PLEKMAAK VIR EMOSIE MET PSALM 119

alternate textDie twintigste onderafdeling van Psalm 119 staan bekend as die Resh oktaaf – agt verse wat saam gegroepeer is en elkeen met die Hebreeuse letter “resh” begin. Die woord “resh” hou verband met “rosh” wat “kop” of “hoof” of “eerste” of “belangrikste” beteken. In die antieke tyd het die letter “resh” letterlik soos ‘n man se kop gelyk. In die meer moderne vorm van Hebreeus is hierdie letter baie makliker en eenvoudiger om te skryf, maar lyk dit nog steeds soos iemand wat homself vooroor buig – ‘n houding wat deur die voorwaartse en afwaartse beweging van die kop gekenmerk word.

Helen Keller is bekend daarvoor dat sy sou gesê het: “Never bend your head. Always hold it high. Look the world straight in the eye.” Daar is sekerlik ‘n groot waarheid opgesluit in hierdie raad van Helen Keller – iemand wat blind en doof was, maar mense rondom haar nogtans aangemoedig het om die wêreld reguit en voluit in die oë te kyk. In die lewe van ‘n gelowige is daar egter tye dat dit absoluut noodsaaklik is om jou hoof (en soms jou hele liggaam) te buig, soos wat met die letter “resh” aangedui word. Nie te buig, omdat jy moed opgee en handdoek ingooi nie. Nie te buig, omdat jy nie meer kans sien vir die wedloop van geloof nie of omdat jy ‘n papbroek is nie. Maar jou kop te buig en jou kop ‘n slaggie uit die pad uit te kry, omdat jy wil plekmaak vir emosie in jou lewe. Om jou kop hoog te hou kan ook ‘n manier wees om te sê: Ek hanteer alles wat na my kan toe kom, met my kop en met my verstand en met my denke. Ek gee nie plek aan emosie nie, want om dit te doen, is ‘n teken van swakheid en wisselvalligheid.

Die Skrif het egter ‘n ander uitkyk oor die beste posisie van ‘n mens se kop en die plek wat emosie in jou lewe behoort in te neem. Dit is alreeds betekenisvol dat die één letter wat bedoel is om ‘n uitbeelding van ‘n mens se kop te wees, so geskryf word dat die kop nie regop en hoog gehou word nie, maar vooroor gebuig word – in die houding van iemand wat in aanbidding verkeer en plekmaak vir emosie in sy lewe. Dit beteken uit die aard van die saak nie dat ‘n mens nie sy verstand en rasionele denke moet gebruik nie. Dit is vanselfsprekend dat enige mens deurlopend dinge moet uitpluis en uit redeneer. Maar vir baie mense – en miskien moet mens hier byvoeg: dit kan mans of vrouens wees – is dit nie so vanselfsprekend om plek te gee aan emosie en die meer ekspressiewe vorme van kommunikasie nie. Kom ons kyk ‘n bietjie na die woord “buig” in die Skrif:

1 Sam 20:41 Terwyl die dienaar huis toe gaan, staan Dawied op van die suidekant en val met sy aangesig op die aarde en buig drie maal; daarna het hulle mekaar gesoen en saam geween, totdat Dawied hardop gesnik het.

Ps 45:11 En as die Koning u skoonheid begeer – want Hy is u Meester – buig u dan voor Hom neer.

Jes 21:3 Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat verwek; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie.

Rom 14:11 Want daar is geskryf: So waaragtig as Ek leef, sê Yahweh, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal Elohiem bely.

Die houding wat in hierdie en ander soortgelyke gedeeltes in die Skrif weerspieël word, laat mens dink aan die woorde van Albert Camus, wat gesê het: “Blessed are the hearts that can bend; for they shall never be broken.” Kom ons kyk na die dinge waaroor die Psalmskrywer sy emosie-belaaide hart gebuig het in die Resh oktaaf van Psalm 119:

Vers 153: Sien my ellende aan en red my, want u Torah vergeet ek nie (die emosie van PYN). Dit vra ‘n hart wat kan buig, om te kan erken dat jy in ellende gedompel is en redding nodig het. Die prestasie-gedrewe samelewing waarin ons leef moedig mense aan om hulle koppe hoog te hou en nie op hulle swakhede en ellende te fokus nie, maar op die onbeperkte menslike potensiaal wat daar binne-in elke individu opgesluit is en gereed lê om ontsluit te word. Ons het ‘n Vader in die hemel wat ons harte ken – die pyn waarmee ons dalk al maande en jare lank moes saamleef – en wat daadwerklik iets kan doen aan ons diepste nood en ons grootste begeertes. Gaan ons Hom toelaat om dit te doen?

Vers 154: Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend ooreenkomstig u belofte (die emosie van BEGEERTE). Dit vra iemand wat kan luister na sy eie hart, om te kan erken dat hy lewe, maar eintlik nog nie lewend is nie. Drie keer in hierdie oktaaf pleit die skrywer by Yahweh om lewend gemaak te word: “Maak my lewend ooreenkomstig u belofte” (vers 154); “Maak my lewend ooreenkomstig u verordeninge” (vers 156) en “Maak my lewend na u goedertierenheid” (vers 159). Is ons genoeg in voeling (“in touch”) met ons emosies om te weet wanneer ons iets misloop van die volheid van lewe wat Yahweh vir ons bedoel het? Meer nog: Is ons bereid om ons hoofde en ons harte te buig en ons eie idee van LEWE eenkant toe te skuif sodat Yahweh met sy beloftes en sy verordeninge en sy goedertierenheid ‘n werk in ons harte kan doen wat ons stoutste verwagtinge sal oortref?

Vers 158: Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie (die emosie van AFKEER). Dit vra iemand wat ingestel is op die geestelike klimaat rondom hom, om vooroor te kan buig en sonder skroom te sê dat dit walglik is om toe te kyk hoedat mense die Woord van Yahweh minag en verkrag. Die woord “ra’ah” wat “sien, waarneem, onderskei en oorweeg” beteken, kom drie maal in hierdie oktaaf voor (153, 158, 159). Iemand wat die Torah liefhet, is iemand wat met Yahweh se oë kyk na die wêreld rondom hom, of rondom haar. Dit is iemand wat die dinge kan onderskei wat indruis teen die opdragte en die begeertes van Hom wat vir ons ‘n regverdige en voordelige standaard gestel het om na te volg. En bo alles is dit iemand wat nie só sonder emosie is dat hy (of sy) maar net stilbly en maak asof dit nie juis saak maak dat die wêreld só ongeërg oor iets só kosbaar kan wees nie.

Vers 159: Aanskou dat ek u bevele liefhet; o Yahweh, maak my lewend na u goedertierenheid (die emosie van LIEFDE). Dit vra iemand wat nie net op rasionele en saaklike en formele dinge ingestel is nie, om te kan uitroep dat hy Yahweh se bevele liefhet (vers 159) en dat hy nie van plan is om ‘n duimbreedte van Yahweh se getuienisse af te wyk nie (vers 157). Wanneer laas het die Woord van Yahweh jou só geroer en só opgewonde gemaak dat jy alles gelos het waarmee jy besig was en hardop teenoor Yahweh erken het dat jy sy bevele en sy opdragte liefhet? In só ‘n situasie moet die kop natuurlik die hart aanvul. As die hart ‘n openbare bekentenis van liefde maak, moet die kop onmiddellik oorgaan in ‘n verbintenis tot aksie. Wanneer jy met die hart sê “Kyk hoe het hierdie woord my nou geraak!”, moet jy gelyktydig met die kop sê: “As dit werklik my hart geraak het, MOET my optrede dit bevestig – dit kan nie anders nie!” ‘n Mens dink in hierdie verband aan die woorde van die apostel: “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Joh 3:18).

Die Resh oktaaf van Psalm 119 is ‘n duidelike oproep om plek te maak vir emosie in ons omgang met die Woord en in die manier waarop ons hierdie Woord toepas in ons daaglikse lewens. Mag Yahweh ons bewaar daarvan dat ons nie in dieselfde strik trap waarin sovele oor die geskiedenis heen getrap het wanneer hulle in hulle sinodesittings en belydenisskrifte en kweekskole en teksboeke en formules, met hulle hoofde omhoog, bloot met die verstand op sekere tekste gehamer het en dikwels nie plek gemaak het vir die oog en die oor van die geloof en die taal van die hart, wanneer hulle met die inhoud van die Woord van Yahweh gekonfronteer is nie. “Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid” (Ps 119:160).

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »