PLATGESLAAN IN PSALM 119

alternate textDie elfde oktaaf van Psalm 119 is die “Kaf” gedeelte van hierdie Psalm (“Kaf” is die elfde letter van die Hebreeuse alfabet en elke sin in die gedeelte Ps 119:81-88 begin met hierdie letter). Behalwe dat dit die naam van die elfde letter van die alfabet is, beteken die woord “kaf” in Hebreeus ook “handpalm” of “voetsool” – verwysende na die HOLTE van ‘n mens se voet of hand. kaf1As ‘n mens na die vorm van die letter “kaf” kyk, dan lyk dit nogal soos ‘n holte wat sywaarts gekeer is of soos ‘n mens wat ‘n geboë houding inneem. Die interessante is dat die woord “kaf” dikwels in die Skrif gebruik word om swaarkry en verdrukking en smart te beskryf – byna asof dit die idee wil tuisbring van iemand wat platgeslaan en krom gebuig is van die smart en smag daarna om gehelp en verlos te word. Kom ons kyk na ‘n paar plekke waar die woord “kaf” in die Skrif voorkom:

Gen 31:41-42 Twintig jaar (die numeriese waarde van die letter “kaf” is 20) was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander … Elohiem het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande (“kaf”) aangesien en verlede nag geoordeel.

Gen 32:25 En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen (letterlik die holte of “kaf” van die heup of die sy), sodat die heupbeen van Yaákov uit lit geraak het in die worsteling met Hom.

1 Sam 4:3 Laat ons die verbondsark van Yahweh uit Shieloh na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand (“kaf”) van ons vyande.

2 Sam 19:9 En die hele volk … het onder mekaar getwis en gesê: Die koning het ons verlos uit die hand (“kaf”) van ons vyande, en hy het ons gered uit die hand (“kaf”) van die Pelieshtyne, en nou moes hy die land uit vlug vir Avshalom.

2 Kon 18:21 Kyk nou, jy vertrou op daardie geknakte rietstok, op Mietsrayiem, wat, as iemand daarop leun, in sy hand (“kaf”) ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Mietsrayiem, vir almal wat op hom vertrou.

Job 2:7 En die Satan het weggegaan van die aangesig van Yahweh, en hy het Iyov met bose swere getref, van sy voetsool (“kaf”) tot sy skedel.

Jes 1:6 Van die voetsool (“kaf”) af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie … verbind of met olie versag nie.

Elke enkele vers van die “kaf” oktaaf in Psalm 119 verwys op een of ander manier na die swaarkry en die gevoel van platgeslaan te wees, wat die skrywer beleef het en die ontdekking wat hy gemaak het dat dit net die Torah is wat hom weer op sy voete sal bring. In die eerste twee verse van die oktaaf kom dit reeds duidelik na vore: “My siel smag na u verlossing; op u woord wag ek. My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos?” Dit is interessant dat die woord “smag” twee keer na mekaar gebruik word, ‘n vertaling van ‘n Hebreeuse woord (“kalah”) wat ten diepste beteken: “to end, to complete, to fulfil, to bring to pass, to accomplish”. Dit beteken dat hierdie “smag” nie maar net ‘n vae hoop en ‘n desperate wens is nie. Nee, dit is gebaseer op die sekerheid dat Yahweh sy swaarkry tot ‘n einde sal bring en daarmee sy volmaakte plan sal uitvoer en sy werk wat op ons redding uitloop, sal volbring. Daarom voeg hy by in die volgende vers (vers 83): “(Al veroorsaak my swaarkry dat) ek word soos ‘n leersak in die rook, sal ek u insettinge nie vergeet nie.” In wese is dit dieselfde oortuiging wat Shaúl in 2 Kor 4:8-9 uitgespreek het: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”

Dis opvallend dat daar net vier keer ‘n vraag gevra word in Psalm 119 en dat drie van hierdie vier vrae in die “kaf” oktaaf voorkom: “Wanneer sal U my vertroos?” (vers 82); “Hoeveel sal die dae van u kneg wees?” (vers 84 – die skrywer bedoel waarskynlik: Hoeveel dae sal ek nog so swaarkry?) en “Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers?” (vers 84, bedoelende: Wanneer sal U afreken met hulle wat my skade aandoen?). Wanneer ‘n mens baie swaar kry en voel of jy platgeslaan is teen die grond, is dit baie tipies om allerhande vrae te begin vra. Wanneer gaan dit ophou? Waarom moet ek so swaar kry? Wat is dan met my verkeerd? Om antwoorde op sulke vrae te kry, is nie eenvoudig nie. Meeste van hierdie vrae KAN ‘n mens eenvoudig nie beantwoord nie en op die lange duur help dit ‘n mens nie om by sulke vrae te bly vassteek nie. Die skrywer van Psalm 119 het ‘n keuse gemaak: Al kry hy swaar en al weet hy nie hoe lank dit nog gaan aanhou nie en al verstaan hy nie wat presies met hom gebeur nie, gaan hy nie omdraai en wegloop van die Woord van Yahweh nie. Dit verklaar hy onder meer in vers 87: “Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ek het u bevele nie verlaat nie.” Waarom het hy só ‘n besluit geneem? Omdat hy ontdek het: As jy vrae in jou hart het en nie die antwoord op daardie vrae kan vind nie, is daar net één ding om te doen – en dit is om te bly by, of terug te keer na die waarheid waaraan jy kan vashou en niemand van jou kan wegneem nie. “Al u gebooie is waarheid”, sê hy in vers 86, en dis hierdie waarheid wat hy gekies het as sy skuilplek en as sy vertroosting. Niks anders kan die plek daarvan inneem nie.

Daar is twee maniere om die letter “kaf” in Hebreeus te skryf. As die letter aan die begin of in die middel van ‘n woord staan, word dit geskryf soos wat hierbo beskryf is: In die vorm van ‘n holte of ‘n mens wat ‘n geboë houding inneem. As die letter “kaf” egter aan die einde van ‘n woord voorkom, word dit nie so geskryf nie. kaf2Dan lyk die letter soos ‘n mens wat voorheen ‘n geboë houding ingeneem het, maar wat nou opgestaan het en ‘n regop, oorwinnende houding inneem. Op ‘n manier is dit simbolies daarvan dat ‘n situasie wat aan die begin baie smart en pyn en swaarkry meegebring het, op die ou end kan uitloop op ‘n groot deurbraak, en selfs ‘n magtige oorwinning. Dieselfde mens wat aanvanklik noodgedwonge ‘n geboë houding moes inneem omdat daar soveel magte was wat hom of haar teen die grond vasgedruk het, kan teen die einde opstaan, kop omhoog, omdat daar iets gebeur het (of selfs net ‘n waarheid deurgebreek het) wat ‘n totaal ander perspektief op daardie situasie gebring het.

‘n Mens word herinner aan die woorde van Mieshleh (Spreuke) 14:18: “Die eenvoudiges ontvang sotheid as ‘n erfenis, maar die skranderes word met kennis gekroon.” Die Hebreeuse woord vir kroon is “keter”, afgelei van “katar” wat beteken “omring, omvou en bekroon.” Die kennis waarmee die wyses en die regverdiges veral bekroon word, is die kennis dat al loop dinge skeef en al kry ‘n mens die wind van voor, sal hulle uiteindelik beloon en vergoed word – uiteindelik sal die regverdige regop kan staan en die kroon van die lewe ontvang. Geen wonder nie dat die Yehudiem gereeld daarop sinspeel dat die elfde letter “kaf” eintlik simbolies is van die kroon (“keter” wat met ‘n “kaf” begin en ook lyk soos ‘n kroon) wat diegene sal ontvang wat aan die Torah gehoorsaam is. Die Torah word saamgevat in die Tien Woorde of die Tien Gebooie – daarom spreek dit vir hulle vanself dat die elfde letter hierdie betekenis sal dra. Die Yehudiem glo dat daar vier krone is wat Yahweh aan sy volk gegee het: Die kroon van priesterskap; die kroon van koningskap; die kroon van die Torah en die kroon van ‘n goeie naam.

Weens sonde en ongehoorsaamheid, so redeneer baie Yehudiem vandag nog, is die krone van priesterskap en koningskap (tydelik) weggeneem. Maar die kroon van die Torah en die kroon van ‘n goeie naam (wat alleenlik vir die wyses en die regverdiges beskore is) is nog steeds van krag. Daarom is dit vir ons van uiterste belang om ag te slaan op die manier hoe ons lewe en te let op ons woorde, dade en gesindhede – veral in daardie tye as ons voel soos hier in Psalm 119 beskryf word: platgeslaan en gebukkend onder allerhande vorme van swaarkry in hierdie wêreld. Laat ons nie vergeet van Y’shua wat eers ‘n doringkroon gedra het en later in Openbaring met ‘n goue kroon op sy hoof en ‘n skerp sekel in sy hand gesien word nie. Laat ons nooit nie, veral nie wanneer ons swaarkry, vergeet van die kroon van geregtigheid wat vir ons weggelê is nie (2 Tim 4:8). Laat ons nooit vergeet van die kroon van die lewe wat diegene sal ontvang wat die toets deurstaan het nie (Jak 1:12). Laat ons nooit vergeet van die onverwelklike kroon van voortreflikheid wat elke erfgenaam uiteindelik van Yahweh sal ontvang nie (1 Pet 5:4). Om platgeslaan te wees is nog lank nie die einde nie. Dis juis omdat ons iets van die einde weet dat ons die terugslae wat nou oor ons pad kom, kan hanteer. Laat ons egter nie kop verloor en die een ding wat die einde vir ons vol belofte maak, oorboord gooi nie. Deur sy Gees staan Yahweh gereed om ons dag vir dag deur hierdie proses te begelei.

No tags for this post.

Have something to say?

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »