POSITIEF MET PSALM 119

alternate textDie afgelope week sê iemand oor die radio daar is baie meer positiewe dinge wat op die oomblik in Suid-Afrika gebeur as negatiewe dinge. Voor ek myself kon keer, praat ek byna hardop met die stem oor die radio: Ek dink nie ons twee woon in dieselfde land nie. In die Suid-Afrika wat ek ken, is daar op die oomblik baie meer negatief as positief. Toe ek ‘n bietjie daaroor dink, besef ek: Die omroeper is seker nie verkeerd nie. Natuurlik is daar baie positiewe goed wat gebeur. Die probleem is net: Die positiewe dinge word só deur die negatiewe dinge oordonder en bederf dat ‘n mens al hoe meer van die positiewe vergeet en jou al hoe meer opwerk oor dit wat negatief en sleg is. Boonop werk slegte nuus mos soos ‘n rou wond wat elke keer oopgekrap word – jy het nog skaars van die impak van die vorige sarsie herstel, dan tref die volgende skok jou soos ‘n emmer koue water in die gesig. Dis net of jy dit elke keer moeiliker sluk en slegter hanteer – dis baie moeilik om positief te bly as jy die een ontstellende gebeurtenis na die ander moet verwerk en moet toesien watter negatiewe uitwerking dit op baie mense se lewens het.

Die agste oktaaf van Psalm 119 is vernoem na die agste Hebreeuse letter, die letter “get”. Hierdie letter word dikwels die letter van LEWE genoem, omdat dit die letter is waarmee die Hebreeuse woord vir lewe (“gai” of “gaiem”) begin. Die Hebreeuse uitroep “Legaiem!” (soortgelyk aan die Afrikaanse “Gesondheid!” of die Engelse “Cheers!”) is bedoel as ‘n oproep om positief oor die lewe te wees en ‘n houding in te neem van: “Ek aanvaar die uitdaging om die lewe met al sy fasette te aanvaar en die beste daarvan te maak!” Ek verstaan die letter “get” word dikwels drie maal herhaal in Hebreeuse blogs en forums (uitgespreek as “gagaga” – vgl. die ekwivalente “hahaha”) en dan het dit dieselfde betekenis as die letters LOL wat deesdae algemeen in SMS’e en Blogs gebruik word om aan te dui dat jy lag oor iets wat iemand gesê het. Ook in hierdie formaat staan die letter “get” dus vir ‘n positiewe uitkyk op die lewe. As ‘n mens die 8 verse van die “get” oktaaf van Psalm 119 bestudeer, is dit presies hierdie houding wat jy daar aantref – ‘n houding van: Daar is dinge rondom my wat my wil aftrek, maar die Torah bring sin in my bestaan en gee my die krag om die beste van die lewe te maak!

Die eerste sin van hierdie oktaaf, gee ‘n goeie voorsmakie van dit wat nog gaan volg: “Yahweh is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar” (vers 57). Die woord wat hier met “deel” vertaal word (Engels: “portion) is “gelek”, afgelei van “galak” en, op ‘n verrassende manier, verwant aan die Afrikaanse woord wat byna net so klink: “geluk”. Wat het “deel” met “geluk” te make? Die woord “galak” beteken eintlik om glad te wees, soos die gladde klippies wat mens dikwels langs die see of in ‘n rivierbedding optel. Omdat hierdie soort klippies voorheen dikwels gebruik is om deur die lot te bepaal wie kry watter deel (of watter porsie) is dieselfde woord later gebruik as daar van “deel” of “porsie” gepraat word. Die Afrikaanse woord “geluk” het in wese ook te make met iets wat jy as porsie ontvang nadat die lot daaroor gewerp is. Die probleem is net dat mense deesdae hopeloos te veel op geluk staatmaak. Die lollery is dat “geluk” ‘n soort lewensuitkyk geword het wat heeltemal die perspektief van geloof verloor het. Mense voel hulle het geluk nodig om suksesvol te wees en skryf hulle prestasies aan geluk toe. En selfs al bedoel hulle dit nie so nie, wens hulle mekaar links en regs geluk, asof dit die geluksgodin is wat oor hulle geglimlag het en haar geskenkpakkies vir hulle oopgemaak het en dinge vir hulle reg laat “uitwerk” het.

Die skrywer van Psalm 119 is positief oor die lewe, sonder om op geluk staat te maak. Hy verklaar onomwonde: Yahweh is my deel. Ek plaas nie my vertroue in gladde klippies of dobbelstene om reg vir my te rol nie. Ek kyk nie na die geluksgodin of na die sterre of na sangomas of na die lotto om my voorspoed te verseker nie. Yahweh is my deel. Hy is al wat ek nodig het. Om Hom as deel te hê, is meer as wat ek ooit op ‘n ander manier uit hierdie lewe kan haal. Ek verklaar saam met Dawied in Ps 142:5: “Ek roep U aan, o Yahweh! Ek sê: U is my skuilplek, my deel (“gelek”) in die land van die lewendes.” Ek is positief want op die oomblik het ek ‘n skuilplek en eendag sal ek my porsie in die land van die lewendes in besit neem.

Hoe werk dit as Yahweh jou deel is? Word jy dan oorval met die een gawe en gunsbewys na die ander? Nee, jy nader tot Yahweh, vanuit die oortuiging dat Hy jou deel is, en jy smeek by Hom om aan jou guns te betoon ooreenkomstig sy belofte. Dis wat ons lees in die volgende vers, Ps 119:58 “Ek het U van ganser harte om guns gesmeek; bewys guns aan my ooreenkomstig u belofte.” Om Yahweh as jou deel te hê, is nie dieselfde as om die arm van ‘n “one-armed bandit” te trek en die skatte val eenvoudig in jou skoot nie. Om Yahweh as jou deel te hê, is om in ‘n verhouding met Hom te staan en voortdurend jou afhanklikheid van Hom te bely en voortdurend jou vertroue in Hom te plaas en voortdurend te erken dat watter soort guns jou ook al te beurt geval het, suiwer uit sy hand uit kom.

Die volgende twee verse van Psalm 119 bring opnuut die positiewe gesindheid na vore van iemand wie se oë vir die Torah oopgegaan het. “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse. Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou” (Ps 119:59-60). Hierdie twee verse beskryf die soort bekering wat in ons dag so nodig is, maar wat juis só ‘n skaars artikel geword het. Hoe dikwels word daar nie van bekering gepraat in die kerke van hierdie wêreld nie? Maar die vraag is: Is hierdie boodskap van bekering dieselfde as die bekering waarvan Psalm 119 praat? Is dit die bekering van iemand wat die weë van Yahweh oordink het en sy voete laat teruggaan het na Yahweh se getuienisse? Of is dit die gewilde, maar arrogante soort bekering van “Bely net jou sonde, glo in Jesus, en doen soos die gees jou lei – nie soos die Torah vir jou voorskryf nie”?

Die opvallende is dat die skrywer sê dat hy hom gehaas het en nie getalm het om Yahweh se gebooie te onderhou nie. Selfs híérin kan ‘n mens sien hoedat die Torah hom positief oor die lewe gemaak het. Niks verklap ‘n negatiewe gees méér as wanneer iemand gedurig die goeie dinge wat hy moet of wil doen, uitstel vir later nie. Dit is soos daar in die boek van Mieshleh (Spreuke) geskryf staan: “Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus!” (Spr 6:9-10). Hoe verfrissend en bemoedigend is dit nie om vandag iemand te ontmoet wat met ywer en ‘n byna koorsagtige haas aan die werk spring om die Torah deel van sy of haar lewe te maak nie! Iemand wat nie vir jare talm voordat hy uiteindelik daarby uitkom om die Shabbat of die feeste of die kosvoorskrifte te hou nie, maar dit eenvoudig begin doen omdat hy met volle oortuiging en sonder ‘n oomblik se versuim wil kan sê: YAHWEH IS MY DEEL!

Iemand wat hierdie belydenis van “Yahweh is my deel” konsekwent wil uitleef, beoefen die Torah nie op ‘n halfhartige of lamsakkige manier nie. Luister ‘n bietjie na die manier waarop dit hier in Psalm 119 gedoen word: “Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge. Ek is ‘n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou” (vers 62-63). Wanneer laas het jy middernag of drie uur in die nag of vyf uur in die oggend opgestaan om Yahweh te loof vir sy regverdige verordeninge? Dit mag snaaks klink in die oë van hulle wat nie ‘n saak het met die Torah nie, maar dit is een van die mees effektiewe en praktiese maniere waaraan ek kan dink, om nie deur die onregverdige verordeninge en praktyke van hierdie wêreld opgeslurp en oorweldig te word nie. Wanneer laas het jy gekontroleer of jy ook kan sê: “Ek is ‘n metgesel van almal wat u vrees en van die wat u bevele onderhou” – met ander woorde: ek soek die geselskap van sulke mense op? Dalk nie so ‘n maklike keuse om in hierdie wêreld te maak nie, maar ongetwyfeld ‘n baie nodige keuse – sodat minstens die mense rondom ons nie ook bydra tot die negatiewe klimaat waaraan ‘n mens so konstant blootgestel word nie.

Ten slotte ‘n kykie na die oorblywende twee verse waarby ons nog nie stilgestaan het nie – vers 61 (“Die strikke van die afvallige het my omring; u Torah het ek nie vergeet nie) en vers 64 (“Yahweh, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge”). Eers lyk dit of die skrywer net van die slegte rondom hom bewus is (“die strikke van die afvallige het my omring”), maar dan sien ons die duidelikste illustrasie in hierdie hele oktaaf van hoedat die Torah hom help om op ‘n positiewe manier na die wêreld te kyk: “Yahweh, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge”. Vir my lyk dit na ‘n keuse wat mens moet maak. Of jy kyk na die aarde en sien net die ongeregtigheid en die afvalligheid en die dinge wat mens morbied maak. Of jy kyk na die aarde en sien dat dit vol is van Yahweh se goedertierenheid, sy guns, sy antwoorde op gebed, sy beskerming, sy onverstaanbare liefde – en jy besluit om alles omtrent hierdie Een te wete te kom wat menslik moontlik is om te wete te kom. Wat is die keuse wat jy gaan maak?

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »