PLUSPUNTE IN PSALM 119

alternate textDie sesde Hebreeuse letter waarmee elke vers van die sesde oktaaf in Psalm 119 begin, is die letter “waw”. Daar is nie baie gewone Hebreeuse woorde wat met die letter “waw” begin nie. Tog sal ‘n mens die letter “waw” byna in elke vers van die Tanag aantref, aangesien dit die letter is wat ‘n mens gebruik as jy in Hebreeus “en” wil sê. In Hebreeus staan “en” nie op sy eie soos in Afrikaans of in Engels nie – dit word vooraan ‘n ander woord “aangehaak”. Die letter “waw” lyk soos ‘n haak en die woord in Hebreeus het oorspronklik “haak” beteken. Boonop is dit nie vreemd om ‘n sin in Hebreeus met “en” te begin nie. Die tweede sin in die Skrif begin met “en”- “En die aarde was woes en leeg” – so ook die derde sin en die vierde sin en die vyfde sin in die Skrif, met woorde soos “Wehaárets” (En die aarde) en “Wayyomêr” (En hy het gesê) en “Wayyiekra” (En Hy het genoem) aan die begin van hierdie sinne.

Elke sin in die sesde oktaaf van Psalm 119 begin met ‘n gewone woord met ‘n “waw” vooraan wat ‘n mens bloot as “En … en … en” kan vertaal, maar sommige vertalings wissel dit soms af met woorde soos “dan” en “ook” om te keer dat die vertaling nie soos ‘n lied klink wat net op een noot gesing word nie. Daar is ‘n spesifieke rede waarom “en” hier so aanhoudend gebruik word. Die bedoeling met hierdie agtvoudige herhaling van “en” is om dit duidelik te stel dat daar ‘n hele string voordele in opgesluit lê om die Torah te onderhou – nie net een of twee nie. Ook dat die skrywer se eie hunkering en begeerte na die Torah nie net een of twee fasette insluit nie, maar ‘n hele aantal – selfs nog méér as die agt fasette wat in hierdie oktaaf uitgelig word.

Om die woord “en” agt keer (die getal van oneindigheid, nuwe begin, patroonmatigheid) agtereenvolgens te herhaal in ‘n konteks waarin die Torah onder die vergrootglas geplaas word, is ‘n ander manier om te sê: Oor die Torah kan jy nie uitgepraat raak nie. Die Torah kan nie begrens en omlyn word nie. Wanneer dit by die Torah kom, is daar altyd nog ‘n EN of nog ‘n PLUS waaraan jy voorheen nie gedink het nie. Hy wat die Torah voor sy oog hou, bereik nooit die einde van die pad nie. Die pad van die Torah is nooit ‘n doodloopstraat nie – al is daar hoeveel hindernisse op daardie pad en al is die terrein hoe onbekend. Daar is altyd nog ‘n PLUS wat bygevoeg kan word. Daar is altyd ‘n nuwe dimensie wat jy voorheen nie raakgesien het nie. Wanneer almal dink die deur het toegeslaan en die wêreld is een groot minus, bring die Torah ‘n PLUS-moontlikheid na vore waaroor ‘n mens nie uitgepraat kan raak nie … en nóg ‘n moontlikheid … en nóg ‘n moontlikheid. En voordat jy jou kom kry, stotter jy saam met die Psalmskrywer: “En die Torah maak lewend … en die Torah bring lig … en die Torah bou op … en die Torah gee hoop … en die Torah verander jou hart … en … en … en …”. Hy wat dit liefhet en sy hart daarop rig om dit uit te leef, sal dit moeilik vind om ‘n morbiede, negatiewe mens te wees, want die PLUSPUNTE van die Torah is eenvoudig onophoudelik en onuitputlik.

Die vorige oktaaf was ‘n opeenstapeling van agt gebedsversoeke of petisies waarin die skrywer die begeertes van sy hart aan Yahweh bekend gemaak het. Die eerste vers van die “waw” oktaaf sluit aan by petisies van die vorige oktaaf en begin met die woord “en”. Daar is nóg ‘n begeerte wat hy het, wat hy ook in gebed voor die Vader wil uitstort: “En laat u gunsbewyse oor my kom – u verlossing ooreenkomstig u belofte.” Sy gebed is nie om ‘n pot goud te ontdek of, in vandag se taal, die lotto te wen nie. Nee, hy smeek dat die gunsbewyse van Yahweh oor hom sal kom – dat hy elke dag die goedheid en die guns en die gawes uit Yahweh se hand sal raaksien en waardeer – omdat dit ‘n vervulling is van kragtige beloftes wat oor verlossing gaan. Mense raak dikwels ongeduldig omdat hulle meen dat die beloftes van die Woord nie vir hulle “werk” nie. Soms verloor hulle uit die oog dat hierdie beloftes oor verlossing gaan en dat die grootste deel van ons verlossing die gunsbewyse is wat ons goedgunstige Vader daagliks oor ons lewens uitstort. Die mens wat op die plek in sy lewe is waar hy kan sê “Ek ervaar daagliks Yahweh se gunsbewyse oor my – ek sien dit in my huis en in my werk en in my omgang met mense en in my onmiddellike omstandighede – is ‘n mens wat iets begin verstaan het oor die verlossing en die beloftes waarvan die Skrif praat.

In ons vertaling is dit nie so duidelik nie, maar die volgende vers begin ook met ‘n “en” – “En ek sal my spotters iets kan antwoord, want ek vertrou u Woord.” Wat is die pluspunt daarvan as jy kan raaksien dat Yahweh se gunsbewyse oor jou is? Jy het ‘n antwoord vir hulle wat jou uitlag en jou verag omdat jy nie in wêreldse terme suksesvol en voorspoedig is nie. Jy kan met oortuiging vir hulle sê: My vertroue is nie op mense in hoë plekke nie. My vertroue is nie op ‘n groot huis en ‘n blitsvinnige motor nie. My vertroue is nie op ‘n maandelikse salaris van R5000 of R50 000 of R500 000 nie. Nee, my vertroue is in die Woord. En wat is die voordeel daarvan?Die voordeel is dat ek omring is met gunsbewyse en dade van verlossing en beloftes wat direk van die Skepper van hemel en aarde af kom. En niks bring méér vervulling as dit nie!

Daarmee is die skrywer egter nog nie klaar nie. Daar is nog ‘n gebed, nog ‘n PLUS, wat hy wil byvoeg. “En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek” (vers 43), en die gevolg hiervan, “En (dan) sal ek u Torah voortdurend onderhou, vir ewig en altyd” (vers 44). Wat waarlik sin en betekenis aan ‘n mens se lewe gee, is verrassend anders as wat meeste mense dink. Dis nie noodwendig om ‘n indrukwekkende ideaal na te jaag of by ‘n verdienstelike projek betrokke te wees of jouself vir ander mense te gee nie, hoe góéd hierdie dinge ook al mag wees nie. Psalm 119 bring ‘n perspektief na vore wat meeste mense net nog nooit ontdek het nie. Voordat jy met jou goeie werke begin – die indrukwekkende ideale en die verdienstelike projekte – doen jouself die guns om te ontdek wat dit beteken om die Woord van waarheid altyd in jou mond te hê en jou verwagting voortdurend in daardie Woord te stel. Verplaas jou fokus en jou verlange en jou aspirasies (Engels: “yearning, craving”) na die Woord van Yahweh en na sy Torah en jy sal sien dit bring ‘n dimensie in jou daaglikse aktiwiteite wat jy voorheen nie geken het nie.

Die pluspunte van die Torah hou net nie op nie. “En ek sal in ‘n (oop) ruimte wandel, omdat ek u bevele soek; En ek sal voor konings van u getuienisse praat en my nie skaam nie” (vers 45 en 46). Die populêre siening wat mens deesdae so dikwels teëkom, is dat die Torah jou inperk en ‘n juk op jou skouers plaas. Psalm 119 sê presies die teenoorgestelde: As jy die bevele van Yahweh soek en jou hart daarop rig, sal jy in ‘n oop ruimte wandel. Dieselfde woord en dieselfde gedagte kom in vers 96 ook voor: “Aan alle volmaaktheid het ek ‘n einde gesien, maar u gebod is baie wyd.” Die Torah is die meganisme wat die Almagtige ingestel het om ‘n PLUS voor jou te kom neersit as die wêreld rondom jou al hoe meer die vorm van ‘n MINUS begin aanneem. Die punt is net: Die Torah breek ‘n nuwe wêreld vir jou oop – want dis nie ‘n dooie klomp wette nie, nee, dis vol waarheid wat jou vrymaak en jou genoeg moed gee om selfs voor konings te getuig en teenoor geleerdes jou man te staan. Daar is niks omtrent die Torah waaroor ‘n mens skaam hoef te wees, want die Outeur is Yahweh en sy weë is volmaak!

Die skrywer van Psalm 119 kan nie uitgepraat raak oor die Torah nie en aan die einde van die hele paragraaf voeg hy by: “En ek sal my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, en ek sal my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en ek sal u insettinge oordink.” Wanneer laas het jy hierdie woorde hardop uitgespreek: Yahweh, ek het U gebooie lief ? Het jy al ooit by daardie punt in jou lewe gekom waar jy in alle eerlikheid kan sê: Ek verlustig my in die opdragte en die leringe van die Torah? Het jy al ooit iemand ontmoet wat sê “Ek kan nie genoeg van die Torah kry nie”, of “Een dag sonder die Torah maak my benoud en laat my ly aan allerlei soorte onttrekkingsimptome”? Dit mag wees dat meeste van ons vir ‘n baie lang tyd ons hande leweloos langs ons sye laat hang het, wanneer ons van die Torah of van ‘n psalm soos Psalm 119 gehoor het. Dit mag wees dat ons nog nooit so sterk daaroor gevoel het dat ons die begeerte gehad het om ons hande op te hef vanuit ‘n opregte liefde en ‘n vurige verlange na die Woord van Yahweh nie. As dit vandag enigsins van ons waar is, kan ons gerus luister na die woord van Heb 12:12-15: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op … en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word … en jaag die vrede en die afgesonderdheid na waarsonder niemand die Meester sal sien nie … en pas op dat niemand in die guns van Elohiem veragter nie.”

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »