PRIORITEITE REGKRY MET PSALM 119

alternate textEen van die mees opvallende kenmerke van die “Mem” oktaaf (dertiende letter) van Psalm 119 is die herhaalde gebruik van die woorde “meer as” – soms direk en soms by implikasie. Dit wat ‘n mens by Yahweh vind – veral die wysheid wat ‘n mens bekom as jy die Torah deel van jou lewe maak – is baie meer as dit waarop geroem word deur mense wat Yahweh nie as deel van hulle lewens erken nie. “U gebooie maak my wyser as my vyande” (vers 98); “Ek is verstandiger as my leermeesters” (vers 99); “Ek het verstand meer as die ou mense” (vers 100) en “U beloftes is soet, meer as heuning vir my mond” (vers 103). Min of meer in die middel van hierdie oktaaf, tref ons hierdie woorde aan: “Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want U het my geleer” (vers 102). As ‘n mens hierdie vers lees teen die agtergrond van die “meer as” tema van die hele oktaaf, dan is dit duidelik dat die skrywer na die prioriteite in sy lewe gekyk het en ‘n keuse gemaak het om nie van Yahweh se verordeninge af te wyk nie. Dit wat hy dáár geleer het en die voordele wat hy dáár gevind het, het hom laat besluit: Van nou af is niks vir my belangriker as om my hart en my verstand te verryk met die soetigheid en die voedsaamheid (“nutrition”) van Yahweh se Woord nie. Daarom is hierdie “Mem” oktaaf van Psalm 119 vir ons ‘n oproep om weer ‘n slaggie na ons prioriteite te gaan kyk en vir onsself af te vra of ons nog onthou hoeveel meer en hoeveel groter en hoeveel kosbaarder die voordele is wat die pad van die Woord vir ‘n mens meebring, as jy dit vergelyk met die voordele wat hierdie wêreld vir jou bied.

Kom ons kyk net weer wat sê die Woord self oor die voordele van hierdie Pad. Laat ons ons hier net beperk tot die twee boeke Tehielliem (Psalms) en Mieshleh (Spreuke), en dit wat in hierdie twee boeke oor “meer as” gesê word en hoe dit ons kan help om ons prioriteite in orde te kry:

In Ps 4:7 lees ons hierdie woorde: “Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.” Koring en mos wat oorvloedig is, kan in ons eietydse idioom verstaan word as ‘n stewige bankbalans en genoeg geld om rojaal te kan lewe. Iemand wat ernstig is daaroor om sy prioriteite reg te kry, sal moet begin by die vraag: Wat is vir my belangriker – om my lewe te slyt in ‘n dolle gejaag na rykdom en daardie onophoudelike, onvergenoegde sensasie dat ek net nooit genoeg het nie, of om volledig plek te maak in my lewe vir die vreugde wat Yahweh se Woord vir my kan bring?

In die bekende Ps 19:10 staan daar: “Die verordeninge van Yahweh is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop.” Die goud waarvan hier gepraat word, kan vergelyk word met die oorvloedige koring en mos (sien hierbo) en gaan ook oor rykdom. Die soetigheid van heuning en heuningstroop lê dalk effens op ‘n ander vlak. Dit kan vergelyk word met die mens se obsessie om dinge na te jaag wat hy meen ‘n sensasie van soetigheid of aangenaamheid sal meebring. Dit kan geld of rykdom wees. Maar dit kan ook plesier en genot wees – aktiwiteite, sport, ‘n tydverdryf of enige iets onder die son waaraan ‘n mens onnatuurlik baie tyd bestee omdat jy smag na daardie ontwykende soet smaak in jou mond. En in hierdie hele proses het jou lewe so besig geraak dat jy nie meer daaraan dink dat die verordeninge van Yahweh oneindig meer werd is as al hierdie dinge nie.

In Ps 130:6 word daar ‘n besondere beeld gebruik: “My siel wag op Yahweh meer as wagters op die môre, wagters op die môre.” Let op die herhaling van die woorde “wagters op die more”, om te beklemtoon dat mense nie sommer méér op iets wag as wat wagters op die more wag nie. ‘n Mens kan jou voorstel met hoeveel afwagting ‘n persoon wat vir ‘n skof van 6 of 8 ure regdeur die middel van die nag moes wagstaan, uitsien daarna dat die more moet aanbreek, sodat hy van skof af kan gaan en sy welverdiende rus kan gaan kry. Nog meer as dit, sê die Psalmskrywer, wag sy siel op Yahweh. Nog meer as dit hunker hy daarna dat Yahweh hom met sy Woord kom verkwik en weer die passie in sy hart kom wakker maak om in aanraking te kom met hierdie Een wat in die Woord na vore kom.

Ps 139:17-18 gaan selfs nog ‘n stappie verder: “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o El! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand.” In Engels sê mense soms vir mekaar: “A penny for your thoughts!” As ons soms begeer om mense se gedagtes te leer ken, hoeveel kosbaarder sou dit nie wees om Yahweh se gedagtes te kan hoor of te kan lees en toe te laat dat sy gedagtes ons gedagtes indring en beïnvloed nie! Hoeveel gedagtes is daar wat van ons Skepper af kom, waarmee ons ons kan besig hou en waaroor ons kan nadink en mediteer? Dawied sê vir ons in Psalm 139 dat hy dit graag wou tel, maar toe ontdek hy dit is meer as die sand van die see! Ons sal dit nooit kan uitput nie. Ons sal nooit verveeld daarmee kan raak nie. Sy gedagtes sal ons gedagtes vervul en verryk op ‘n manier wat ons hele lewe sal verander!

In Spr 3:13-15 word die aspek van “meer as” en “beter as” in fyn besonderhede uitgespel: “Geseënd die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand ontvang; want die ontvangs daarvan is beter as die van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.” Volgens hierdie gedeelte is wysheid (dáárdie soort wysheid wat begin met die vrees van Yahweh) meer as en beter as silwer, goud en korale. Daar word boonop bygevoeg: “al jou kleinode kan nie daarmee vergelyk word nie.” Die woord “kleinood” is afkomstig van Nederlands en beteken iets kleins wat van groot betekenis is. Oorspronklik was hierdie woord ‘n kombinasie van twee woorde: “klein” (dieselfde betekenis as in Afrikaans) en “ood” (wat iets soos “rykdom” beteken). Die wysheid wat op die Woord gegrond is, is in werklikheid die beste voorbeeld van ‘n kleinood wat daar is: In die oë van die wêreld is dit iets klein, iets onbelangrik, iets ouderwets. Maar in werklikheid is dit ‘n skat, ‘n stuk rykdom, waarvan die waarde nie met enigiets op aarde vergelyk kan word nie.

In Spr 21:3 word daar na prioriteite gekyk vanuit die oogpunt van geregtigheid: “Om geregtigheid en reg te doen, is vir Yahweh verkiesliker as offers.” Hierdie vers is werklik ‘n toets vir ‘n mens se gehoorsaamheid. Altwee die aspekte, geregtigheid en offers, lyk na goeie goed. Altwee lyk na aspekte wat met geloof en gehoorsaamheid te make het. Maar die duidelike uitspraak hier (en ook op ander plekke in die Skrif) is dat geregtigheid vir Yahweh verkiesliker is as offers. Waarom? Omdat dit oor en oor in die geskiedenis bewys is dat mense allerlei soorte offers kan bring, sonder om geregtigheid te doen, of selfs net iets van Yahweh se geregtigheid te verstaan. Dit kan fisiese offers wees: diere of kos of geld wat geoffer of opgeoffer word. Dit kan egter ook ander soort offers wees: uiterlike godsdienstige of christelike of humanistiese handelinge of gedrag wat die indruk skep van toewyding en opregtheid, maar (gemeet aan Yahweh se vereistes) niks of bitter min met geregtigheid te make het. Daarom verkies Yahweh dat ons met geregtigheid begin – nie sekulêre geregtigheid nie, maar SY unieke vorm van geregtigheid wat in die Woord openbaar word, soos beskryf word in Jes 51:7: “Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my Torah is! Wees nie bevrees vir die oneer van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie …”

Y’shua, die beloofde nasaat van Dawied, het gereeld oor prioriteite gepraat, waarvan die bekendste seker sy woorde in Mat 6:33 is: “Maar soek eers die koninkryk van Elohiem en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Die skrywer van Psalm 119 het iets verstaan van die belangrikheid van prioriteite en was só in vervoering oor die grootsheid en die kosbaarheid van die Torah, dat hy twee maal in hierdie oktaaf ‘n uitroep gebruik wat baie moeilik is om te vertaal, maar wat vergelykbaar is met twee woorde wat ons uit die Afrika-kultuur leer ken het: “Yo!” en “Auk!”. Met hierdie Afrika-idioom in gedagte, kan ons vers 97 só vertaal: “Yo! Hoe lief het ek u Torah” en vers 103: “Auk! Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte!” Mag ons ook iets van hierdie verwondering oor die Torah in ons eie lewe ervaar!

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »