PROPVOL VREDE MET PSALM 119

alternate textDie beskuldiging word dikwels gehoor dat mense wat die Torah lees en probeer deel maak van hulle lewe, ‘n swaar juk oor hulleself bring en verleer het wat dit beteken om vrolik te wees en die lewe te geniet. Om groter gewig aan hierdie soort beskuldigings te gee, word daar dikwels Skrifgedeeltes aangehaal wat, volgens hierdie siening, sou bewys dat dit gevaarlik is om jou te veel aan die Torah te steur. Skrifgedeeltes soos “die letter maak dood, maar die Gees gee lewe” (2 Kor 3:6); “almal wat uit die werke van die Torah is, is onder die vloek” (Gal 3:10); “uit die werke van die Torah sal geen vlees voor Hom geregverdig word nie” (Rom 3:20) en “Y’shua is Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes gegrond is” (Heb 8:6).

Die mense wat lief is om op die verhoog te klim en in hierdie koor te sing laat my dink aan ‘n e-pos wat ek die afgelope week ontvang het, wat min of meer die volgende strekking gehad het: “If you are a Christian who is firmly convinced that the ‘Old Testament’ is past and done away with.  Or that ‘Jesus nailed the law to the cross’ and we don’t have to do all that ‘Old Testament stuff’ anymore.  Or that Romans (or Galatians, or Hebrews, or whatever) clearly says that the law is ‘done away with and not applicable to us anymore’.  Or that ‘we are not under the law, but under grace’.  Then, with your Bible in hand, go before Yahweh and tell Him that you do not have to obey His commands and show Him in your Bible where it says such a thing.”

O ja, daar is mense wat oortuig genoeg van hulle saak is dat hulle dit nog sal doen ook! As dit gebeur sou ek graag ‘n vlieg teen die muur wou wees en die Vader se antwoord aan sulke mense wou hoor. Wat sou die antwoord wees aan mense wat met ‘n haartangetjie (“tweezer”) verse uit die Skrif uittrek en ‘n saak probeer uitmaak daarvoor dat die Almagtige self sy eie kriteria van reg en verkeerd verander het? Of dat moderne gelowiges nie gehoorsaam hoef te wees soos wat Avraham en Yaákov en Dawied gehoorsaam was nie – al word hulle nog steeds die nageslag van Avraham genoem en sien hulle uit na die herstel van die koninkryk van Dawied. Of dat gelowiges in Y’shua nie soos Hy hoef te lewe nie – al word hulle nog steeds sy dissipels genoem en verwag hulle sy tweede koms na hierdie wêreld. Of dat die Torah nadelig vir jou is, al verklaar die Skrif (Ou en Nuwe Verbond) op meer as 70 plekke uitdruklik dat mense wat die woorde en opdragte van Yahweh onderhou, sal LEWE.

Die 21 ste oktaaf van Psalm 119, wat op die letter “sien” en “shien” gebaseer is, is ‘n doodskoot vir die standpunt dat die Torah ‘n mens morbied en onvervuld maak. Elke vers van hierdie oktaaf is borrelend met die boodskap dat iemand wat die Torah deel van sy lewe gemaak het, propvol vrede is en geen begeerte het om weer sy rug op hierdie pad te draai nie. Die entoesiasme waarmee die skrywer oor die Torah praat en die passie vir die Woord van Yahweh wat in hierdie agt verse na vore kom, is só aansteeklik dat ‘n mens nie kan help om te voel dat die draers van die “WEG-MET-DIE-TORAH” plakkate, teen iets betoog waarvan hulle absoluut niks weet nie.

Dit is interessant dat die bekende woord “shamar” – wat beteken: “om te bewaar, of te onderhou” (in hierdie geval: die Torah en die insettinge van Yahweh te onderhou) twee maal in hierdie oktaaf voorkom (167 en 168), maar dat daar drie ander woorde (wat ook met die letter “shien” of “sien” begin) gebruik word om die uitwerking te beskryf wat die onderhouding van die Torah op ‘n mens se lewe het: “soes” (om jou te verbly – 162); “shalom” (vrede – 165) en “sabar” (om ‘n verwagting te hê – 166). Volgens Psalm 119 is hierdie alles dinge wat vir jou (as neweprodukte) GEGEE word wanneer jy die Torah ernstig begin opneem, nie dinge wat van jou WEGGENEEM word omdat die Torah jou versmoor nie! Kom ons kyk kortliks na ‘n paar uitstaande aspekte van hierdie oktaaf:

“Heersers het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord” (161). In plaas daarvan dat jy met vrees vervul word teenoor diegene wat jou vervolg, gebeur daar iets wat onverstaanbaar en onverklaarbaar is, tensy jy al iets van die inherente krag en die diepte van die Torah ontdek het: Jy word met vrees (en ontsag en bewondering) vir Yahweh se Woord vervul – selfs nog meer as wat voorheen die geval was. Dis interessant dat die numeriese waarde van die letter “shien” (300) dieselfde is as die numeriese waarde van die woord “kaphar” wat voorkom in die begrip “Yom Kippur” – ‘n dag wat gekenmerk word deur harte wat met vrees en ontsag vir die woord van Yahweh vervul is; ‘n dag wat ons daaraan herinner dat niks wat ons in hierdie wêreld vrees, so groot is, dat Yahweh dit nie kan bedek of kan “kaphar” nie.

“Ek is vrolik oor u belofte soos een wat ‘n groot buit vind” (162). Dis net mense wat nie die Torah ken soos wat Dawied en ander voorlopers in die geloof dit geken het nie, wat morbied en naar word by die blote gedagte aan die Torah. Hulle wat die Torah, met al sy nuanses – sy skerpheid, maar ook sy grasie en sy bekoring – leer ken het, voel soos iemand wat ‘n klein deeltjie van ‘n groot skat ontdek het. Verreweg die grootste gedeelte is nog totaal verberg en ‘n mens wil byna nie ‘n sekonde verspil of ‘n geleentheid laat verbygaan om meer tyd daaraan te spandeer nie!

“Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge” (164). Is daar ‘n wet wat sê mens moet Yahweh sewe maal elke dag daarvoor loof dat Hy met iets só regverdig en só verrykend soos die Torah te voorskyn gekom het? Nee. Nou waarom sou ‘n mens dit dan doen? Omdat die Torah ‘n manier het om ‘n mens se lewe te verander en jou hart onherroeplik aan te raak. Miskien is dit nie toevallig nie dat die letter “shien” op ‘n haar na, lyk soos ‘n hart, kompleet met die groter regter ventrikel en die kleiner linker ventrikel. As die Torah eers jou hart geaffekteer het, kyk jy verder as net dit wat swart op wit aan jou voorgeskryf is.

“Die wat u Torah liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (165). Hoekom sou ‘n mens hierdie gewaarborgde vrede (shalom) wou verruil vir die teenoorgestelde belofte van sommiges dat jy vrede sal ontdek as jy die Torah verloën? Daar is nog ‘n verdere eienskap wat hier gekoppel word aan hulle wat die Torah liefhet (behalwe dat hulle groot vrede sal ervaar) en dit is dat hulle nie oor struikelblokke sal struikel nie. Die bedoeling hier is sekerlik nie dat daar geen pogings sal wees om hulle te laat struikel nie, of dat daar nie omstandighede sal wees wat die potensiaal het om hulle te laat struikel nie. Wat hierdie teks egter duidelik vir ons sê, is dat sulke pogings en omstandighede nie daarin sal slaag om hulle te laat struikel nie – so lank as wat hulle die Torah liefhet en aan die Torah bly vashou. Niks kan jou deur krisisse en beproewinge en terugslae heen, staande hou en vastigheid gee en selfs inspireer soos wat die Torah dit kan doen nie!

“O Yahweh, ek hoop op u verlossing, en ek hou u gebooie” (166). Hierdie is ‘n merkwaardige vers. Die woord wat hier met “verlossing” vertaal word, is die mees algemene woord vir verlossing wat in die Skrif gebruik word, naamlik die woord “yeshua”. Soos Avraham en Yietsgak en Yaákov het die skrywer van hierdie psalm ook op die verlossing, die “yeshua” van Yahweh gewag – basies hulle hele lewe lank. En al het Yahweh male sonder tal verlossing in hulle eie leeftyd voorsien; al het elkeen van hierdie manne (en nog baie ander van wie ons in die Skrif lees) gereeld met hulle eie oë gesien hoedat Yahweh keer op keer redding en uitkoms op die regte tyd gegee het, het hulle nog steeds gewag en gehoop en uitgesien na die “yeshua” van Yahweh. En toe, lank na die dood van meeste van hierdie manne en vroue, het Yahweh ‘n onbeskryflike en ongeëwenaarde soort verlossing voorsien – in die vorm van sy eie Seun wat as Y’shua bekend gestaan het. Was dit Yahweh se bedoeling dat mense nou moes ophou om op sy verlossing te hoop en daarna uit te sien? Nee, beslis nie. Selfs vandag nog sien ons daarna uit en hoop ons op sy verlossing – al glo ons in sy Seun, Y’shua die Verlosser. Was dit Yahweh se bedoeling dat mense nou dat sy Seun gekom het, moet ophou om sy gebooie te hou? Nee, beslis nie. Want net soos die skrywer van Psalm 119 behoort ons vandag nog te sê: Ek hoop op u verlossing (al glo ek in u Y’shua) en ek hou u gebooie (al glo ek in u Y’shua). Dis juis Y’shua wat my geleer het dat ek tot die einde van my lewe nie vir een enkele oomblik sonder u verlossing en sonder u gebooie kan klaarkom nie.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »