Ghad ruimte maak …” (Deut 33:20). Al was hulle anders; al het hulle ‘n ander koers ingeslaan, daar moes vir hulle albei ruimte gemaak word – hulle moes lewe en nie sterf nie. Elke tak is in Yahweh se oë belangrik; elkeen moet ‘n plekkie onder die son kry. Vir elkeen moet ruimte gemaak word – sonder om die waarheid en die reg in die proses af te water of eenkant toe te skuif. Laat ons nooit vergeet nie dat daar baie takke is wat, soos ons, nog nie volledig deel van die oorspronklike boom is nie. Dis arrogant, om die minste te sê, om ander af te skryf as jy self nog nie eers behoorlik “opgeskryf” is in die boek van die lewe nie. En dis net so arrogant om andere as “droë stokke” af te maak as jy self niks meer as ‘n stok is wat diep, aan die binnekant, hunker om weer met die stam verenig te word en van die sappe wat direk van die Bron af kom, te geniet nie!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »