PRO-AKTIEF MET PSALM 119

alternate textMet die eerste lees van die Kof oktaaf van Psalm 119 (vers 145 tot 152) lyk hierdie agt verse nie veel anders as die res van die psalm nie. Die begeerte om Yahweh se insettinge en gebooie te bestudeer en te onderhou, staan sentraal in hierdie oktaaf, net soos in elkeen van die ander oktawe van die psalm. Daar is egter ‘n bykomende, kragtige boodskap wat tussen die lyne en agter die woorde van hierdie oktaaf na vore kom. Hierdie boodskap word ontdek as ‘n mens die vier unieke sleutelwoorde van die Kof oktaaf langs mekaar plaas en die onderlinge verband wat hulle met mekaar het, probeer vasstel. Die vier sleutelwoorde is “qara” (wat twee keer voorkom en “roep” beteken), “qadam” (wat drie keer voorkom en “lank gelede” of “vooraf” beteken), “qol” (wat een keer voorkom en “stem” beteken) en “qarav” (wat twee keer voorkom en “nader trek” of “nader kom” beteken).

As ons hierdie vier woorde langs mekaar plaas, kom daar ‘n duidelike, koherente boodskap na vore wat een van die mees sentrale waarhede van die Skrif bevestig: Yahweh, in sy groot liefde en guns, roep mense om na Hom toe te kom. Daarmee het Hy al lank gelede begin, voordat enige mens nog die besluit geneem het om uit eie beweging hulle Skepper te vereer. Hy roep na hulle met sy eie stem en Hy wil mense sodoende nader trek sodat hulle met Hom in ‘n intieme verhouding kan staan. In hierdie aktiwiteit van Yahweh kom daar ‘n eienskap van Hom na vore waarvan ‘n mens nie so dikwels hoor soos byvoorbeeld die eienskappe van liefde, regverdigheid, getrouheid en barmhartigheid nie. Hierdie eienskap kan met die woord “pro-aktief” saamgevat word. Die Skrif skets Yahweh vir ons as een wat pro-aktief optree. Die woordeboeke definieer die woord “pro-aktief” as “acting in anticipation of future needs, or changes” en omskryf dit selfs as ‘n houding van “tending to initiate change rather than reacting to events”.

Hoe dikwels kom ons nie hierdie Een in die Skrif teë wat pro-aktief optree omdat Hy mense ken en weet wat hulle behoeftes is en ook weet hoe traag hulle is om uit eie beweging na Hom toe uit te reik nie? Is dit nie Hy wat pro-aktief vir Avraham opgeroep het om te trek toe hy en sy mense nog ewe rustig in Garan gewoon het nie? Is dit nie Hy wat pro-aktief vir Mosheh na Farao toe gestuur het om die volk uit Mietsrayiem uit te lei nie? Is dit nie Hy nie wat vir die profeet gesê het “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou afgesonder”? Het die Messias dan nie in sy gelykenis geleer nie dat die Koning vir diegene aan sy regterhand sal sê “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af”? As Yahweh nie die inisiatief in jou en my lewens geneem het nie, sou ons nie nou by Hom gewees het en die begeerte gehad het om uit sy Woord te leer nie.

Wat so merkwaardig is van hierdie pro-aktiewe geaardheid van ons hemelse Vader, is dat Hy dieselfde gesindheid in ons lewens wil aanwakker. Ons behoort ook pro-aktief te wees. Yahweh wil hê dat ons ‘n houding moet hê van “tending to initiate change rather than reacting to events”. Ons verstaan van “initiating change” sal beslis nie dieselfde wees as by die mense van die sukses-behepte en materialisties ingestelde wêreld waarin ons leef nie. Ons weet dat die verandering wat ons in hierdie wêreld moet inisieer, is ‘n verandering terug na die waardes van die Woord en na waarhede wat die potensiaal het om mense se uitkyk op die lewe totaal te verander. Maar die feit dat ons die Elohiem van die Skrif ontmoet het, en iets van sy onbeskryflike karakter leer ken het en sy magtige werke in ons eie lewens ervaar het, maak dat ons nou nie anders kan as om pro-aktiewe mense te wees nie. Eerder as reaktiewe mense, wat eers na ‘n Magtige begin soek as dinge begin skeefloop en al die kunsmatige, mensgemaakte sekuriteite begin platval.

Ons kan ‘n goeie idee kry van hoe om pro-aktief in die geloof te wees deur te kyk na die vier sleutelwoorde van die Kof oktaaf in Psalm 119, waarvan ons vroeër gepraat het.

Wanneer laas het jy na Yahweh geroep van ganser harte, soos daar in vers 145 en vers 146 beskryf word en skaamteloos by Hom gepleit: Yahweh verhoor my! Yahweh verlos my! Die vraag is nie of jy só na Hom geroep het toe jy in die nood was en jy bang was dat jy sal sterf nie. Só ‘n soort roep is nie pro-aktief nie – dit is reaktief – dis ‘n roep uit reaksie op slegte dinge wat met jou gebeur het en die begeerte dat jou lewe net weer sal terugkeer na normaal. Daar is sekerlik ook ‘n tyd en ‘n plek vir hierdie soort noodkrete en angstige roepe, maar dis nie dieselfde as die roep waaroor dit hier gaan nie. Die skrywer sê duidelik: Verhoor my, want ek wil u insettinge bewaar; Verlos my, want ek wil u getuienisse onderhou. Ons roep moet nie maar net wees om terug te keer na mense se normaal nie. Nee, ons roep moet wees om terug te keer na Yahweh se normaal. Sy normaal is die pad van die Woord, nie die pad van doodgewoon nie. As ons nie op die pad van die Woord is nie, het dit tyd geword om te roep: Vader red my van die bindinge en die magte en die tradisies van hierdie wêreld en oorrompel my met u Woord!

Ken jy die soort pro-aktiwiteit wat maak dat jy vóór die môreskemering en vóór die nagwake al besig is om jou in die Woord van Yahweh te verdiep, soos daar in vers 147 en 148 geskryf word? Wanneer laas het jy die lied gesing en dit bedoel: “I will awaken the dawn, o Yahweh …” Yahweh het ons voor die grondlegging van die wêreld al na Hom toe getrek. En ons kry swaar om voor die begin van ‘n nuwe dag die hand na Hom toe uit te steek. Êrens mis ons iets as ons onsself nie so ver kan kry om voor die dag se besige program tyd af te staan om ons met die Woord van Yahweh af te spoel nie. Dis hierdie soort pro-aktiewe optrede wat ‘n verskil sal maak – nie net in ons eie lewens nie, maar ook in die lewens van hulle met wie ons deur die loop van só ‘n dag in aanraking kom.

Almal van ons het seker al gewens om die stem van Yahweh te kan hoor – wanneer ons ‘n belangrike besluit moet neem of uitsluitsel oor ‘n kritieke aangeleentheid moet kry. Maar dink net ‘n bietjie daaraan: Ons wil sý stem hoor, sodat ons op grond van sý stem kan optree. Eers as Hy praat (op die manier wat ons verkies), sal ons in beweging kom. Waarom tree ons nie ‘n slaggie pro-aktief op nie? Wat maak ons met ons eie stemme? Hoor Yahweh gereeld my stem? Ek wil so graag sy stem herken. Maar praat ek genoeg met Hom dat Hy al my stem kan herken – selfs tussen duisend ander stemme? Ons het immers alreeds soveel van sy goedertierenheid gesien en beleef – wat verhinder ons om ons stemme te gebruik om met Hom en ander daaroor te praat? Die woorde “Hoor my stem volgens (of na) u goedertierenheid” (vers 149) sou ook só vertaal kon word: “Hoor my stem soos u goedertierenheid.” Ons stemme moet so gereeld en so duidelik gehoor word soos die goedertierenheid van Yahweh gesien kan word. Só word ons stemme weerklanke en getuienisse en “reminders” van sy goedertierenheid in hierdie wêreld.

Die laaste sleutelwoord is nader trek of nader kom. Die skrywer gebruik ‘n besondere woordspeling in vers 150 en 151 om ook wat hierdie begrip betref, die belangrikheid van pro-aktiewe optrede te beklemtoon. Hy beskryf dat mense wat ver van die Torah af is nader kom met verkeerde motiewe – nie om Yahweh te benader nie, maar om sy volgelinge te benader, en met die bedoeling om hulle skade te berokken. Dit, terwyl Yahweh alreeds naby is en sy gebooie ondubbelsinnig en beskikbaar vir almal wat daarna soek. Boonop is dit gevul met waarheid, met die potensiaal om lewens te verander. Die uitdaging voor ons is om pro-aktief nader te beweeg – nie na hulle wat ver van die Torah is nie, maar na Hom wat reeds naby aan ons is – nader na sy waarheid en nader na sy gebooie en sy getuienisse. Dit is in hierdie nabyheid dat ‘n mens vrede en sekuriteit en hoop in hierdie wêreld ontdek, soos wat bely word in Tehilliem (Psalm) 73:28 “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby Elohiem te wees; in die Meester Yahweh het ek my toevlug gestel” en in Tehilliem (Psalm) 145:18 “Yahweh is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid” en in Yaákov (Jakobus) 4:8 “Nader tot Elohiem, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” In ‘n tyd waarin meeste mense se houding teenoor Yahweh en sy Woord is: “hoe verder hoe beter” behoort ons pro-aktief die teenoorgestelde houding in te neem en nader te beweeg (en te kruip, as dit moet) aan Hom wat ons volkome van ons dubbelhartigheid kan genees!