POËTIES OOR DIE LIGGAAM IN PSALM 119

alternate textSommige van die temas wat reeds voorheen in Psalm 119 ter sprake gekom het, word herhaal in die “Noen” (14 de) oktaaf van hierdie psalm. Tog is daar ook in hierdie oktaaf sekere aspekte wat uniek is en wat uitstaan, omdat dit ‘n waarheid na vore bring wat nêrens anders in die psalm presies só verwoord word nie. Een opvallende eienskap van hierdie “Noen” oktaaf (vers 105 tot 112) is die herhaalde gebruik van ‘n deel van die liggaam om ‘n sekere waarheid te beklemtoon. Nie minder nie as vyf keer, binne die bestek van hierdie agt verse, word daar na een of ander deel van die liggaam verwys. Ledemate en organe soos die voet, hand, mond en hart (2 maal) word ingespan om op ‘n poëtiese manier die aandag daarop te vestig dat niks in die lewe van hierdie skrywer vir hom belangriker is en meer beteken as die Woord van Yahweh nie. Kom ons kyk kortliks hierna:

In die eerste vers van hierdie oktaaf (vers 105) lees ons die baie bekende woorde: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad”. Waarom word die Woord ‘n lamp vir my voet genoem, en nie doodeenvoudig ‘n lamp vir my nie? Daar is dalk iets hierin wat nie so maklik is om met die eerste oogopslag raak te sien nie. Die woord vir voet is afgelei van die Hebreeuse woord “raghal” wat die betekenis het van “om ‘n land of ‘n gebied te verken, of te bespied, of haarfyn te deursoek”. Die twee verkenners wat Yahushua (Joshua) na Jerigo gestuur het en wat later deur Ragab met ‘n tou teen die muur afgehelp is, het vooraf die opdrag ontvang om die land te “raghal”. Dalk wil die skrywer hier in Ps 119:105 sy lesers se aandag daarop vestig dat as jy ernstig is daaroor om die wêreld rondom jou te verken en dinge te ontdek wat die moeite werd is om te weet, is daar nie ‘n beter manier om dit te doen as om die Woord elke oomblik by jou te hê as ‘n lamp nie. Anders as wat deesdae so dikwels daarbuite gehoor word, gaan die Woord jou help om die wêreld beter te verstaan en beter te leer ken. Yahweh se Woord is nie in opposisie of teenstrydig met die kennis wat ‘n mens opdoen deur jou op die wetenskap en moderne tegnologie toe te spits nie. Die Woord self gee nooit voor om in kompetisie met die wetenskap te wees nie. Nee, die Woord is die onontbeerlike fondament waarop al hierdie kennis en vaardighede berus. Die Woord vul dit aan en bring ‘n perspektief waarsonder ons verstaan van hierdie wêreld altyd gebrekkig sal wees. Hy wat sy pad in hierdie wêreld probeer vind sonder die lig van die Woord, gaan ALTYD op een of ander vorm van dwaalweg beland.

Vers 108 laat die soeklig val op ‘n tweede deel van die liggaam: “Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o Yahweh, en leer my u verordeninge”. Daar was dikwels tye in die geskiedenis van die volk van Yahweh waar offerandes van die mond ‘n groter rol gespeel het as fisiese offers. Fisiese offers kan uiteraard nie gebring word as daar nie ‘n fisiese tempel, of ‘n plek van aanbidding wat toegerus is vir die bring van offers nie. Ons is tans ook in só ‘n tyd. Ons is bevoorreg om Yahweh ook óns Elohiem te kan noem, maar ons het nie toegang tot ‘n fisiese tempel nie. Offerandes is egter nog steeds die belangrikste manier om uitdrukking te gee aan ons lojaliteit en respek en liefde teenoor die Almagtige. Daarom pas dit ons om elke dag offerandes van die mond te bring. Wat Yahweh vir ons gedoen het en gegee het, en wat Hy nog steeds vir ons doen, en wat Hy belowe het Hy ook nog in die toekoms sal doen, is eenvoudig só groot en só oorweldigend dat enige iets minder as daaglikse offers, totaal onvanpas is en getuig daarvan dat ons maar min verstaan van die rol wat Hy in ons lewens speel! Dit kan nie anders nie, offers móét deel van ons leefstyl wees. Offers van lof, in die vorm van gebede en lofsange; offers van skuldbelydenis, ook in die vorm van gebede en liedere en offers van getuienis, met die mond, waarmee ons eer aan Yahweh toebring en die kennis van sy Naam soos ‘n aangename geur rondom ons versprei. Hierdie offers is geheel-en-al vrywillig. Dit is nie iets wat afgedwing kan word nie. Dit berus nie op ‘n voorskrif of ‘n reël nie. Dit is spontaan en vanselfsprekend en gebeur eenvoudig omdat dit, in die lig van Yahweh se grootheid, nie anders kan nie.

In vers 109 word daar van nog ‘n deel van die liggaam gepraat. “My lewe is voortdurend in my hand; nogtans vergeet ek u Torah nie”. Sommiges was in die verlede nie altyd so seker hoe om hierdie vers te verstaan nie. Uit die konteks is dit egter duidelik dat dit net ‘n ander manier is om te sê: My lewe is dikwels in gevaar. Sekere omstandighede dwing my soms om my lewe in my eie hande te neem – daar is elke dag bedreiginge op my pad. Vers 109 moet saamgelees word met vers 110: “Die afvallige het vir my ‘n vangnet gespan”. Hy sê dus: Ek weet wat swaarkry en bedreiging en beangstheid beteken. Dit kan baie maklik gebeur dat hierdie bedreiging my hele lewe in beslag neem en my totaal van u Woord laat vergeet. Maar dan sê hy uitdruklik in vers 109 en in vers 110: NOGTANS vergeet ek u Torah nie; NOGTANS dwaal ek nie van u bevele af weg nie. As dit dan wel gebeur dat ons lewens dikwels in ons hand is, en dit vir ons voel of ons enige oomblik ons greep op ons eie lewe gaan verloor, moet ons juis in sulke tye alles in ons vermoë doen om nie ons greep op die Woord te verloor nie. Dis juis dán, as die versoeking op sy grootste is om alles oorboord te gooi en ons blind te staar teen die dreigende gevaar hier voor ons, dat ons die nogtans van Psalm 119 moet onthou en moet toepas: NOGTANS vergeet ek u Torah nie; NOGTANS dwaal ek nie van u bevele af weg nie. Dit alleen is my behoud.

In vers 111 en vers 112 word daar twee maal agtereenvolgens na die hart verwys. In vers 111 gaan dit oor iets wat hy ontvang het, wat vir ewig sy besitting sal bly en in vers 112 gaan dit oor iets wat hy besluit het waarvan hy vir ewig nie sal afwyk nie. Vers 111: “Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart”. As ‘n mens ‘n geskenk, ‘n erfdeel ontvang het wat vir ewig jou besitting bly, is die mees gepaste reaksie om met jou hart daarop te reageer. So ‘n groot geskenk is nie iets wat mens sommer net in die verbygaan ontvang en aanvaar nie. Jy sê nie net dankie daarvoor met ‘n gebaar van die hand of met ‘n geknik van die kop nie. Nee, in antwoord op so ‘n geskenk, reageer ‘n mens met vreugde uit die hart uit. Hoe lyk vreugde wat uit die hart uit kom? So ‘n vreugde is spontaan en onopgesmuk en blywend. Dit is nie nodig dat mense jou voortdurend moet herinner om bly te wees nie. Jy kan nie jou vreugde onderdruk nie, want jy het die waarde van hierdie geskenk wat jy ontvang het, ten volle verstaan en jy geniet elke dag die voordele daarvan. Het jy al by daardie punt gekom waar jy jou hart oopgemaak het vir die erfporsie van Yahweh se Woord en uiting gee aan jou vreugde daaroor dat die Skepper van hemel en aarde jou waardig geag om sy getuienisse deel van jou lewe te kan maak?

Vers 112 beskryf die spontane keuse wat ‘n mens maak as jy tot die ontdekking gekom het waarvan vers 111 praat. Hierdie keuse word só verwoord: “Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe”. Soos reeds gesê: Die vorige vers gaan oor ‘n geskenk met ewige implikasies, terwyl hierdie een gaan oor ‘n besluit (as gevolg van daardie geskenk) met ewige implikasies. Dit is hoe dit werk met die gunsbewyse en die gawes uit Yahweh se hand: dit maak jou passievol in jou toewyding aan Hom en inspireer jou om die keuse te maak om aan Hom lojaal en getrou te bly. Baie mense maak die Ou Verbond en die Torah af as ‘n verbond wat net uit wette en reëls en swaar laste bestaan. Maar dit berus op ‘n totale wanbegrip van Wie Yahweh is en wat sy bedoeling is met die Torah. Die Torah leer ons van Yahweh se geregtigheid, maar nie nét daaroor nie. Dit leer ons ook van sy guns en sy oorvloedige gawes. Die bedoeling is dat al hierdie leringe (“toroot”) oor Wie Yahweh is en wat Hy vir ons gee, ons harte sal aanraak. Dat dit mense só sal oorweldig en hulle harte só sal aanraak dat hulle spontaan die besluit sal neem (of hulle harte sal “neig”) om die insettinge van die Woord ernstig op te neem en hulle hele lewe daarvolgens in te rig. Yahweh soek nie mense wat sy Torah tandeknersend en teësinnig onderhou nie. Hy is op soek na mense wat deur sy grootheid en sy gunsbewyse oorrompel is en wat elke dag daarop uit om die getuienisse van die Woord meer en meer deel van hulle lewens te maak en dit na te jaag met elke greintjie krag waaroor hulle beskik. Wanneer laas het jy jou hart geneig (en ‘n vaste besluit geneem) om Yahweh se insettinge te betrag, met alles wat jy het, vir ewig, tot die einde toe?

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »