PROPORSIES WAT TEL IN PSALM 119

alternate textDie twaalfde, of “Lamed” oktaaf van Psalm 119, bestaan uit agt verse wat ‘n mens help om te verstaan dat ons eie klein wêreldjies deel uitmaak van ‘n groter werklikheid waarvan Yahweh volkome in beheer is. Dit wat ons sien en beleef, moet in proporsie gesien word met iets wat baie groter is en iets wat baie verder strek. Woordeboeke definieer die woord “proportion” as volg: “The comparative relation of any one thing to another; a part or portion in its relation to the whole.” Ons, en dit wat ons rondom ons sien, is maar net ‘n klein deeltjie (of “porsie”) van wat in die totale skepping gebeur en van die volle tydsduur waarbinne die skepping geplaas is. Ons is mense wat beperk is in ons perspektief en in ons denke. Ons dink normaalweg aan ruimte en tyd, soos wat ons dit ken en soos wat ons dit kan meet. Die Woord gee ons egter ‘n groter perspektief op ruimte (nie net aarde en sterre en planete nie, maar ook hemel) en ook op tyd (nie net honderd of duisend jaar nie, maar ook ewigheid). Die kuns is om hierdie perspektief te behou wanneer dit vir ons só benoud raak in hierdie wêreld dat dit letterlik vir ons voel of ons teen die mure rondom ons kan uitklim.

Let op die eerste twee verse van die Lamed oktaaf (vers 89 en 90): “Vir ewig, o Yahweh, staan u woord vas in die hemel. U trou is van geslag tot geslag …”. Dink ‘n bietjie daaraan: Yahweh se woord staan vir ewig vas in die hemel. Sy woorde val nie maar net uit die lug nie. Dit kom tot ons in ‘n verpakking wat die stempel van die hemel en van die ewigheid daarop het. Hy sal nie teruggaan op sy woord nie. Ons kan nie sy woorde links en regs verander soos ons goed dink nie. Sy woord was daar voordat enige iets anders daar was. Sy woord is kragtiger as enige ander woord en kan ons lewens radikaal verander. Om die waarheid te sê: sy woorde is baie méér as net woorde. Dit sny tot in jou diepste wese. Dit sink in tot dáár waar jou wonde ontstaan het en maak dit gesond. Dit dring deur tot dáár waar jou onwilligheid soos kanker broei en bring jou eie wil in ooreenstemming met sy wil. Yahweh se woorde verdwyn nie maar net in die niet as mense met nuwe woorde en nuwe idees vorendag kom nie. Nee, sy woorde staan vas en ons moet voortdurend ons eie woorde en ons eie tradisies meet aan die standaard van daardie woord wat vas staan in die hemel en wat bedoel is vir geslag tot geslag, vir ewig.

Die laaste deel van vers 90 en die eerste deel van vers 91 bring ‘n merkwaardige waarheid na vore. “U het die aarde bevestig, en dit bly staan. Ooreenkomstig u verordeninge bly hulle vandag nog staan.” Die “hulle” waarvan hier gepraat word, verwys heel waarskynlik na die aarde (vers 90) en na die hemel (vers 89), tesame met alles wat daarin is. Met ander woorde: Alles in die hemel en die aarde “bly staan” (of: doen wat dit veronderstel is om te doen; beantwoord aan die doel waarvoor dit geskape is) omdat Yahweh ‘n woord of ‘n verordening daaroor uitgespreek het. Die son en die maan is nie maar net toevallig deel van hierdie wêreld nie. Nee, dit is hier as gevolg van ‘n verordening of ‘n woord wat uitgegaan het. Die vastelande en die eilande en die berge het nie maar net oor miljoene jare vanself vorm aangeneem nie. Dit is deel van ons wêreld as gevolg van ‘n verordening of ‘n woord wat uit die mond van die Almagtige uitgegaan het.

En die mens dan? Natuurlik is die mens ook hier as gevolg van Yahweh se woord. Die vraag is of ons ook doen wat ons veronderstel is om te doen – of ons beantwoord aan die doel waarom ons geskape is. Hoe ironies dat die son en die maan en die berge en die bome en selfs die diere beantwoord aan die doel waarom dit geskape is, maar dat die mens, wat die kroon van die skepping is, in meeste gevalle nie meer ooreenkomstig Yahweh se verordening bly staan nie. Dat die mens uit eie keuse weg beweeg het van die patroon wat deur die res van die skepping gevolg word en NIE onder die verordening of die woord van sy Skepper wil staan nie. Dit sal goed wees vir die mens om homself weer ‘n slaggie te sien in proporsie met die res van die skepping. Sonder woorde word daar lof en eer aan die Skepper toegebring deur sierlike blomme en majestueuse natuurtonele, maar met woorde en al kry meeste mense dit nie reg om Yahweh se Naam groot te maak nie. Die res van die skepping is Yahweh se knegte (vers 91b), maar die mens wil sy eie baas wees en koning kraai op sy eie mishoop! Is dit nie tragies nie?

Vers 92 en 93 volg die patroon van: As A nie gebeur het nie, dan sou B gebeur het. Hoe dikwels gebruik ons nie ook taal wat hierdie patroon volg nie! As ek nie my werk verloor het nie, sou ek met vakansie kon gaan. As my kind nie so moeilik was nie, sou my lewe baie makliker gewees het. As my ouers nie so streng was nie, sou ek meer tyd met my vriende kon deurbring. Ons is almal lief om ons sinne te begin met die woorde: As “so-en-so” nie gebeur het nie … en dan is “so-en-so” iets negatiefs. Psalm 119 wys vir ons dat daar ‘n ander opsie is. Ons kan nog steeds begin met: As “so-en-so” nie gebeur het nie …, maar kom ons kyk net weer na daardie een voorval waaroor ons wou kla, in proporsie met die baie dinge waaroor kan dankbaar wees. Kom ons maak dan ons “so-en-so” iets positief in plaas van iets negatief. Waarom? Omdat lewe en redding en vrede baie belangriker is as gerief en gemak en persoonlike gewin. Daarom sê die skrywer hier: “As u Torah nie my verlustiging was nie (positief), dan het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak (positief).” Wat is ‘n bietjie ellende en ‘n bietjie swaarkry nou regtig in vergelyking met LEWE en die voorreg om jou in die onderwysinge van die Almagtige te VERLUSTIG?

In die Hebreeuse teks begin vers 94 met die woorde “aan U” en vers 95 met die woorde “aan my”. Dit is duidelik dat hierdie twee verse twee verskillende proporsies of interaksies wil uitwys: (1) Waar die skrywer staan in proporsie tot sy Skepper (“Aan U behoort ek …”) en (2) Waar die skrywer staan in proporsie tot die afvalliges (“Aan my / Vir my / Op my lê hulle en wag om my om te bring”). ‘n Mens kan vers 94 en 95 beter verstaan as jy die twee verse omruil. Wanneer die skrywer onder die besef kom dat daar mense is wat op hom fokus met die bedoeling om hom skade aan te doen, maak hy die keuse om op Yahweh te fokus en sy getuienisse ter harte te neem. Yahweh sal hom nie skade aandoen nie, dit weet hy. Inteendeel, Yahweh sal hom red en in die proses ook afreken met sy teëstanders. Ons kan gerus sy voorbeeld volg om, wanneer daar aanslae teen ons lewe is, doelbewus weg te beweeg van die “aan my” sodat ons kan uitkom by die “aan U”. Oormatige fokus op die “aan my” maak ‘n mens self-gesentreerd en vul jou hart met selfbejammering. Ons het die keuse om te besluit: Genoeg is nou genoeg en dan teenoor Yahweh te verklaar: Aan U behoort ek. Op U wag ek. Aan U en aan u Woord wil ek meer aandag gee. Aan U en aan u Seun het ek my lewe te danke. Aan U verklaar ek nou my lojaliteit.

Vers 96 is ‘n uitvloeisel van die voorafgaande, maar ook ‘n gepaste afsluiting van die hele gedeelte: “Aan alle volmaaktheid het ek ‘n einde gesien, maar u gebod is baie wyd.” Selfs die volmaaktheid wat mens hier op aarde aantref, het sy beperkinge en moet proporsioneel gesien word tot die volmaaktheid en die “wydheid” van Yahweh se gebod. Hierdie woord wat met “wyd” vertaal word, kan ook beteken: “ruim; groot; oop na alle kante toe; in vryheid (Engels: ‘at liberty’)”. Dieselfde woord word soms gebruik om die beloofde land te beskryf wat Yahweh vir sy volk gegee het: ‘n goeie en ‘n wye land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning (Ex 3:8). Die siening, wat deur so baie gehuldig word, dat die Torah ‘n mens aan bande lê en jou vryheid van jou wegneem, is gebaseer op die leringe van vals leraars en ‘n uiters beperkte verstaan van Torah. Daar is ‘n volmaaktheid en ‘n wydheid en ‘n grootsheid en ‘n vryheid aan Torah wat uitstyg bokant die kleinlikhede van hierdie wêreld. Soveel so, dat ons in die lig van Psalm 119 kan verklaar: ‘n Mens se vermoë om terugslae en teëspoed te hanteer is direk proporsioneel tot die plek wat jy aan Yahweh se Torah in jou lewe gee en die mate waarin jy hierdie Torah vertrou om vir jou dít te gee wat niks anders hier op aarde vir jou kan gee nie.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »